Les 7 *9 tot 15 November
Onse God wat vergewe
Sabbatmiddag
Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 9:1–3; Daniël 9:4–19; Nehemía 9:4–8; Kolossense 1:16, 17; Nehemía 9:9–38;
Romeine 5:6–8.
Geheueteks:
“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat
staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).
Nadat die huttefees (Sukkot) verby was, het die leiers weer die volk laat
vergader. Hulle het so pas feesgevier; nou het die tyd gekom om hulle
onvoltooide belydenis en berou vir hulle sondes voor God te voltooi.
Ja, vroeër het die leiers aan hulle gesê om op te hou treur en hartseer
wees oor hulle sondes, maar dit beteken nie dat om te treur en te bely
nie belangrik is nie. Daarom, nadat hulle feesgevier het, het die tyd aangebreek om hulle
sondes behoorlik te bely.
Die volgorde van die gebeure hier beteken nie noodwendig dat dit altyd die volgorde vir
feesviering en belydenis moet wees nie; ewemin ook dat die omgekeerde hiervan gevolg
moet word nie. Alhoewel ons van nature eers belydenis doen en dan feesvier, moet ons
miskien God se teenwoordigheid in ons lewens eerste vier. Romeine 2:4 sê aan ons dat dit
die “goedertierenheid van God” is wat ons tot berou bring. Sy “goedertierenheid” behoort
dan lofprysing en feesviering in ons uit te lok terwyl dit ons ook daaraan herinner dat ons
deur God vergewe, gereinig en herskep moet word.
*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 16 November.
Sondag 10 November
Om te vas en te bid
Lees Nehemía 9:1–3. Hoekom het die volk hulle van alle uitlanders afgesonder?
Alhoewel Nehemía gretig was om seker te maak dat die volk hierdie tyd met blydskap moet
assosieer, het hy nou die vergadering gelei om te vas. Hulle het hulself verneder voor God
en hulle hoofde met grond bedek terwyl hulle rouklere gedra het. Omdat die uitlanders
nie aan die gemeenskaplike sondes van die volk van Israel deel gehad het nie, het die volk
hulself van die vreemdelinge afgesonder, want die Hebreërs het geweet dat dit hulle eie
sondes was wat vergewe moes word. Hulle het erken dat dit hulle eie nasie se sondes was
wat hulle ballingskap veroorsaak het. Hulle gemeenskaplike gebede en belydenis het ‘n
diep begrip van die aard van hulle sonde aangedui. Die Israeliete kon kwaad gewees het
omdat hulle voorgangers verbrou het en hulle hele nasie in ballingskap laat wegvoer het.
Of, hulle kon tyd gemors het deur te kla oor die keuses wat hulle leiers gemaak het en oor
die vorige geslagte se gebrek aan vroomheid wat die bestaande situasie tot gevolg gehad
het – ‘n klein groepie wat ná die ballingskap, teruggekeer het. Maar, in plaas daarvan om
haat en griewe te koester, het hulle nederig na God gekom en hulle sondes bely.
Nehemía 9:3 meld dat die volk uit die wetboek vir ‘n vierde deel van die dag gelees het, en
gedurende nog ‘n vierde deel hulle sondes bely en God aanbid het. Hierdie was die derde
lesing van die Tora. Om die Tora te lees, vorm deel van die belydenis omdat dit op waarheid
wat van God kom, gegrond is. Deur die Bybel te lees, nader God tot ons, en die Heilige
Gees kan dan met ons praat en ons leer. Die waarheid van sy Woord vorm ons denke en
begrip, bemoedig ons en hef ons op. Die Israeliete het ook getreur en geween, want deur
tyd saam met God in sy heilige teenwoordigheid deur te bring, word ons van sy skoonheid
en goedheid bewus terwyl dit ons beïndruk hoe verbasend dit is dat die Skepper van die
heelal kies om saam met ons te wees, ten spyte van ons onwaardigheid. Daarom besef ons
dat sonder God in ons lewens daar geen verskil tussen ons en ons geestelike voorgangers in
die geloof is nie. Net deur God se werking in ons kan ons wees wat ons behoort te wees.
Lees Daniël 9:4–19. Op watter maniere is sy gebed op ons van toepassing vandag?
Wat behoort die werklikheid van hierdie toepassing aan elkeen van ons en as ‘n
kerk te sê?
Maandag 11 November
Die aanhef van die gebed
Die volk se antwoord op die lees van die Bybel was ‘n lang gebed wat die goedheid van God
in teenstelling met die geskiedenis van Israel se ontrouheid, herroep het. Dit kom voor of
die antwoord meer ‘n preek as ‘n gebed was, want omtrent elke vers stem ooreen met iets
anders êrens in die Bybel.
