Die lees van die Woord

Les 6 *2 tot 8 November
Die lees van die Woord

Sabbatmiddag

Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 8:1–8, Deuteronómium 31:9–13, Matthéüs 17:5, Handelinge 8:26–38, Nehemía
8:9–12, Levítikus 23:39–43.

Geheueteks:
“En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat
hulle verstaan het wat voorgelees is.” (Nehemía 8:9).

Die muur van Jerusalem was klaar gebou. Met die installering van die deure
in die poorte het die Israeliete onder die leierskap van Nehemía die hooftaak
voltooi. Toe die muur klaar gebou was, was die omliggende nasies bevrees
en het hulle erken dat dit “deur . . . God gedoen is” (Nehemía 6:16). Die
vyande het besef dat die God van Israel ‘n werklikheid was, want, ten spyte
van die ongelooflike teenstand en haat wat die Israeliete ondervind het, het hulle nogtans
die werk wat hulle begin het, voltooi.

Na die voltooiing van die muur het Nehemía sy broer Hanáni en die owerste van die
vesting, Hanánja, oor Jerusalem aangestel. Beide hierdie manne was manne van integriteit,
getrou en godvresend (Nehemía 7:2), en was nie volgens herkoms gekies nie. Die muur
was gedurende die maand Elul (sesde maand; Nehemía 6:15) voltooi.
Wat sou volgende op die agenda wees? Die volgende hoofstukke van Nehemía (Nehemía
8–10) beskryf ‘n belangrike reeks gebeure wat in die maand Tishri, die sewende maand
(Nehemía 8:2) plaasgevind het. In hierdie verse sien ons voorbeelde van hoe die kinders
van Israel vasbeslote was om die Woord van God te gehoorsaam, en hoe hulle hul daarin
verheug het.

*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 9 November.

Sondag 3 November
Die volk vergader

Lees Nehemía 8:1, 2. Wat vertel hierdie verse ons oor hoe belangrik die Woord van
God vir die volk was?

Toe die Jode uiteindelik die muur voltooi het en in Jerusalem gaan woon het, het hulle in
die sewende maand op die stadsplein vergader. Die sewende maand, die maand Tishri,
was dalk die belangrikste maand vir die Israeliete omdat daar aan die begin van die maand
met basuingeklank ‘n fees aangekondig was (voorbereiding vir God se oordeel, eerste dag
van die maand), gevolg deur die versoendag (oordeelsdag, 10de van die maand), en die
huttefees (herinnering aan die bevryding uit Egipte en Sy voorsiening vir die reis deur die
wildernis, 15de dag van die maand). Hierdie vergadering op die plein het op die eerste dag
van die maand met basuingeklank plaasgevind. Die leiers het die manne en vroue van die
volk vir hierdie spesiale samekoms saamgeroep om, deur die lees van die wet, aan hulle ‘n
geleentheid te bied om meer oor hulle God en van hulle geskiedenis te leer.

Die volk het Esra genooi om die boek van die Wet van Moses te bring en dit vir hulle te lees.
Hulle het selfs ‘n houtverhoog, ‘n podium, vir die geleentheid opgerig. Dit was nie deur die
leiers op hulle afgedwing nie. Inteendeel, “hulle”, die volk self, het vir Esra gevra om die
boek te bring. Esra het heel waarskynlik vir die volk uit die boeke gelees wat Moses geskryf
het, wat die wet wat aan hom op Sinai gegee was, ingesluit het.

Lees Deuteronómium 31:9–13. Wat het die Here aan hulle gesê, en watter lesse kan
ons daaruit vir onsself neem?

In Deuteronómium 31:9–13, het Moses aan die Israeliete gesê dat hulle gedurende die
huttefees bymekaar moes kom om saam die wet van God te lees, en dit noem die verskeie
groepe wat saam moes kom: manne, vroue, kinders en vreemdelinge wat binne die poorte
gewoon het.

‘n Letterlike vertolking van Nehemía 8:1 sê dat hulle “soos een man”
bymekaargekom het. Wat sê dit aan ons oor die belangrikheid van eenheid onder
die liggaam van gelowiges?

