Om teenstand te trotseer

Les 4 *19 tot 25 Oktober
Om teenstand te trotseer

Sabbatmiddag

Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Esra 4:1–5, II Korinthiërs 6:14, Esra 5:1–5, Haggai 1, Esra 4:6–24, Nehemía 4, Nehemía
6:1–13.

Geheueteks:
“Maar die oog van hulle God was oor die oudstes van die Jode, sodat hulle hul nie verhinder
het nie, totdat die berig voor Daríus sou kom, en dan daaroor ‘n brief teruggebring sou
word.” (Esra 5:5).

Esra 3–6 is tematies gestruktureer en dek die verskillende historiese periodes
van die teenstand teen die herbou van die tempel. Deur op hierdie tematiese
benadering te let, sal dit help om die boodskap in sy geheel op te klaar. Esra
se naam word die eerste keer in Esra 7:1 genoem. Na sy aankoms in 457
v.C., het dinge verander en was die stad van Jerusalem en die muur met horte
en stote herbou. Dertien jaar later het Nehemía gearriveer (deur Artasásta in 444 v.C.
gestuur), waarna die werk aan die bou van die muur uiteindelik hervat was. Alhoewel die
teestand fel was, was die werk binne 52 dae voltooi (Nehemía 6:15).

Teenstand teen die werk van God is ‘n oorheersende tema in die twee boeke van Esra en
Nehemía; daarom is dit nie ‘n verrassing dat deur die herbouing van die tempel en van
Jerusalem teenstand en vervolging aangemoedig was nie. Waar ons ook al in vandag se
wêreld gaan, word die werk van die Here teengestaan. Satan probeer seker maak dat
die evangelie nie vinnig versprei word nie, omdat dit sy heerskappy bedreig. In Esra en
Nehemía lees ons hoe die Jode hulle teenstanders hanteer het.

*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 26 Oktober.

Sondag 20 Oktober
Die teenstand begin

Lees Esra 4:1–5. Waarom, dink jy, het die Israelitiese oorblyfsel die aanbod van die
ander mense om met die bou van die tempel te help, afgewys?

Oppervlakkig beskou, het hulle versoek na vriendelike buurskap gelyk, so waarom was
die aanbod nie aanvaar nie? In een opsig kan die antwoord in die teksvers self gevind
word. Die “teenstanders” het hulp kom aanbied. Teenstanders? Dit opsigselfstaande
gee ‘n sterk wenk vir die Israeliete se optrede. Hoekom word die mense “teenstanders”
genoem? Tweede Konings 17:24–41 verduidelik dat hierdie mense vanaf ander nasies na
Samaría en die omliggende streek ingevoer was nadat die Israeliete van die Noordelike
koninkryk weggevoer was. Die koning van Assirië het toe aan die nuwe bewoners van die
land priesters gestuur om hulle te leer hoe om die God van dié land te aanbid, m.a.w. die
God van Israel. Maar, die resultaat was dat die Kanaänitiese gode by die godsdiens van
die land ingelyf was. Die Israelitiese oorblyfsel was dus bang dat hierdie nuwe godsdiens
by die aanbidding in die tempel ingesluit sou word. Die beste en slimste reaksie was om te
doen wat hulle gedoen het, naamlik om te sê, “Nee dankie”.

Om mee te begin moet ons ook onthou hoekom al hierdie dinge plaasgevind het. Dit was
hulle voorvaders se aanhoudende kompromieë met die heidense gelowe rondom hulle wat
tot die vernietiging van die tempel en ook die gevolglike ballingskap gelei het. Terwyl hulle
besig was om die tempel nuut oor te bou, was dit dus vermoedelik die laaste ding wat hulle
sou wou doen om saam met die mense rondom hulle in een span saam te werk.

Wat anders in hierdie verse dui aan waarom hierdie weiering die regte ding was om te
doen? (Sien Esra 4:4, 5.)

Dink na oor hoe maklik hulle dit kon goedgepraat het om hierdie hulp te aanvaar.
Wat sê II Korinthiërs 6:14 in verband hiermee?

Maandag 21 Oktober
Die profete gee moed

Ongelukkig, volgens Esra 4-6, het die teenkanting wat afkomstig van die nasies in die
omliggende streke was, die Jode bang en onwillig gemaak om aan die tempel te werk.
Soos voorheen genoem, is Esra 4:6–6:22 nie in chronologiese volgorde geskryf nie. Daarom
sal ons eers na Hoofstuk 5, en dan na Hoofstuk 4 kyk.