Lees Nehemía 9:5–9. Wat is die hoofonderwerpe waarop daar in die beginverse van
die gebed gefokus word, en hoekom word daar op hierdie onderwerpe gefokus?
In die eerste deel van die gebed het die volk God geseën, en meer spesifiek sy Naam. In
die Hebreeuse kultuur het ‘n naam aan iemand identiteit gegee. Daarom was dit belangrik
om God se naam te loof, want dit het aan die wêreld gedemonstreer dat hierdie naam lof
en eerbied waardig is. Dit is die naam van die Skepper van die heelal. Die gebed begin
deur God te aanbid as die Skepper en as die Een wat alles “in stand” hou (Nehemía 9:6,
sien ook Kolossense 1:16, 17). Die Hebreeuse werkwoord vir “in stand” beteken om alles
“aan die lewe” te hou. Die Een wat alles geskep het, is die Een wat Abraham gekies het, ‘n
mens wat nie enigsins spesiaal was behalwe dat sy “hart getrou” bevind was nie. Dit mag
dalk verskeie kere gelyk het of Abraham geloof kortgekom het, maar toe hy gevra was om
sy seun te offer, het hy nie geaarsel nie (sien Génesis 22). Hy het geleer om getrou te wees
– nie oornag nie, maar oor baie jare terwyl hy met God gewandel het. In Hebreeuse denke
verwys die woord “hart” na die denke. Met ander woorde, Abraham het getrouheid in sy
denke en optrede ontwikkel, en God het hom erkenning daarvoor gegee.
Die eerste paar frases van die gebed fokus op God as (1) Skepper, (2) Bewaarder, en (3)
Iemand wat sy beloftes nakom. Die volk het hulleself eers herinner aan wie God is: Hy is
die Getroue wat ons geskep het. Deur dit in gedagte te hou, gee dit aan ons perspektief om
te leer om Hom te vertrou selfs in die moeilikste situasies wanneer dit voorkom asof Hy ver
van ons af, en onbekommerd is oor ons uitdagings.
Hoekom vorm die leerstelling oor God ons Skepper die middelpunt van ons
geloof? Per slot van rekening, watter ander leerstelling is so belangrik soos
hierdie een waar ons deur God beveel word om een-sewende van ons lewe elke
week deur te bring om Hom as ons Skepper te onthou?
Dinsdag 12 November
Lesse uit die verlede
Nehemía 9:9–22. Hoe verskil hierdie gedeelte van die eerste deel van die gebed?
Die gebed verander van lofprysinge teenoor God vir sy getrouheid aan die Israeliete, na
herroeping van die kontrasterende ontrouheid van die Israeliete gedurende hulle Egiptiese
en wildernisondervindinge. Dit skets al die verskillende dinge wat God aan die Israeliete
gegee het; maar ongelukkig was die “vaders” se reaksie met trots gevul, en was hulle
hardnekkig en vol minagting vir God se genadige handelinge met hulle.
Die erkenning van menslike mislukking en ‘n tekort aan ware toewyding aan God is
belangrike stappe in die belydenis- en bekeringsprosesse. En al verwys hierdie verse na
mense wat lank voor ons geleef het, kan niemand ontken dat elkeen van ons probleme met
dieselfde vraagstukke ondervind nie.
Natuurlik is dit hier waar die evangelie ons tegemoetkom, en ook vir hulle tegemoetgekom
het. Om ons sondes te bely, red ons nie; alleenlik Christus se offer namens ons, doen
dit. Belydenis saam met bekering is die kern van ons erkenning dat ons deur Christus
alleen geregverdig kan word. “Wanneer ons deur berou en geloof Christus as ons Verlosser
aanvaar, vergewe die Here ons sondes en ontvang ons kwytskelding vir die oortreding van
die wet. Die sondaar staan dan voor God as ‘n regverdige; hy word deur die hemel aanvaar
en het dan met die Vader en die Seun, deur die Heilige Gees, gemeenskap.” — Ellen G.
White, Selected Messages, boek 3, bl. 191, (vry vertaal).
Terselfdertyd, omdat Sy goedheid ons daartoe dring om ons sondes te bely en berou daaroor
te hê, moet ons vasbeslote wees om deur God se krag dit ook te versaak. Die waarheid is dat
Israel hardkoppig en God liefdevol was. Deur terug te kyk na wat God vir die Israelitiese
nasie gedoen het, het dit die volk daaraan herinner dat, omdat God so baie vir hulle in die
verlede gedoen het, Hy sal aanhou om na hulle nou en in die toekoms om te sien. Dit
was hoekom dit so belangrik vir die volk was om te onthou hoe God in hulle geskiedenis
opgetree het. Wanneer hulle vergeet het, dan het hulle probleme opgetel.
Dink terug aan die tye toe jy oortuig was dat God in jou lewe gelei het. Hoe kan
jy daardeur vertroos word wanneer jy volgende keer weer probleme ondervind?
Hoe kan jy meer leer om op die goedheid van God te vertrou wanneer jy met tye
heeltemal mismoedig en in die steek gelaat voel, en vir die toekoms bevrees is?
Woensdag 13 November
Die wet en die profete
Lees Nehemía 9:23–31. Hoe word die Israeliete se optrede met God se “grote goedheid”
vergelyk (Nehemía 9:25, 26)?
Hierdie volgende gedeelte van die gebed (preek) fokus op die lewe in Kanaän nadat die
Israeliete besit van die land wat God aan hulle gegee het, geneem het. Hulle het grond,
stede, wingerde en landbougrond wat gereed was om gebruik te word, ontvang, maar hulle
het dit alles as vanselfsprekend aanvaar. Aan die einde van vers 25 word ons vertel, “hulle
het geëet en versadig en vet geword”. Om vet te word is ‘n uitdrukking wat net ‘n paar keer
in die Bybel gevind word (Deuteronómium 32:15 en Jeremia 5:28), en elke keer het dit ‘n
negatiewe konnotasie.
Die volk kon hulleself in God se “grote goedheid” verheug het, maar in plaas daarvan het
hulle hul in wat hulle besit het, verbly. Blykbaar, deur alles te besit, word ‘n persoonlike
verhouding met God makliker verbeur. Ons dink baiekeer, “as ek maar net hierdie of
daardie kan kry, dan sal ek gelukkig wees.” Ons sien dat toe die Israeliete alles van God
ontvang het, hulle “geluk” in alles wat hulle van God ontvang het ongelukkig net minder
toewyding aan Hom tot gevolg gehad. Te veel kere is dit vir ons te maklik om op die gawes
te fokus terwyl ons die Gewer vergeet. Hierdie is ‘n dodelike misleiding.
Natuurlik beteken dit nie dat ons nie gelukkig moet wees oor die dinge wat God aan ons gee
nie. Hy wil hê dat ons ons in Sy gawes moet verheug, maar die vreugde in die dinge wat
Hy gee, waarborg nie ‘n verhouding met Hom nie. Feit is, indien ons nie versigtig is nie,
kan hierdie gawes ‘n struikelblok vir ons word. Nietemin, in hierdie hoofstuk, het die leiers
bely hoe hulle aan God ontrou was. Terwyl hulle die geskiedenis nagegaan het, het hulle
spesifieke oortredings wat hulle as ‘n nasie begaan het, herroep. ‘n Paar aspekte is hier van
belang omdat dit herhaal word: (1) Israel het “u wet agter hulle rug gewerp”, en (2) hulle
het die profete gedood.
Met ander woorde, hulle het besef dat God se wet en Sy profete uiters belangrik vir hulle
ontwikkeling as ‘n Goddelike nasie en as individue was. Die gebed beklemtoon hierdie
slotsom deur te verklaar dat “’n mens dit moet doen, dat hy daardeur kan lewe” (Nehemía
9:29; direkte aanhaling van Levítikus 18:5), en deur te beklemtoon dat dit die Gees is
wat deur die profete gepraat het. God het aan ons Sy gebooie gegee sodat ons ‘n lewe in
oorvloed kan geniet, en Hy het sy profete gestuur om ons in ons begrip van die waarheid te
lei. Wat ons met hierdie gawes doen, is die wesenlike vraag aan ons almal.
Donderdag 14 November
Lof en smeekbede
Lees Nehemía 9:32–38. Waarop word daar in hierdie belydenisgebed gefokus, m.a.w.,
tot watter gevolgtrekking het hulle wat bid, gekom?
Weer word daar in die gebed lof aan God gebring vir wie Hy is: groot, magtig en gedug,
wat die verbond en goedertierenheid hou. Dit kom voor asof die wat bid, opreg in hulle
erkenning van God se goedertierenheid teenoor hulle is. Hulle smeekbede sluit ook ‘n
verbond met God in wat in meer besonderhede in hoofstuk 10 beskryf word. Waaroor gaan
hulle smeekbede?
“Onse God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou,
laat dan nou al die moeilikheid nie gering wees voor u aangesig nie wat ons … oorgekom
het … ” (Nehemía 9:32). Die gemeenskap moet hulde aan die konings wat oor hulle heers,
bring. Verdrukking van oral pla die klein groepie Israeliete, en hulle is moeg daarvoor.
Hulle moes een na die ander geweldenary verduur, en het op begenadiging gehoop.
Dis interessant om te lees dat hulle hulself “slawe” noem. Nadat hulle die ongeloof van hulle
nasie beskryf het, sluit hulle af deur na hulleself met hierdie woord te verwys. Diensknegte
gehoorsaam natuurlik hulle oorheersers. Die gebruik van hierdie term impliseer dat hulle
besef hulle die Here moet gehoorsaam op maniere wat hulle voorgangers dit nie gedoen het
nie. Dit is ‘n uitdrukking van hulle begeerte om getrou aan die Here en Sy gebooie te wees.
En as slawe van God, vra hulle Hom om vir hulle in te tree.
Die gemeenskap van Esra en Nehemía beskryf hulle ondervinding op daardie stadium as
“ ’n groot benoudheid” (Nehemía 9:37), wat met die beproewings wat Israel in Egipte
ondervind het, vergelyk kan word (Nehemía 9:9). In hulle gebed loof hulle God omdat Hy
hulle swaarkry in Egipte raakgesien het. Die gemeenskap vra nou vir God om in te gryp net
soos Hy in die verlede gedoen het, al verdien hulle dit nie, want niemand – konings, prinse,
priesters of profete, of vaders — was getrou nie. Daarom steun hulle op God se genade en
barmhartigheid teenoor hulle, en nie op hulleself of op hulle voorgeslagte se werke nie, met
die hoop dat die Here vir hulle sal intree.
Lees Romeine 5:6–8. Hoe weerspieël hierdie verse dit wat die groepie Israeliete
vir God gevra het? Watter vertroosting kan ons uit wat die Israeliete gevra het, en
wat Paulus in Romeine sê, kry?
Vrydag 15 November
Vir verdere studie:
Lees Ellen G. White, “Confession,” bl. 37–41, in Skrede na Christus. In Nehemía 9:25, het
die Hebreërs genoem hoe hulle voorgeslagte hulle “verlustig” (NV) het in God se goedheid
(die Ou Vertaling gebruik die woorde “weelderig gelewe” het). Die woord “verlustig”
kom van dieselfde stamwoord as wat die woord “Eden” kom, soos in die “tuin van Eden”
(Génesis 2:15). Miskien sou die beste vertaling gewees het, hulle voorgeslagte het “geedeniseer”, maar daar bestaan nie so ‘n werkwoord vir “Eden” nie. Die evangelieboodskap
gaan per slot van rekening oor herstel, en watter beter simbool as Eden kan dit waartoe
ons uiteindelik herstel sal word, beskryf? God het die Hebreeuse volk geroep en hulle by
die kruispaaie van die antieke wêreld gebring om die naaste weerspieëling van Eden in ‘n
gevalle wêreld te skep. Selfs na die terugkeer uit ballingskap, was dit nog ‘n moontlikheid.
“Want die Here vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos
Eden …” (Jesaja 51:3).
Ja, die volk het die materiële seëninge wat die Here aan hulle belowe het, geniet, seëninge
wat, hoe groot dit ook al in ‘n gevalle wêreld kon wees, ‘n herinnering aan die oorvloed
in Eden moes wees. En dit was reg so. Hulle was veronderstel om dit te geniet het. God
het die fisiese wêreld spesifiek so geskep sodat die mens dit kon geniet, en antieke Israel,
die geseëndes van God, het dit so geniet. Hulle sonde was nie omdat hulle hul in God
se grote goedheid “ge-edeniseer” het nie, maar omdat hulle die Here se goedheid vergeet
het (Esegiël 23:35). Die seëninge het ‘n doel opsigself geword in plaas daarvan dat die
seëninge gebruik moes word om God aan die mense rondom hulle te openbaar.
Vrae vir bespreking:
1. Jesus het gesê, “En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor,
maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die
woord, en hy word onvrugbaar” (Matthéüs 13:22). Wat word met “die verleiding
van rykdom” bedoel, en hoe stem dit met die belydenisgebed wat ons hierdie week
bestudeer het, ooreen?
2. Dink weer na aan die Skeppingsleerstelling. Let in die gebed van Nehemía 9 op
dat hulle amper onmiddellik oor die Here as Skepper en Versorger gepraat het.
Wat sê dit aan ons oor hoe hierdie leerstelling die grondslag van ons geloof moet
vorm?
3. Hoe kan ons die regte balans handhaaf deur te erken dat ons inherent sondig
is en tog, terselfdertyd, die Satan nie toelaat om ons sondigheid te gebruik op
maniere wat ons mismoedig kan maak, en kan veroorsaak dat ons ons geloof
heeltemal versaak nie?