Les 3 *12 tot 18 Oktober
God se roepstem
Sabbatmiddag
Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Esra 7:10; Nehemía 1:1–11; Daniël 9:24–27; Daniël 8; Romeine 8:28, 29; Romeine
9; Exodus 3, 4.
Geheueteks:
“Geloofd sy die Here, die God van ons vaders, wat so iets in die hart van die koning gegee
het, om die huis van die Here, wat in Jerusalem is, te versier” (Esra 7:27).
Roep God elke persoon spesifiek om ‘n sekere taak te verrig? Is daar kriteria
waarby iemand meer as iemand anders vir ‘n spesifieke taak kwalifiseer?
Gebruik God verskillende kriteria as wat die mens gebruik? Die meeste
van ons sal moontlik hierop ja sê, veral wat die laaste twee vrae betref.
Daar is tye wanneer God ons deur opvoeding of deur ondervindinge vir ‘n
spesifieke taak voorberei; ander tye gebruik Hy ons doodeenvoudig omdat ons gewillig en
nederig is. Dit is egter nie altyd maklik om te weet wat God wil hê wat ons moet doen nie.
Nieteenstaande is die Bybel vol verhale van mense wat deur God gekies was om spesifieke
take af te handel.
Dis interessant om op te let dat Esra en Nehemía vir ‘n spesifieke taak deur God geroep
was: om dit wat bouvallig was te gaan herbou. Maar, in hierdie geval het die bevel om
te herbou ‘n verskeidenheid take ingesluit. Hulle moes die volk van Israel na Jerusalem
teruglei en ook die tempel en die stad gaan herbou. Terselfdertyd moes hulle die volk oor
God leer en hulle teruglei na ‘n toegewyde verhouding met Hom. Praat van om spesifiek
deur God geroep te word, ‘n baie belangrike roeping!
*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 19 Oktober.
Sondag 13 Oktober
Die roeping van Esra en Nehemía
Ons kan sê dat Esra vir verskeie redes gekies was: (1) hy was gewillig om te gaan; (2) hy
was ‘n leier; en (3) hy was ‘n bekwame skrifgeleerde en onderwyser. Daar is ook nog
ander redes hoekom hy gekies was, maar daar is een vers wat aandui waarom hierdie taak
aan Esra opgedra was.
Wat sê Esra 7:10 oor Esra? Hoe sou Esra sy hart daarop “gerig” het om “die wet van
die Here” te “ondersoek” en uit te voer?
Die woord vir “gerig” in Hebreeus is kun. Dié woord kan beteken om “voor te berei, om
in ‘n bepaalde rigting te beweeg, om ferm op te tree, om met mening tot stand te bring, om
stabiel te wees, om te beskut”. Daarom blyk die ware betekenis van hierdie mededeling te
wees dat Esra in sy hart vasbesluit het om God te soek en te vind. Nadat hy in Jerusalem
aangekom het, het Esra se voorbeeld getoon wat dit beteken om aan God toegewyd te lewe,
en hy het God se Woord in Jerusalem vir 13 jaar onderrig. Dit mag vir hom gevoel het asof
hy geen verskil gemaak het gedurende daardie 13 jaar nie, maar, nadat die mure voltooid
was, het die volk ‘n byeenkoms saamgeroep – nie omdat enigeen hulle gedwing het nie,
maar omdat hulle dit wou gedoen het. Die Woord van God wat Esra aan hulle gebring het,
het wortelgeskiet.
Hoekom was Nehemía gekies? Lees Nehemía 1:1–11.
Nehemía se hart het aan God en sy volk behoort. Hy was onsteld toe hy uitvind dat die werk
in Jerusalem opgehou het. Nehemía het ‘n passie vir hierdie saak gehad, en net soos Esra,
het hy sy dienste vir hierdie taak vrywillig aangebied. God het hulle gebede beantwoord
en hulle begeertes toegestaan. Soms dink ons dat indien ons van iets hou, dit nie van God
kom nie omdat God net moeilike opdragte wat ons dalk nie sal wil doen nie, aan ons sal gee.
Maar as ons met God wandel, kom die begeertes om iets te doen waarvan ons hou, dikwels
van God af. God wil graag hê dat ons ‘n passie moet hê vir dit wat ons vir Hom doen.
Op watter maniere besef jy die werklikheid dat God jou geroep het om dinge vir
Hom te doen waarvan jy baie hou, ondervind?
Maandag 14 Oktober
Profetiese tydsberekening
In die eerste les van hierdie kwartaal het ons geleer hoe God Serubbábel (ca. 538 v.C.)
en Esra (457 v.C.) vir ‘n spesiale bediening geroep het. Ons moet besef dat dit met God
se voorkennis ooreengestem het. Byvoorbeeld, Serubbábel was deur God geïnspireer om
‘n spesifieke taak met betrekking tot die 70-jaarlange ballingskap te verrig, soos Jeremia
voorspel het.
In watter jaar was Esra geroep? Dit was dieselfde jaar toe Koning Artasásta ‘n
dekreet uitgevaardig het. Wat is die profetiese betekenis van daardie jaar? Slaan
Daniël 9:24–27 na.
Daniël 9:25 verklaar dat “van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en
op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank
sal dit herstel en opgebou word …”. Die laaste week van hierdie profesie word in vers 27
genoem. Aangesien een week uit sewe dae bestaan, is ‘n profetiese week gelyk aan sewe
jaar (Númeri 14:34; Eségiël 4:5, 6). Daarom verwys hierdie profesie na 70 weke, wat
gelyk is aan 490 jaar. Die vraag wat beantwoord moet word, is: Wat is die begindatum van
die 70-weke profesie? Die vers sê dat dit vanaf die uitgang van die woord af om Jerusalem
te herstel en te herbou, sal wees. Daar was drie dekrete vir die herstel van die Joodse volk
gegee. Kores, Daríus, en Artasásta het aldrie herstellingsbevele gegee. Maar, net Artasásta
se bevel het betrekking op die stad Jerusalem self gehad, en net hierdie dekreet was met
lofprysinge aan God oor sy ingryping geassosieer. (Esra 7:27, 28).
Ons bereken die begin van die 70-weke profesie vanaf die jaar 457 v.C., die sewende jaar
van Koning Artasásta I se regering soos deur Esra in Esra 7:7-26 aangedui word. Daarby,
omdat die jaar 457 v.C. ook die begin van die 2,300-dae profesie van Daniël 8:14 is (sien
môre se les), dien hierdie dekreet as die beginpunt van hierdie twee profesieë. Die sewentig
weke eindig in die jaar 34 n.C., toe die verkondiging van die evangelie uitgebrei was en
ook na die heidene geneem was (gekenmerk deur die vervolging van die vroeë kerk en die
marteldood van Stéfanus). Die middelste gedeelte van die laaste week val op 31 n.C., toe
Jesus op die kruis gesterf het.
Hersien die profesie in Daniël 9:24–27. Hoe ongelooflik akkuraat word die
bediening van Jesus hier onthul? Hoe behoort ‘n profesie soos hierdie ons te help
om ons geloof te bevestig?
Dinsdag 15 Oktober
Die 70 weke en die 2,300 dae
Die woord “bepaal” in Daniël 9:24, “Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad
bepaal”, beteken letterlik “sewentig weke is afgesny”. Alhoewel die Hebreeuse woord wat
as “bepaal” vertaal is, nêrens anders in die Bybel gebruik word nie, word dit in Joodse
letterkunde gevind, en dit beteken om van iets wat langer is, “af te sny”. Aangesien daar
in Daniël 8 na die 2,300-jaar verwys word sonder om die beginpunt daarvan aan te dui, is
dit logies dat wanneer daar in die volgende hoofstuk (Daniël 9) van 490 jaar gepraat word
as “bepaal” of “afgesny”, dit net van die 2,300 profetiese jare wat in die vorige hoofstuk
genoem was, “afgesny” kan word. Per slot van rekening, waarvan anders kan hierdie
periode “afgesny” word as dit nie van ‘n ander langer tydprofesie afgesny kan word nie?
Lees Daniël 8. Watter deel van die visioen was nie verduidelik nie (sien veral Daniël
8:14, 26, en 27)?
Daar is baie redes hoekom daar tussen die 70-weke profesie van Daniël 9:24-27 en die 2,300
aandes en môres profesie van Daniël 8:14 ‘n verband is: (1) beide is tydprofesiëe; (2) die
spesifieke woorde, “gesig” en “verstaan”, verbind die twee aanmekaar (sien Daniël 8:26, 27
en 9:23); (3) beide interpretasies van hierdie profesiëe was deur Gabriël gegee (sien Daniël
8:16 en 9:21); (4) die enigste deel van die gesig in Daniel 8 wat nie verklaar was nie, was
die gesig oor die 2,300 aandes en môres (wat soms as “dae” vertaal word) in Daniël 8:14;
(5) In Daniël 8 word die gesig en ‘n gedeeltelike interpretasie gegee, terwyl in Daniël 9 net
‘n interpretasie gegee word wat, in hierdie geval, die interpretasie van die enigste gedeelte
in Daniël 8 was wat nie geïnterpreteer was nie, naamlik die 2,300-dae profesie van Daniel
8:14, dié gedeelte van die gesig wat Daniël nie verstaan het nie (sien Daniel 8:27).
Die inligting wat in Esra aan ons gegee word, voltooi die voorspellings in die Boek Daniël
wat nie geïnterpreteer was nie, naamlik wanneer die profetiese tyd met betrekking tot die
uiters belangrike aspekte van Christus se bediening en werk in die geskiedenis vir ons begin
het.
457 v.C. 34 n.C.
70 weke
(490 jaar)
2,300 dae (2,300 jaar)
490 jaar 1 810 jaar
457 v.C. 34 n.C
Woensdag 16 Oktober
Hoe God ons kies
Daar word baie gepraat oor of God ons uitsoek of kies om iets te doen. Baie mense het
verskillende idees oor wat hierdie kiesing beteken. Wat sê die Bybel hieroor?
Lees Romeine 8:28, 29. Waartoe roep God ons? Waarvoor kies Hy ons?
Hierdie Skrifgedeelte sê spesifiek dat God die mens voorbeskik het om gelykvormig aan die
beeld van sy Seun te wees. Dit sê nie dat God ons voorbeskik het om òf gered òf verdoem te
word nie, en dat ons geen keuse hieroor het nie. Met ander woorde, die voorbeskikking se
doel is dat ons sal verander. Ons moet verander word om die Seun van God te weerspieël.
Hierdie transformasie word dan in die volgende vers genoem (Romeine 8:30), waar
Paulus, die outeur, verklaar dat die wat deur God geroep word, deur God geregverdig word
(regverdig verklaar word) en verheerlik word (heilig gemaak word). Ons word dus nie
gelos om onsself te verander nie, maar God belowe om hierdie transformasie deur Sý krag
te laat plaasvind.
Lees Romeine 9. Watter soort verkiesing of roeping deur God word in hierdie hoofstuk
beskryf?
In Romeine 9 bespreek Paulus hoe God iemand vir ‘n spesifieke taak, kies. Die Israeliete
was gekies om die goeie nuus oor God aan die wêreld te bring. Die sinsnede “Jakob het
Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat” (Romeine 9:13) word deurgaans verkeerd verstaan om
te beteken dat God net een van die twee broers liefgehad het. Maar, volgens die konteks
van hierdie gedeelte sê Paulus dat Jakob gekies was en Esau nie. Waarvoor was Jakob
gekies? Om die vader van die Israelitiese nasie te wees. Daar is dus twee tipes kiesings of
verkiesings wat God gebruik. Eerstens kies God elkeen van ons om gered te word, en wil
Hy hê dat ons na die beeld van Jesus verander moet word. Tweedens kies God verskillende
mense vir spesifieke take.
Hoekom behoort dit bemoedigend vir jou te wees om te weet dat jy voorbeskik was
om gered te word? Maar, beteken dit dat die keuses wat jy maak kan veroorsaak
dat die redding wat God aan jou bied, nie verbeur kan word nie?
Donderdag 17 Oktober
Ons verantwoordelikheid
Indien ons deur God geroep word, het ons nog ‘n vrye keuse om dit te aanvaar of te verwerp
net soos wat ons ‘n vrye keuse het om die redding wat Hy ons aanbied, te aanvaar of te
verwerp. Hy mag ons dalk vir ‘n spesifieke amp kies, maar ons kan nog kies om nie Sy
leiding te volg nie. Ja, Hy wil hê ons moet spesifieke dinge vir Hom doen, net soos wat Hy
ons roep om na Sy beeld verander te word. God se uitnodiging aan ons om ‘n spesifieke
taak te aanvaar, is deel van Sy plan van verlossing. Deur te doen waarvoor Hy ons geroep
het, weerspieël ons die werklikheid van die verlossingsaanbod wat Hy aan ons gegee het.
Koning Saulus was as koning aangestel. Ongelukkig het hy nooit ‘n volle oorgawe aan
God gemaak nie, ten spyte van die taak wat aan hom gegee was. Net omdat iemand deur
God geroep word om iets spesiaal vir Hom te doen, beteken nie dat die persoon God se
uitnodiging sal aanvaar nie. Ons vrye wil bly steeds die bepalende faktor, en indien ons nie
God se leiding volg nie, kan ons alles verloor.
Lees Exodus 3 en 4. Wat leer ons hier oor wat kan gebeur wanneer die Here iemand
vir ‘n taak roep?
Ons kan soos Esra en Nehemía reageer wat sonder enige vrae gegaan het, of ons kan soos
Moses wees wat besware en verskonings gehad het. Moses het op die ou einde gegaan,
maar nie sonder dat hy probeer het om los te kom nie. Hy het beswaar gemaak en beweer
dat hy nie goed genoeg was nie, ‘n niksbeduidende persoon is wat nie eers ‘n belangrike
pos beklee het nie. Hoe sou die Farao enigsins na hom luister? Hy was ook bekommerd
dat die Joodse volk hom nie sou glo nie en nie na hom sou luister nie, en die werk dus op
niks sou uitloop nie. Boonop het hy gekla dat hy nie gekwalifiseerd was nie — “… want
ek is swaar van mond en swaar van tong” (Eksodus 4:10) — en nie die nodige vaardighede
gehad het nie. Uiteindelik het hy reguit vir God gevra om iemand anders te stuur. En tog,
as ons die verhaal van Moses lees, leer ons wat ‘n magtige leier hy geword het, alhoewel
hy vol foute was. Hy was iemand wat getrou die taak verrig het waarvoor die Here hom
geroep het.
Watter verskonings vind ons wat ons weerhou om die dinge te doen wat ons weet
die Here wil hê ons moet doen?
Vrydag 18 Oktober
Vir verdere studie:
Lees versigtig deur bl. 697-699 in Prophets and Kings, oor die 70-weke profesie en die
historiese vervulling daarvan. “Die tyd van Christus se koms, Sy salwing deur die Heilige
Gees, Sy dood, en die verkondiging van die evangelie aan die heidene, is duidelik aangedui.
Dit was die voorreg van die Joodse volk om hierdie profesieë te verstaan en om die vervulling
daarvan in die sending van Jesus te herken. Christus het by sy dissipels aangedring om die
profesieë te bestudeer. Met verwysing na die profesie van Daniël in verband met hul tyd,
het Hy gesê: ‘Laat hy wat lees, oplet’ (Matthéüs 24:15). Na Sy opstanding het Hy van ‘al
die profete af’ begin en ‘die dinge wat op Hom betrekking het’ aan die dissipels verduidelik
(Lukas 24:27). Die Heiland het deur al die profete gepraat. ‘Die Gees van Christus wat in
hulle was’, het ‘vooruit getuig … van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid
daarna’ (I Petrus 1:11).” – Ellen G. White, Die Koning van die Eeue, bl. 187-188.
Vrae vir bespreking:
1. Dink nog meer na oor die gedagte dat God jou roep om iets te doen wat jy graag
wil doen. Watter beginsels kan jy gebruik om te weet dat jy God se wil doen, nie
net vir iets wat jy graag wil doen nie, maar ook vir oor die algemeen?
2. Lees die verhaal van Jona en hoe hy op God se plan vir sy lewe gereageer het.
Watter lesse kan ons uit hierdie ondervinding leer? Terselfdertyd, kontrasteer dit
wat Jona gedoen het met dit wat Paulus gedoen het toe hy deur die Here geroep
was. (Sien Handelinge 9:1-20.) Wat was sommige van die hoofverskille tussen
hulle?
3. “In die geskiedenis van Judas het ons die droewige einde van ‘n lewe wat die
welbehae van God kon weggedra het. As Judas voor sy laaste reis na Jerusalem
gesterf het, sou hy as ‘n waardige lid van die twaalf beskou gewees het – een wat
baie gemis sou word.” — Ellen G. White, Die Koning van die Eeue, bl. 601. Dink
na oor die verhaal van Judas Iskáriot. Was hy “geroep” om Jesus te verraai?
Indien dit so is, hoe regverdig sou dit teenoor hom gewees het? Hoe kan ons Judas
en die geleenthede wat hy gehad het verstaan in teenstelling met wat hy uiteindelik
gedoen het? Watter lesse kan ons oor die krag van vrye keuse in ons lewens uit sy
verhaal leer?