Maandag 4 November
Die lees en die aanhoor van die wet

Esra “het die wet voor die vergadering gebring” om dit te lees. Wat het hy vir hulle gelees?
Net die Tien Gebooie oor en oor vir helfte van die dag? Die verwysing na die wetboek moet
verstaan word as die vyf boeke van Moses wat Génesis tot Deuteronómium insluit, en wat
ook in Hebreeus as die Tora bekend staan. Die term “wet” dek dus net ‘n gedeelte van wat
daar gelees was; ‘n beter vertaling sou “instruksies” wees. Dit is God se instruksies wat
ons in staat stel om te weet watter pad ons moet loop sodat ons die doel wat Hy vir ons het,
kan bereik. Toe Esra gelees het, het die volk hulle geskiedenis as God se volk gehoor, vanaf
die Skepping tot en met Joshua. Die stories, liedere, gedigte, seëninge en wette het hulle
aan hulle stryd om God te volg, herinner, en ook aan God se getrouheid teenoor hulle. Die
Tora sluit die “wet” in, maar nog meer as dit, dit sluit die geskiedenis van God se volk in en
openbaar veral hoe God hulle gelei het. Dit het dus aan die gemeenskap hulle oorsprong
verduidelik, en identiteit aan hulle gegee.

Lees Nehemía 8:3; Deuteronómium 4:1; 6:3, 4; Joshua 1:9; Psalm 1:2; Spreuke 19:20;
Eségiël 37:4; en Matthéüs 17:5. Wat leer hierdie verse ons oor ons wisselwerking met
die Woord van God?

Die rede vir die volk se begeerte om die Woord van God te hoor, was hoogs waarskynlik die
gevolg van Esra se voorlesing en onderrig van die Woord sedert sy aankoms in Jerusalem
sowat 13 jare tevore. Hy was aan God se werk toegewyd en was vasbeslote om ‘n verskil
te maak. Die Woord van God het ‘n werklikheid vir die volk geword terwyl hulle na Esra
geluister het. Die gevolg was dat hulle bewustelik besluit het om te luister omdat hulle
belanggestel het om meer van God te hoor. Daarom het hulle tydens hierdie geleentheid
met eerbied na die Tora geluister, met ‘n begeerte om meer te leer. Deur ons met die Woord
te deurdrenk, wek ons ‘n dieper smagting na God in ons lewens op.

Hoe is jy met die Woord van God verbind? Met ander woorde, al maak jy
aanspraak daarop dat jy dit glo, hoe word daardie aanspraak ‘n werklikheid in
jou lewe met betrekking tot hoe jy poog om gehoorsaam te wees aan wat dit jou
leer? Hoe anders sou jy geleef het indien jy nie aan die Bybel gehoorsaam sou
wees nie?

Dinsdag 5 November
Die lees en uitleg van die Woord

Lees Nehemía 8:4–8. Hoe was die wet gelees?

Daar was twee groepe van 13 mans elk wat saam met Esra gedurende die lees van die
Woord gestaan het. Die eerste groep van 13 (Nehemía 8:5) het gehelp om die Woord van
God te lees, en die tweede groep van 13 (Nehemía 8:8) het gehelp om die Skrifgedeeltes te
verklaar. Ons het geen inligting oor hoe hierdie reëling op oop vierkant (die plein) gewerk
het nie; maar, die manne wat gehelp lees het, het waarskynlik die Tora help vashou (die
Hebreeuse perkamentrolle was swaar en ander mense moes gehelp het om dit oop te rol
en tegelykertyd ook beurtelings van die rol af te lees). Omdat hulle van die oggend tot die
middag gelees het, het hulle dit so georganiseer dat almal op die plein bereik kon word.
Die frase “dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is” (Nehemía 8:9) kan òf na
die uitlegging òf na die vertaling van die skrifgedeeltes verwys. Beide is in hierdie geval
moontlik. Die volk het vanaf Babilon teruggekeer waar hulle vir baie jare geleef het, en die
hooftaal daar was Aramees. Daarom was dit waarskynlik nie so maklik om te verstaan wat
daar gelees was nie, veral vir die jonger geslagte. Terselfdertyd kan lesers van die Bybel
ook baatvind by skrifuitleg of kommentaarlewering. Prediking en uitleg maak die teks
lewend en spoor die luisteraars aan om die inligting op hulleself toe te pas.

Lees Handelinge 8:26–38. Wat het hier gebeur wat ooreenstem met wat in Jerusalem
volgens die verse hierbo, gebeur het? Watter lesse kan ons daaruit leer?

As Protestante verstaan ons dat elke gelowige die Woord van God self moet verstaan, en
dat ons, afgesien van hulle outoriteit op die gebied, nie iemand anders se verduideliking van
Bybelse waarheid blindelings moet aanvaar nie. Terselfdertyd, wie van ons het nie al deur
iemand se verduideliking van die Skrif nie ‘n seën ontvang nie? Elkeen van ons het nodig
om self te weet wat ons glo, maar dit beteken nie dat ons nie soms deur die onderrig van
andere verryk kan word nie.

Woensdag 6 November
Die volk se antwoord

Toe Esra die Woord, die Hebreeuse Tora, gelees het, het die volk gestaan. Voordat Esra
gelees het, het hy God eers geloof. Nadat hy gelees het, het die hele volk met die opheffing
van hulle hande geantwoord, “Amen, amen!” (Neh. 8:6, 7). Hulle het toe “hul gebuig en
die Here aanbid met die aangesig na die aarde toe”.

Lees Nehemía 8:10–12. Waarom het die leiers vir die volk gesê, “treur nie en ween
nie”?

“So, toe die wet van God in Jerusalem later aan die bannelinge wat uit Babilon teruggekeer
het, gelees was, en die volk geween het oor hulle oortredinge, was die volgende woorde
goedgunstiglik aan hulle toegevoeg: “ ‘Treur nie…. Gaan, eet lekker spys en drink soet
dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse
Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here – dit is julle beskutting.’”
Nehemía 8:10, 11.” — Ellen G. White, The Ministry of Healing, bl. 281, (vry vertaal).

Toe die volk die woorde van God gehoor het, was hulle diep deur hulle sondigheid geraak,
en het begin ween. Wanneer God Homself aan ons openbaar en ons begin begryp dat Hy vol
liefde, goedheid, genade en getrouheid is, word ons meer bewus van ons eie tekortkominge
en dat ons misluk het om te wees wat ons behoort te wees. Deur God se heiligheid in Sy
Woord raak te sien, veroorsaak dit dat ons van ons eie afskuwelikheid bewus raak. Hierdie
gewaarwording het veroorsaak dat die volk van Israel gehuil en getreur het, maar hulle
was nie bedoel om te ween nie, “want die blydskap in die Here – dit is julle beskutting”
(Nehemía 8:11). Met ander woorde, ten spyte van hulle mislukkings, kon hulle nogtans op
die krag van God vertrou.

Hierdie was ‘n spesiale dag, ‘n heilige dag, die fees wat met basuingeklank gehou was (Rosh
Hashanah), wanneer daar kort en kragtig op die trompette geblaas was om die belangrikheid
van “hart”-voorbereiding vir die Here se oordeel (die versoendag wat op die 10de dag van
die maand Tishri gevier was), aan te kondig. Die blaas van die basuine of trompette was die
aangekondiging om berouvol voor God te staan. Omdat die dag bedoel was om die volk te
herinner om tot God terug te keer, was die gehuil en geween verstaanbaar. Maar die leiers
het hulle herinner dat nadat hulle hul tot God bekeer het, Hy hulle gehoor het, en daarom
moes hulle hul in God se vergifnis verheug.

Wat behoort dit aan ons te sê oor hoe sleg sonde is wat veroorsaak het dat Jesus
se kruisdood die enigste manier was om die sondeprobleem op te los, en aan ons
hoop te gee?

Donderdag 7 November
Blydskap in die Here

Die frase, “blydskap in die Here – dit is julle beskutting” (Nehemia 8:11), herinner ons
daaraan dat dit God se wil is dat ons bly moet wees en die lewe moet geniet. Veel meer, dit
is nie sommer enige blydskap nie, maar die blydskap wat jy ondervind omdat jy God en die
werklikheid van Sy liefde, ken. Om jouself in God te verheug, in Sy goedheid, en om bly te
wees oor alles wat Hy vir ons voorsien het, is iets waarna ons moet strewe om elke dag te
doen. Bowendien, om jou in God te verbly, gee jou die krag om kans te sien om alles wat
oor jou pad kom, te hanteer.

Lees Nehemía 8:14–19. Wat het hier gebeur, en wat vertel dit ons van die volk en hulle
leiers van daardie tyd?

Die volgende dag het die leiers van die volk na Esra gekom om meer van God se Boek te
leer. Hierdie handeling deur die leiers het hulle begeerte om die gemeenskap nader na God
te lei, aangedui. Hulle het verstaan dat om die volk in die regte weg te lei, nie sou gebeur
indien hulleself nie na God sou soek en na kennis oor Hom sou vra nie.

Lees Levítikus 23:40–44. Watter opdrag was aan die Israeliete gegee, en waarom?

Let op dat in Nehemía 8:16 die teksvers na die feit verwys dat dit wat hulle gevra was om te
doen, is “soos [dit] geskrywe is”. Ons sien hier ‘n ander voorbeeld van hoe ernstig hulle was
om die Woord van God te gehoorsaam, omdat die dekades wat hulle in ballingskap was, die
ideale ondervinding was om hulle ‘n les te leer oor wat die gevolg van ongehoorsaamheid
is. Maar, volgens die verse in Levítikus, moes hulle “dit as fees van die Here sewe dae in
die jaar vier” (Levítikus 23:41). Met ander woorde, terwyl hulle God se handelinge van
barmhartigheid en genade en verlossing onthou het, moes die volk hulle verheug het in wat
die Here vir hulle gedoen het.

Dink na oor wat ons deur Jesus wat in al die feeste van antieke Israel gesimboliseer
word, ontvang het. Hoe kan ons leer om selfs gedurende moeilike en smartlike
beproewinge ons in die Here te verbly? Hoekom, veral in vandag se tyd, is dit vir
ons uiters belangrik om dit te doen?

Vrydag 8 November
Vir verdere studie:

Ellen G. White, “Instructed in the Law of God,” bl. 661–668, in Prophets and Kings. “Nou
moet hulle geloof in Sy beloftes toon. God het hulle berou oor hulle sondes aanvaar; nou
moes hulle hul in die versekering dat hulle sondes vergewe is, verheug, en in hulle herstel
tot Goddelike guns . . . . Elke ware terugkering na die Here bring blywende lewensvreugde.
Wanneer ‘n sondaar aan die invloed van die Heilige Gees oorgee, sien hy sy eie sondigheid
en besoedeling in teenstelling met die heiligheid van die groot Ondersoeker van harte. Hy
sien homself as ‘n veroordeelde oortreder. Maar hy moenie daardeur aan wanhoop oorgee
nie; want sy kwytskelding is reeds gewaarborg. Hy mag hom in die besef van sondes wat
vergewe is, verheug, in die liefde van ‘n genadige hemelse Vader. Dit is God se vreugde om
sondige, berouvolle mense in die arms van Sy liefde te omring, om hulle wonde te verbind,
om hulle van sonde te reinig, en om hulle met die kleed van geregtigheid te beklee.” —
Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 668, (vry vertaal).

Vrae vir bespreking:

1. Wat is die voorwaardes om “blydskap in die Here” (Nehemía 8:11) as jou
”beskutting” te ondervind? Dit wil sê, is daar iets wat ons moet doen om die krag
van God en Sy vergifnis in ons lewens, te ondervind? Indien daar is, wat is dit?

2. Hoe kan ons die regte balans tussen berou oor ons sondes en terselfdertyd
blydskap in die Here, vind? Is hierdie nie teenstrydig met mekaar nie? Hoe werk
die wet en die evangelie saam om die antwoord te verskaf? (Sien Romeine 3:20–25.)

3. Lees Nehemía 8:11, waar Nehemía vir die volk sê, “Gaan, eet lekker spys en
drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie, want hierdie
dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die
Here – dit is julle beskutting.” Wat leer hierdie ons oor hoe ons ons in die Here kan
verbly? Wat beteken die feit dat dit “heilig” is, in hierdie konteks?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *