Les 5 *26 Oktober–1 November
Om die bedoeling van die Wet te skend
Sabbatmiddag
Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 5:1–5; Exodus 21:2–7; Miga 6:8; Nehemía 5:7–12; Deuterenómium 23:21–
23; Nehemía 5:14–19.
Geheueteks:
“ ‘Gee dan vandag nog hulle lande, hulle wingerde, hulle olyfbome en hulle huise aan hulle
terug, en die honderdste deel van die geld en die koring, die mos en die olie wat julle aan
hulle geleen het.’ ” (Nehemía 5:11).
Die mensdom worstel vandag nog met rykdom, armoede, en die gaping
tussen ryk en arm en wat daaraan gedoen kan word. Jesus het ook gesê,
“Want die armes het julle altyd by julle” (Matthéüs 26:11), maar dis nie ‘n
verskoning om hulle glad nie te help nie. Inteendeel, die Skrif vermaan ons
dat ons ons deel moet doen om te help. Ons kan onsself skaars Christene
noem indien ons nie help nie. Dit is nogal verbasend dat hierdie tema weer kop uitsteek
te midde van die beproewinge en verdrukkinge van die bannelinge wat teruggekom het
om Jerusalem te herbou. En dis nie net ‘n armoede probleem nie, maar selfs ‘n meer
problematiese vraagstuk, naamlik die rykes wat die armes verdruk. Dit was ‘n probleem
voor die ballingskap, en nou dat hulle terug in hulle eie land is, word die probleem herhaal.
Hierdie week sien ons hoe hierdie eeue-oue onderwerp weer herhaal word, en hoe Nehemía
daaraan werk om dit op te los. Soos ons sal sien, wat hierdie verdrukking selfs nog
erger gemaak het, was dat dit volgens “die gebruik van die wet” gedoen was, ‘n kragtige
voorbeeld van hoe versigtig ons moet wees dat reëls en regulasies nie ‘n doelstelling op
hulle eie word nie, maar eerder ‘n middel tot ‘n doel, en dit is om die karakter van Jesus
te weerspieël.
*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 2 November.
Sondag 27 Oktober
Die volk se griewe
Lees Nehemía 5:1–5. Wat gebeur hier? Waarteen roep die volk uit?
Die Joodse gemeenskap het blykbaar onder Nehemía se leierskap teen die druk van
buite, verenig. Maar alles was nie pluis terwyl die volk weerstand teen die vervolging
gebied het en hulleself teen die buitelanders se aanvalle verdedig het nie. Ten spyte van
die uiterlike front van gehardheid en hulle verenigde pogings teen die vyand, was die
gemeenskap se onderlinge verhoudinge gebroke. Die leiers en die rykes het die armes en
minderbevoorregtes vir eie gewin gebruik, en die situasie het so versleg dat die gesinne om
hulp uitgeroep het. Sommige gesinne het gesê dat hulle geen kos gehad het om aan hulle
kinders te gee nie; sommige het uitgeroep dat, weens die droogte, hulle hul eiendomme
moes verpand en nou niks oorgehad het nie; ander gesinne het gekla dat hulle gedwing
was om geld te leen om die Persiese belastings te betaal, en dat hulle hul kinders selfs as
slawe moes laat werk. Die hoofoorsaak van die moeilikheid was blykbaar ‘n droogte en die
belastingpaaiemente wat gemaak het dat die armer gesinne by hulle bure moes gaan hulp
vra het. Die Persiese regering het vereis dat ‘n belasting van 350 talente silwer jaarliks aan
die provinsie van Juda betaal moes word (sien die verduideliking vir Nehemía 5:1–5 in
die Andrews Study Bible, bl. 598). Indien ‘n persoon die gespesifiseerde gedeelte van die
verpligte belasting nie kon betaal nie, sou die gesin gewoonlik eers hulle eiendom verpand
het, of geld geleen het. Indien hulle egter nie die volgende jaar genoeg geld kon verdien
nie, moes hulle ‘n plan maak om hulle skuld te vereffen. Gewoonlik was skuldslawerny die
volgende opsie. Hulle het reeds hulle land verloor, en nou was hulle verplig om een van
die gesinslede te stuur, gewoonlik een van die kinders, om vir die krediteur te gaan werk
om die skuld te betaal. Daar is tye wanneer ons onsself as gevolg van ons eie optrede of
handelinge in moeilike situasies bevind; natuurlik is daar tye wanneer ons sonder ons eie
toedoen siek word, of finansiële probleme ondervind. Die verhaal hierbo beskryf ‘n tyd toe
regeringsbeleid mense verontreg het, en dit het groot armoede veroorsaak. Die mense was
in ‘n draaikolk van verslegtende armoede vasgevang, en daar was geen uitkoms nie.
Dis nogal merkwaardig dat mense tóé onder ekonomiese verdrukking gebuk
gegaan het, en nou ook. Watter boodskap moet ons uit die feit kry dat hierdie
onderwerp dikwels deur die Bybel aangespreek word?
Maandag 28 Oktober
Teen die bedoeling van die Wet
Lees Nehemía 5:6–8 (sien ook Exodus 21:2–7). Waarom is Nehemía verontwaardig?
Slawerny was ‘n aanvaarde norm in die antieke beskawing, al is dit in ons dae moeilik
om te begryp. ‘n Ouer kon òf self ‘n slaaf geword het, òf hulle kind as slaaf verkoop het.
Dit was sosiaal en wetlik aanvaar dat ouers die reg gehad het om hulle seuns en dogters te
verkoop. Maar, omdat God ‘n voorstander van vryheid is, het Hy hierdie gewoonte in Israel
gereguleer deur te vereis dat krediteure hulle slawe elke sewe jaar moes vrystel. So het God
mense teen permanente slawerny beskerm en ook sy begeerte dat mense in vryheid moes
lewe, gedemonstreer.
Alhoewel die wet toegelaat het dat mense van mekaar kon leen, was die vra van rente nie
toegelaat nie (vir Bybelse regulasies teen woekerrente, sien Exodus 22:25–27; Levítikus
25:36, 37; Deuteronómium 23:19, 20). En tog was die rente wat die uitlener gevra het
min in vergelyking met wat die nasies rondom hulle gevra het. Die uitleenkoers was een
persent per maand. Mesopotamiese manuskripte van die sewende eeu toon dat die jaarlikse
uitleenkoers vir silwer 50% en vir graan 100% was. Dus was die 12% rente per jaar maar
laag in vergelyking met die praktyke van die Mesopotamiese lande. Maar, volgens God se
Woord, was die enigste ding wat die krediteure hoofsaaklik verkeerd gedoen het, om rente
te vra (Nehemía 5:10), en interessantheidshalwe, die mense het dit nie eers by hulle griewe
ingesluit nie. Alles was volgens die sosiale maatreëls en ook binne die wet. Waarom is
Nehemía dan so “verontwaardig”? Dis merkwaardig dat hy nie onmiddellik opgetree het
nie, maar eers ernstig daaroor nagedink het.
Die feit dat Nehemía so beslissend opgetree het, is bewonderenswaardig. Hy het nie ‘n grief
geïgnoreer net omdat daar tegnies nie ‘n wet oortree was nie, of omdat dit sosiaal aanvaar
was nie, selfs al was dit meer “gunstig” as die praktyke van die land. Dit was die bedoeling
van die wet wat hier oortree was. Veral gedurende ‘n tyd van ekonomiese agteruitgang
was dit die plig van die mense om mekaar te help. God ondersteun die verdruktes en die
behoeftiges, en dit is hoekom hy profete aangestel het om teen die kwaad en geweld wat die
armes ondervind het, op te tree.
Op watter maniere kan ons, selfs onopsetlik, die letter van die wet navolg terwyl
ons die bedoeling van die wet skend? (Sien Miga 6:8.)
Dinsdag 29 Oktober
Nehemía tree op
Blykbaar het Nehemía se berisping oor die edelliede en heersers se optrede – “Julle leen uit
op woeker, elkeen aan sy broer!”(Nehemía 5:7) — nie die gewensde resultate opgelewer
nie. Daarom het hy nie opgehou nie, maar aangehou om vir die verdruktes te veg. Hy kon
net gesê het dat hy probeer het om die rykes en heersers te leer, maar dat dit nie gewerk het
nie, en daarom genoodsaak was om die vraagstuk daar te laat. Per slot van rekening, hierdie
was die rykes en magtiges van die land waarteen hy te staan gekom het. Maar hy was nie
tevrede totdat ‘n oplossing vir die probleem geïmplementeer was nie, selfs al het hy in die
proses vyande wat kragtige invloed gehad het, gemaak.
Lees Nehemía 5:7–12. Wat is Nehemía se argumente teen die onreg wat besig was om
plaas te vind? Wat het hy gebruik om die mense te oortuig om dit wat reg is, te doen?
Nehemía het ‘n groot vergadering gereël — die hele volk van Israel was bymekaargeroep
om hierdie saak te bespreek. Hy het hoogs waarskynlik op die moontlikheid staatgemaak
dat wanneer al die mense teenwoordig is, die leiers skaam sou kry, dalk selfs bang sou word
om met die onderdrukking voort te gaan.
Nehemía se aanvanklike argument was op slawerny gefokus. Baie van die Jode, hoogs
waarskynlik Nehemía ook, het Jode wat as slawe vir buitelanders of vreemdelinge gewerk
het, vrygekoop. Nou vra hy die edelliede en heersers of hulle dit goedvind om hulle eie
mense te koop en verkoop. Maak dit sin dat Israeliete Jode vrykoop net om as slawe vir
hulle eie mense gebruik te word?
Die leiers het geen weerstand gebied nie, want hulle het gesien dat hierdie argument billik
was; daarom het Nehemía aangehou praat. Hy het hulle gevra, “Moet julle nie in die
vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie?”
(Nehemía 5:9). En toe erken hy dat hyself ook aan hulle geld en koring geleen het. Deur
te verklaar “laat ons tog hierdie lening kwytskeld” (Nehemía 5:10), het hy die wet wat
hierdie praktyk met mede-Hebreërs verbied het, bevestig, en gedemonstreer dat terwyl hy
die goewerneur was, hy graag sou wou hê dat mense besorgd teenoor mekaar sou moes
optree. Dis verbasend dat die reaksie eenparig was. Die leiers het ooreengekom om alles
aan die volk terug te gee.
Het jy dalk onreg teenoor iemand gepleeg? Die meeste van ons, indien ons eerlik
is, sal “Ja” moet antwoord. Wat verhoed jou om, selfs op hierdie stadium, in ‘n
meerdere of mindere mate dit wat nodig is, terug te betaal?
Woensdag 30 Oktober
‘n Eed
Lees Nehemía 5:12, 13. Hoekom spreek Nehemía ‘n vloek uit oor diegene wat nie hulle
deel van die ooreenkoms nakom nie?
Alhoewel die leiers ooreengekom het om terug te gee waarop hulle beslag gelê het, was
Nehemía nie met woordelike beloftes tevrede nie. Hy het ‘n vaste bewys nodig gehad;
daarom het hy gereël dat hulle voor die priesters ‘n eed moes aflê. Hierdie optrede het
ook die verrigtinge regsgeldig gemaak in geval hy later na die ooreenkoms sou moes
terugverwys. Maar hoekom het hy ‘n vloek aangekondig? Nehemía het sy klere in ‘n
bondel bymekaargemaak en uitgeskud om simbolies aan te dui dat die persoon wat nie die
belofte nakom nie, uit sy besittings uitgeskud sal word. Diegene wat dus nie hierdie eed sou
nakom nie, sou ook alles verloor het. In daardie tyd was dit die gewoonte om ‘n vloek uit te
spreek om sodoende die belangrikheid van ‘n sekere wet of verordening te beklemtoon. Die
volk sou ook waarskynlik nie die wet oortree het as die oortreding met ‘n vloek geassosieer
was nie. Nehemía het klaarblyklik gevoel dat hierdie so ‘n belangrike saak was dat hy iets
drasties moes doen om die moontlikheid vir sukses te versterk.
Wat leer die volgende teksverse in die Ou Testament ons oor die heiligheid van ‘n eed
vir hierdie mense? (Númeri 30:2; Deuteronómium 23:21–23; Prediker 5:4, 5; Levítikus
19:12; Génesis 26:31).
Eintlik is spraak ‘n kragtige gawe wat God aan die mens gegee het; dit is iets wat geheel
en al verskil van wat diere ontvang het. En daar is krag in ons woorde, selfs krag wat lewe
kan gee of dood kan veroorsaak. Daarom moet ons versigtig wees wat ons sê, wat ons
belowe om te doen, en veral watter mondelingse beloftes ons maak. Dit is ook belangrik
dat ons dade ons woorde weerspieël. Hoe baie mense is nie al van Christenskap afgesit deur
woorde wat Christelik geklink het, maar nie deur die dade ondersteun was nie?
Dink na oor watter indruk jou woorde op ander mense maak. Hoe kan ons leer
om baie versigtig te wees wat ons sê, wanneer ons dit sê, en hoe ons dit sê?
Donderdag 31 Oktober
Nehemía se voorbeeld
Lees Nehemía 5:14–19. Hoekom, sê Nehemía, het hy “die brood [lone] van goewerneurs
nie begeer nie”? (Nehemía 5:18)
Nehemía het hoogs waarskynlik die verslag in hierdie verse geskryf nadat hy na die hof
van Koning Artasásta teruggekeer het na sy 12 jaar dienstermyn as goewerneur van Juda.
Alhoewel goewerneurs geregtig op die belasting van hulle onderdane was, het Nehemía
nooit op hierdie reg aanspraak gemaak nie, maar het hy liewer sy eie onkostes betaal. Hy
het nie alleen sy eie onkostes betaal nie, maar hy het ook vir sy gesin en die hele hofhouding
voorsien. Serubbábel, die eerste goewerneur, is die enigste ander goewerneur wie se naam
ons van weet. Waar Nehemía van “die vorige goewerneurs” skryf, verwys hy waarskynlik
na die goewerneurs tussen Serubbábel en homself. Gevolglik, het hy teen die einde van
sy dienstyd, heel waarskynlik geld ingeboet. Liewer as om rykdom te verwerf soos dit
aanvaar word wanneer ‘n invloedryke pos beklee word, het hy waarskynlik rykdom en
besittings verbeur. Nehemía was ryk, en daarom kon hy die daaglikse voedsel vir so baie
mense voorsien het, en hy het vrygewig en oorvloedig aan andere voorsien (Nehemía 5:17,
18). Alhoewel dit nie dieselfde as Abraham was toe hy die wat deur die omliggende nasies
gevange was, gered het nie, (sien Génesis 14), openbaar wat Nehemía hier gedoen het,
dieselfde uiters belangrike beginsel.
Lees Nehemía 5:19. Wat sê hy hier, en hoe het dit op die evangelie betrekking?
Wat ons hier in Nehemía sien, is ‘n voorbeeld van iemand wat die Here en die Here se werk
voor sy persoonlike wins en voordeel geplaas het. Dit is ‘n goeie les vir ons almal, maak
nie saak wat ons spesifieke situasie is nie. Dit is maklik om vir die Here te werk wanneer
dit ons nie baie uit die sak jaag nie.
Lees Filippense 2:3–8. Op watter maniere kan jy nou in jou eie lewe die
selfopofferende beginsels openbaar wat hier aangedui word?
Vrydag 1 November
Vir verdere studie:
Ellen G. White, “A Rebuke Against Extortion,” bl. 646-652, in Prophets and Kings. “Toe
Nehemía van hierdie wrede verdrukking gehoor het, was hy baie verontwaardig. ‘Ek was
baie verontwaardig toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor,’ sê hy. Hy het gesien dat
indien hy daarin wou slaag om die onderdrukkende gebruik van die vordering van skuld te
laat ophou, hy ‘n besliste standpunt vir wat reg is, sou moes inneem. Met sy kenmerkende
energie en vasbeslotenheid het hy aan die werk gespring om verligting vir sy broeders
te bewerkstellig.” — Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 648, (vry vertaal). “Hierna
het Jesus ‘n beginsel neergelê wat die neem van ede onnodig maak. Hy leer dat die reine
waarheid die beginsel van spraak moet wees. ‘Maar laat julle woord wees, Ja, ja, nee, nee.
Wat meer as dit is, is uit die Bose.’” “Hierdie woorde veroordeel al die onbeduidende
sinne en kragterme wat aan vloektaal grens. Hulle veroordeel onbedoelde pluimpies, die
ontwyking van die waarheid, vleitaal, oordrywings, wanvoorstellings in die handel wat so
alledaags in die samelewing en sakewêreld voorkom. Hulle leer dat niemand wat probeer
voorgee om te wees wat hulle nie is nie, of wie se woord nie die werklike bedoeling van sy
of haar hart weergee nie, as opreg kan deurgaan nie.” — Ellen G. White, Die Meester se
Onsterflike Rede, bl. 74.
Vrae vir bespreking:
1. Hoekom vorm selfsug die kern van die mens se probleme wanneer dit oor
geldsake en verhoudings tussen mense gaan?
2. Hoe kan God se kinders hebsug vermy? Hoe maak God voorsiening daarteen?
Bestudeer die volgende teksverse: Jesaja 58:3-12 en Miga 6:6-8.
3. Dink meer na oor die gawe van spraak en die krag van ons woorde. Wat
beteken Johannes 1:1, 2 deur Jesus “die Woord” te noem? Hoe help dit ons om die
belangrikheid van woorde te verstaan en wat dit beteken?
4. Dit is verbasend dat Jesus duisende jare gelede gesê het dat ons altyd die
armes met ons sal hê. Ons word ook vermaan om die behoeftiges te help. Hoe
pas hierdie twee gedagtes bymekaar om Christene te motiveer om te werk om die
minderbevoorregtes te help?