Lees Esra 5:1–5. Waarom stuur God vir Haggai en Sagaría, die profete, na die Jode?
Wat is die gevolge nadat hulle geprofeteer het?

Die Jode het opgehou bou omdat hulle bang was. Maar dis God wat hulle na Juda gestuur
het om die tempel en die stad te gaan herbou, en daarom het Hy ‘n plan gehad. Aangesien
hulle bang was, moes Hy iets doen om hulle te bemoedig. Daarom het Hy twee profete
geroep om tussenbeide te kom. Menslike opposisie stop God nie; selfs al het die Jode deur
hulle eie handelinge daartoe bygedra, het God hulle nie alleen gelaat nie. Hy het deur die
profete gewerk om hulle te motiveer en weer aan die gang te kry.

Lees Haggai 1. Wat is die boodskap aan hulle, en wat kan ons vir onsself hieruit neem?

“Haggai and Sagaría, die profete, was geroep om hierdie krisis te hanteer. Met hartroerende
getuienisse het hierdie boodskappers aan die volk die oorsaak van hulle probleme bekend
gemaak. Die profete het verklaar dat die tekort aan tydelike voorspoed nalatigheid om God
se belange eerste te plaas, tot gevolg gehad het. As die Israeliete God geëer het deur aan
Hom eer en hoflikheid te betoon deur die bouwerk aan sy huis hulle eerste plig te maak, sou
hulle sy teenwoordigheid en seën daarop ontvang het.” — Ellen G. White, Prophets and
Kings, bl. 573- 574, (vry vertaal).

Dinsdag 22 Oktober
Die werk staak

Volgens Esra 4:6-24, wat het die “vyande” gedoen om die werk in Jerusalem stop te
sit?

Die “volk van die land” het briewe van beskuldiging teen die Jode eerste aan Daríus (Esra
5 en 6), en toe aan Koning Ahasvéros sowel as aan Artasásta geskryf. Hulle het alles in
hulle vermoë gedoen om die werk in Jerusalem te staak. Die bevolking van die omliggende
gebiede het beweer dat indien die stad herbou sou word, die koning sy mag oor die Jode sou
verloor omdat Jerusalem altyd ‘n plek was waar rebelsheid kop uitgesteek en moeilikheid in
die verlede plaasgevind het. Ongelukkig was Koning Artasásta gelei om te glo dat die Jode
besig was om te bou omdat hulle weer hulle onafhanklikheid wou bekom en konfrontasie
wou aanspoor. Hy het beveel dat die werk gestaak moes word, en die teenstanders het ‘n
weermag gestuur om verdere bouwerk aan die stad te keer. Hierdie geweldadige benadering
het God se werk tot stilstand gebring.

Lees Esra 4:23, 24. Waarom het die Jode opgehou bou? Het hulle nie geweet dat God
wou hê dat hulle die stad moet herbou nie? Wat het hulle laat ophou?

Dit is duidelik dat die Jode besef het dat God hulle geroep het om die stad en die tempel
te herbou, maar weens die sterk teenkanting, was hulle bang. Miskien het hulle met
verskonings vorendag gekom soos “miskien is die tyd nie reg daarvoor nie”, of “as dit is wat
God werklik wou gehad ons moet doen, sou Hy die weg gebaan het vir ons”, of “miskien
was ons glad nie veronderstel om hiernatoe terug te gekom het nie”. Wanneer opposisie in
ons pad staan sodat ons nie dit kan doen waarvoor, soos ons glo, God ons geroep het nie, het
ons die neiging om God se leiding te bevraagteken. Ons kan baie maklik onsself oortuig
dat ons ‘n fout gemaak het. Vrees kan ons denkvermoë lamlê en ons gedagtes wanhopig en
hulpeloos maak, in plaas daarvan om op die mag van God te fokus.

Het jy al iets soortgelyks ondervind, oortuig daarvan dat God jou geroep het om
iets te doen net om dan in twyfel te verkeer het wanneer dinge verkeerd geloop het?
(Dink byvoorbeeld aan Johannes die Doper.) Wat het jy uit daardie ondervinding
van jou geleer?

Hoekom is dit so belangrik om te weet dat wat jy besig is om te doen, God se wil
is? Daarom is dit belangrik om te vra: Hoe weet ek dat wat ek besig is om te doen,
God se wil is?

Woensdag 23 Oktober
Nehemía tree op (444 v.C.)

Lees Nehemía 4. Wat het die Jode onder die leierskap van Nehemía gedoen om
hulleself teen die opposisie te handhaaf? Waarom was dit vir hulle belangrik om vir
‘n geveg voor te berei in plaas daarvan om net niks te doen nie en te glo dat God hulle
sou beskerm?

Nadat hulle ‘n paar keer begin en opgehou bou het, het die Jode weer begin werk. Hulle het
gebid, en toe het Nehemía ‘n wag teen die opposisie opgestel. Die volk het beurte geneem
deur skofte gedurende die dag en nag te werk om gereed te kon wees vir enige moontlike
aanvalle. Nehemía het ook manskappe en die volk volgens hulle geslagte met hulle wapens
op die laagste plekke agter die muur opgestel om gereed te wees om hulle gesinne te
beskerm. Daarby het hy ook sy helpers in twee groepe opgedeel, die een groep het gewerk
en die ander het die wapens vasgehou. Daar was ook spesiale voorsiening gemaak vir almal
wat aan die muur gewerk het omdat hulle die naaste aan die gevaar was. Elkeen van die
lasdraers het ‘n swaard met die een hand vasgehou en met die ander een die werk verrig.
Hulle was gereed om die opposisie in die gesig te kyk. Hulle het hulle kant gebring, en God
het die res gedoen. Nehemía se vertroue in God en in sy beskerming is baie inspirerend.
Maar, hy het nie gesit en wag dat God alles moes doen nie. Hulle het na die beste van hulle
vermoë voorberei.

Die twee Skrifgedeeltes, “Julle moet nie bang wees vir hulle nie. Dink aan die grote en
gedugte Here, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise”
(sien Nehemía 4:14), en “onse God sal vir ons stry” (sien Nehemía 4:20) is van die mees
inspirerende verklarings in die Bybel. Die Jode kon weer opgehou bou het as gevolg van
die volgehoue teenstand, maar hierdie keer, in plaas daarvan om deur vrees beheer te word,
het hulle aan die belofte dat God vir hulle sou stry, vasgehou. Wanneer ons oor God se
Naam teenstand ondervind, en oor ons geloof, of oor dit waarvoor God ons roep om vir
Hom te doen, moet ons onthou dat “onse God sal vir ons stry”. Uiteindelik het die Jode
besef dat die Here hulle gesteun het in wat hulle doen, en dit het hulle die moed gegee om
deur te druk.

Donderdag 24 Oktober
“Ek doen ‘n grootse werk”

Lees Nehemía 6:1–13. Hoekom sien Nehemía die werk wat hy in Jerusalem doen, as
‘n “groot werk” (Nehemía 6:3)? Watter pogings was daar hier aangewend om hom
te stop?

Hoofstuk 6 beskryf baie aanslae op Nehemía se lewe. Sanbállat en Gesem het aangehou om
briewe aan Nehemía te stuur om hom te probeer oorhaal om hulle te kom sien onder die
voorwendsel dat hulle ‘n vergadering moet hou. Maar, die vergadering sou in die laagte van
Ono gehou word, die vyand se gebied, wat natuurlik die ware bedoeling van die uitnodiging
onthul het. Sanbállat, Tobía, and Gesem het ‘n geleentheid raakgesien wat net sou duur
totat die muur voltooi en die hekke gesluit was. Die Jode het die beskerming van die
Persiese koning geniet, en daarom kon hulle vyande hulle nie tromp-op aangeval het nie.
Maar as hulle van die leier ontslae kon raak, sou hulle die vordering vertraag het, of selfs
nog die Jode vir ewig laat ophou bou het. Hulle het nie opgegee nie. Selfs toe Nehemía
nie gereageer het nie, het hulle aanhou probeer. Dit moes baie frusterend vir Nehemía
gewees het om die opposisie gedurig te moes hanteer het. Sy reaksie was, “Ek doen ‘n groot
werk”(Nehemía 6:3).

Volgens die wêreld se standaarde was Nehemía besig om ‘n groot werk as skinker vir die
koning te doen, want dit was ‘n invloedryke beroep, een van die hoogste beroepe in die land
aangesien hy die koning se adviseur was. Maar om ‘n stad wat in puin gelê het, ‘n stad wat
blykbaar volgens die wêreld se standaarde nie belangrik was nie, te herbou? En hy noem dit
‘n groot werk? Nehemía het wat hy vir God moes doen as “groot” beskou, en wat nog meer
belangrik was, omdat hy besef het dat die eer van God se naam in Jerusalem op die spel was.

Verder as wat reeds genoem is, toe God die heiligdomdiens ingestel het, het Hy ook die
priesters aangestel. Om die heiligdom heilig en spesiaal in die gedagtes van die volk te
hou, het Hy net die priesters toegelaat om die diens in die tempel te verrig. Op ons eie
sou ons dit moeilik gevind het om die heiligheid van God raak te sien; daarom het God
voorsiening gemaak om die Israeliete te help om met eerbied in die teenwoordigheid van
God te kom. Nehemía het geweet dat die tempel se buitehof vir almal bedoel was, maar nie
die binnekamers nie. In sy eie woorde om binne-in die tempel te vergader, het Semája nie
net getoon dat hy ‘n valse profeet was deur ‘n voorstel te maak wat teen God se instruksies
was nie, maar het hy homself ook as ‘n verraaier bekendgemaak.

Op watter maniere kan ons, sonder ‘n aardse heiligdom, God se heiligheid voor
oë hou? Hoe kan ‘n besef van God se heiligheid, teenoor ons sondigheid, ons
aanspoor om na die kruis te gaan?

Vrydag 25 Oktober
Vir verdere studie:

Lees Ellen G. White, “The Builders on the Wall,” “A Rebuke Against Extortion,” en
“Heathen Plots,” bl. 635-660, in Prophets and Kings. “Die teenstand en ontmoediging wat
die bouers in Nehemía se tyd deur openlike vyandskap en voorgeevriende ondervind het, is
tipies van wat diegene wat in vandag se dae vir God werk, sal ondervind. Christene word
getoets, nie net deur die woede, minagting en wreedheid van vyande nie, maar deur die
traagheid, veranderlikheid, halfhartigheid en valsheid van verklaarde vriende en helpers.”
— Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 644. “Nehemía se standvastige toewyding om
God se werk te doen, en ook dieselfde standvastige vertroue op God, was die rede dat sy
vyande misluk het om hom in hulle mag te kry. Die siel wat halfhartig is, word ‘n maklike
prooi van versoeking; maar op die persoon wat ‘n edele doelwit, ‘n besliste doelstelling
het, het die kwaad min houvas. Die geloof van die persoon wat voortdurend groei, verflou
nie; want so ‘n persoon erken oral die Oneindige se Liefde wat in hom of haar “werk wat
welbehaaglik is”. God se ware diensknegte werk met ‘n vasberadenheid wat nie sal misluk
nie, omdat hulle voortdurend van die troon van genade afhanklik is.” — Bladsy 660, (vry
vertaal).

Vrae vir bespreking:

1. Plaas jouself in Serubbábel, Jésua en die ander leiers se plekke toe daardie
ander manne hulp kom aanbied het. Ons kan nou sien dat hulle die regte ding
gedoen het deur nie die aanbod te aanvaar nie. Hoe kan ons as Adventiste weet
wanneer ons moet en nie moet saamwerk met andere wat nie glo soos ons glo nie?
Hoe besluit ons of dit reg of verkeerd is? Watter beginsels kan ons volg?

2. Dwarsdeur die Bybelse geskiedenis sien ons die gevare om, wat ons geloof
betref, kompromieë met die wêreld aan te gaan. Die ganse geskiedenis van ou
Israel tot en met die Babiloniese ballingskap, was ‘n kragtige voorbeeld van
hierdie kompromieë. Terselfdertyd, wat gebeur wanneer mense tot die uiterste
gaan om hierdie gevaar te vermy? Het ons nie ‘n kragtige voorbeeld van hoe sy
beskuldigers tot die ander uiterste gegaan het toe Jesus self beskuldig was dat Hy
die Sabbat oortree het (sien Johannes 9:14-16) nie? Hoe kan ons die regte balans
vind?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *