Nehemía

Les 2 *5 tot 11 Oktober
Nehemía

Sabbatmiddag

Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 1–2, Deuteronómium 7:9, Psalm 23:1–6, Númeri 23:19.

Geheueteks:
“En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het
gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel en gesê: ‘Ag, Here, God van
die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat
U liefhet en u gebooie onderhou ’” (Nehemía 1:4, 5NKJV).

Dusver het twee groepe gevangenes na Juda teruggekeer en sodoende God
se beloftes aan die Hebreeuse nasie gedeeltelik vervul. Maar daar was nog
een groep bannelinge wat God besig was om voor te berei. Die laaste groep
se taak was om ‘n probleem op te los. Alhoewel die eerste twee groepe
teruggekeer het om Jerusalem te herbou en ook as deel van daardie projek,
die tempel klaar te herbou, het die res van die konstruksie tot stilstand gekom omdat die
omliggende nasies teenstand gebied het. Die mense rondom hierdie gebied wou nie gehad
het die Israeliete moes die stad en stadsmure herbou nie, want hulle was bang dat hulle
weer ‘n magtige nasie soos voorheen sou word (Esra 4:6–24). Hulle het die terugkerende
Israeliete dus as ‘n bedreiging gesien, en was vas van plan om hulle te stop. Maar God het
nie sy volk geroep net om hulle dan te verlaat terwyl hulle besig was om te doen waarvoor
Hy hulle geroep het nie.

Daarom het Hy ‘n ander man voorberei om Sy wil uit te voer en sy doelstellings te bereik.
Sy naam was Nehemía, en in hierdie les gaan ons kyk hoe hy vir die Here gewerk het.

*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 23 Oktober.

Sondag 6 Oktober
Nehemía ontvang slegte nuus

Die Boek Nehemía begin min of meer soos die Boek Daniël (lees Daniël 1:1, 2), en dit is
met slegte nuus. Ja, baie het na hulle voorvaderlike tuisland teruggekeer, maar dinge het
daar nie vir hulle te goed uitgewerk nie.

Lees Nehemía 1:1–4. Hoekom was Nehemía so ontsteld? Hoe het hy op die slegte nuus
wat hy ontvang het, gereageer?

‘n Aantal Jode wat jare tevore gevange geneem was en toe na die vesting Susan, een van die
vier administratiewe sentrums van die Persiese Ryk, gebring was, het weer daar opgedaag
waar Nehemía in die koninklike paleis as ‘n skinker diens gedoen het. Die sinsnede
“Hanáni, een van my broers” verwys hoogs waarskynlik na Hanáni as ‘n bloedbroer van
Nehemía, want daar is ‘n soortgelyke maar meer gesinsverwanteverwysing na Hanáni in
Nehemía 7:2, alhoewel dit na ‘n mede-Israeliet ook kan verwys. Die gesprek met Hanáni
het heel waarskynlik tussen die middel van November en die middel van Desember 445
v.C. plaasgevind, ongeveer 13 jaar na Esra se terugkeer na Jerusalem. Hanáni se verslag
het aangedui dat die situasie in Jerusalem aaklig was. Die volk het nie daarin geslaag om
Jerusalem ten volle te herbou nie, en die vyand het die mure van die stad vernietig en dit
onbeskerm en verlate gelos.

Nehemía moes gerugte gehoor dat die Samaritane die mure van die stad vernietig het, maar
hy het nie presies geweet wat aangaan tot en met hy hierdie nuus ontvang het nie. Eintlik
het Koning Artasásta self ook die moed van die Jode wat besig was om die stad te herbou,
gebreek, deurdat hy die bouery stopgesit het nadat die mense wes van die Eufraatrivier
daaroor gekla het (Esra 4). Al was die tempel klaar herbou, het die tempeldienste nie ten
volle gefunksioneer nie omdat die mense wat die tempeldienste moes lewer, nie in Jerusalem
kon woon nie. Hierdie situasie het Nehemía hartseer gemaak terwyl die implikasies daarvan
hom diep geraak het: die Jode het God nie verheerlik nie, alhoewel dit die doel vir hulle
terugkeer was. In plaas daarvan het hulle die huis van God en die heilige stad verwaarloos
omdat hulle die vyand en gevolglike verdrukking gevrees het. Daarom wend Nehemía hom
outomaties tot God. Hy kla nie oor die volk van Juda se gebrek aan geloof nie, of skryf
dit nie toe aan lafhartigheid nie, nog minder aanvaar hy nie die situasie net soos dit is nie.
Nehemía vas en bid.

Toe hy hierdie nuus hoor, het Nehemía gehuil, gevas en gebid. Wat behoort dit
aan ons te sê oor hoe, veral in tye van beproewinge, ons die Here moet aanroep?

Maandag 7 Oktober
Nehemía se gebed

Lees Nehemía se gebed in Nehemía 1:5–11. Hoe word daar hier gebid? Hoekom sluit
hy homself as een van die skuldiges in?

1. Grote en gedugte God, wat goedertierenheid hou (Neh. 1:5).
2. Laat u oor tog opmerksaam wees (Neh. 1:6).
3. Belydenis van sondes (Neh.1:6, 7).
4. Onthou U beloftes (Neh.1:8, 9).
3. U het ons verlos (Neh.1:10).
2. Laat u oor tog opmerksaam wees (Neh. 1:11).
1. Laat u kneg geluk en verleen hom barmhartigheid (Neh. 1:11).

Nehemía se gebed is ‘n pragtige samestelling van God se grootheid, sy mense se eie
sondigheid en dan, ten slotte, ‘n uitroep om hulp. Die gebed stem met Daniël se gebed
in Daniël 9 ooreen, en dit is moontlik dat Nehemía hierdie gebed geken het. Dit is
merkwaardig dat hy nie heel eerste tot God roep vir hulp nie, maar liewer eers die waarheid
oor God verklaar, “’n grote en gedugte God”. Hy verwys na God se verbond met, en Sy
goedertierenheid teenoor die wat Hom liefhet, net asof hy God daaraan wil herinner dat Hy
nog altyd getrou was en dus nie nou anders kan optree nie.

Die gebed het ‘n spesiale struktuur (soos hierbo aangedui) met die fokuspunt op vers 8, waar
Nehemía God se beloftes duidelik uitspreek. Nehemía sê: “Dink tog aan … !” Met ander
woorde: Onthou, God, dat u belowe het om ons te verstrooi wanneer ons ontrou teenoor
u optree, maar dat u ook belowe het om ons terug te bring en alles te herstel. Aangesien
die eerste belofte vervul was, is dit nou tyd om die ander ook te vervul, want ons keer na
U terug. Nehemía is nie bang om God se beloftes toe te eien nie, en om Hom daaraan te
herinner nie. Natuurlik is dit nie omdat God nie Sy beloftes ken of nie onthou nie. God
verheug Homself in ons gewilligheid om Sy beloftes vir onsself toe te eien. Hy wil hê ons
moet daarin glo en dit dus hoorbaar uitspreek. Deur dit wat God belowe het, hoorbaar uit te
spreek, versterk ons ons eie voornemens om op daardie beloftes te vertrou, veral gedurende
tye wanneer alles rondom ons hopeloos lyk.

Watter beloftes van God kan jy op hierdie oomblik vir jouself toe-eien? Hoekom
is dit belangrik om nooit op te gee om daardie beloftes vir jouself toe te eien nie?
(Per slot van rekening, indien jy sou opgee, wat bly oor?)

Dinsdag 8 Oktober
Nehemía praat reguit

Nehemía 1:11 sê dat Nehemía die koning se skinker was. Vir ons mag dit na ‘n onbelangrike
werk lyk, maar skinkers kon baie invloedryk gewees het aangesien hulle gedurig toegang
tot die koning gehad het. Hulle het die koning se drankies geproe om sodoende siektes
en die koning se dood te kon voorkom. Herodotus, die Griekse geskiedskrywer, noem
dat die Perse hulle skinkers hoog aangeskryf het en hulle as hoë amptenare beskou het.
Byvoorbeeld, die skinker van Koning Esar-Haddon, die Assiriese koning, was ook die
eerste minister van die Assiriese koninkryk. Nehemía het dus ‘n hoë amp in die koninkryk
beklee, en omdat hy toegang tot die koning gehad het, het hy by God gepleit om deur hom
met die koning te praat oor die situasie in Juda.

Lees Nehemía 2:1–8. Wat het gebeur nadat Nehemía gebid en gevas het?

Sy gebed was in die maand Nisan, ongeveer in die maand April in 444 v.C., beantwoord.
Vier maande het verbygegaan nadat Hanáni en die Jode die slegte nuus vanaf Jerusalem aan
Nehemía gebring het. Vir vier maande het Nehemía gebid en gevas, en dit moes vir hom
elke dag gevoel het asof God hom nie wou antwoord nie. Maar God se tydsberekening
is altyd perfek. God was besig om die koning voor te berei om na Nehemía te luister en
gunstig te reageer. Dit het nie elke dag gebeur dat die skinker van sy pligte vrygestel word
om ‘n goewerneur in ‘n ander land te kon word nie. God het deur Nehemía gepraat en
Koning Artasásta I van Persië beïndruk om Nehemía as goewerneur oor die gebied van
Juda aan te stel. Die feit dat die koningin genoem word, dui daarop dat hierdie ‘n private
aangeleentheid was, aangesien dit nie die gewoonte vir die koningin was om by formele
bankette teenwoordig te wees nie. Nehemía het nie onmiddellik na Jerusalem verwys nie,
omdat hy nie wou gehad het dat die koning met vooropgestelde idees na vore moes kom nie,
maar hy het liewer ‘n emosionele beroep op die koning gedoen oor iets wat hom persoonlik
geraak het. Teen die tyd wat die spesifieke plek genoem was, het hy reeds die koning se
guns gewen.

Watter ooreenkomste sien ons tussen Nehemía se pos in hierdie hof en Daniël s’n
in Babilon? Wat sê dit oor Nehemía se karakter wat gemaak het dat die koning
so positief op hom ingestel was?

Woensdag 9 Oktober
Nehemía gestuur

Die koning het briewe saam met Nehemía aan die hoë amptenare van die gebied anderkant
die Eufraatrivier gestuur, aan Sanbállat, die Horoniet, en Tobía, die Ammonitiese kneg, om
die weg te baan vir wat Nehemía moes verrig. Die koning het ook aan Asaf, die opsigter
van die park van die koning, opdrag gegee om aan Nehemía die hout vir die vesting by die
tempel, die stadsmure en die huis waar Nehemía moes intrek, te lewer.

Lees Nehemía 2:9, 10. Wat vertel hierdie verse ons oor die teenstand wat Nehemía en
die Jode sou teëkom?

Nehemía het ongeveer in die jare 445/444 in Jerusalem aangekom. Dit lyk asof hy teenstand
gekry het selfs nog voor hy begin werk het, want net toe die versoek aan die goewerneurs
afgelewer was, het die probleme begin. Alhoewel Tobía ‘n Joodse naam is wat beteken
“die Here is goed” (sy seun Jóhanan het ook ‘n Joodse naam gehad (“die Here is genadig”),
het hy as goewerneur vir die Ammoniete diens gedoen. Jerusalem was dus deur vyande
omring: Sanbállat, die goewerneur van Samaría in die noorde, Tobía, die goewerneur van
die Ammoniete in die ooste, en Gesem die Arabier (Nehemía 2:18, 19) in die suide, wat
van Edom en Moab besit geneem het. Dit is ongelukkig dat die leierskap in daardie gebied
Nehemía verwerp het omdat hy gekom het om vir die kinders van Israel “iets goeds” te
soek, en omdat hy oor die verdruktes besorgd was. Afknouers is nie bly oor die voorspoed
van hulle slagoffers nie. Nehemía se “aankoms in Jerusalem met militêre begeleiding wat
aangedui het dat hy op een of ander belangrike sending was, het egter die jaloesie van die
heidense rasse wat naby die stad gewoon het, aangewakker. Hierdie mense het dikwels
hulself in hulle vyandskap teenoor die Jode verlustig deur laasgenoemde te beseer en te
beledig. Die voorosse in hierdie bose werk was sekere hoofde van hierdie rasse: Sanbállat
die Horoniet, Tobía die Ammoniet en Gesem die Arabier. Aan die begin het hierdie leiers
met kritiese oë die bewegings van Nehemía dopgehou, en daarna gestreef om met alles in
hulle mag sy planne te dwarsboom en sy werk te verhinder.” — Ellen G. White, Prophets
and Kings, bl. 635, (vry vertaal).

Watter ander Bybelse verhale kan jy vind wat aandui hoe die wat deur God geroep
was om Sy wil te doen, teenstand opgetel het? Bring jou antwoord na die klas
Sabbat.

Donderdag 10 Oktober
Nehemía berei voor vir sy taak

Daar is geen twyfel dat die Here Nehemía vir hierdie taak geroep het nie en ook alles wat
benodig sou word, sou voorsien nie. Toegerus met die kennis van God se beloftes en die
sekerheid dat God hom geroep het, het Nehemía voortgegaan met die reëlings. Maar hy het
versigtig en biddend voorberei. Met ander woorde, al het hy geweet dat God met hom is,
dit hom nie weerhou het om deeglik te beplan nie.

Lees Nehemía 2:11–20. Hoe het Nehemía vir die herbou van die muur voorberei?

Leierskaplesse: Les 1: Nehemía vertel aan geen mens “wat [sy] God in [sy] hart gegee
het om vir Jerusalem te doen nie” (Nehemía 2:12). Hy hou dit nie net van sy vyande terug
nie, maar ook van die Joodse leiers. Hy gaan eers op ‘n verkenningsrit om uit te vind wat
die werk alles insluit. Les 2: Voordat hy met sy planne vorendag kom, doen Nehemía sy
huiswerk goed en beplan al die werk wat gedoen moet word. Les 3: Toe hy uiteindelik van
hom laat hoor, verwys hy eerste na hoe God in hierdie ekspedisie sover gelei het, en dan
voeg hy die woorde van die koning by. Hy bemoedig eers en dan vra hy vir toewyding om
die taak te voltooi. Dit is niks minder as ‘n wonderwerk dat die Jode so gunstig gereageer
het en besluit het om te help bou nie, ten spyte van die verwagte teenstand wat hulle sou
ondervind het nie. God het nie net die koning voorberei omdat Nehemía gevas en gebid het
nie, maar ook die Joodse volk, sodat hulle vrymoedig en manhaftig sou kon optree.

Lees Nehemía 2:19, 20. Wat vertel hierdie verse ons oor Nehemía se geloof? Hoe het
verse soos Deuteronómium 7:9, Psalm 23:1–6, en Númeri 23:19 hom dalk gehelp?

Ons gesprekke demonstreer wie ons is en wat ons waarlik glo. Nehemía neig om opheffende
woorde te gebruik. Hy is nie bang om God in te sluit in alles wat hy sê en om Hom ook te
verheerlik nie, selfs wanneer mense hom spot en hom uitlag nie. Alhoewel Nehemía weet
hoe minagtend sy vyande teenoor hom voel, praat hy ronduit en skroom nie om God in sy
gesprekke in te sluit nie. Soos Josef in Egipte baie jare gelede, is Nehemía nie bang om sy
God vir mense wat nie in Hom glo nie, aan te beveel nie.

Vrydag 11 Oktober
Vir verdere studie:

Dink na oor “A Man of Opportunity,” bl. 628–634, in Prophets and Kings. Nehemía was ‘n
man van gebed: “Nehemía het dikwels sy hart namens sy volk uitgestort. Maar terwyl hy
nou gebid het, het ‘n heilige plan in sy gedagtes begin posvat. Hy het tot die gevolgtrekking
gekom dat indien hy die koning se toestemming en ook die nodige hulp om gereedskap en
boumateriaal te kon bekom, sou kon kry, hyself die taak om die mure van Jerusalem te gaan
herbou en Israel se nasionale identiteit te herstel, kon onderneem. En toe vra hy die Here
om hom te help om guns te vind by die koning sodat hierdie plan uitgevoer kon word: ‘
… en laat dit tog vandag u kneg geluk,’ het hy gesmeek, ‘en verleen hom barmhartigheid
voor die oë van hierdie man.’ Nehemía het vier maande gewag vir ‘n gunstige geleentheid
om sy versoek aan die koning te rig.” — Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 629, 630,
(vry vertaal).

Vrae vir bespreking:

1. Om Woensdag se vraag te beantwoord, hoekom, soos ons regdeur die Bybel
sien – Ou Testament en Nuwe Testament – het diegene wat deur God geroep was,
sulke geweldige teenstand ondervind? Feit is, hoekom het dit amper elke keer
gebeur? Miskien is dit beter om te vra: Watter voorbeelde kan jy in die Bybel
vind van iemand wat deur God geroep was om Sy wil uit te voer, wat nie teenstand
ondervind het nie? Wat sê dit aan ons oor hoekom ons nie mismoedig moet word
wanneer groot struikelblokke ons probeer verhinder om, wat ons glo, te doen
waarvoor die Here ons geroep het om te doen nie?

2. Lees Nehemía 2:18. Wat sê dit aan ons oor die krag wat ‘n persoonlike getuienis
kan hê, en hoe uiters belangrik dit was om die positiewe uitwerking wat Nehemía
van sy mede-Jode gekry het, te bewerkstellig?

3. Nie Esra of Nehemía kon sonder die hulp van die koning sukses behaal het nie.
Met ander woorde, hierdie manne van God het hulle samewerking aan die politieke
magte wat heidene was, gegee. Watter les kan ons hieruit leer oor wanneer en hoe
ons as ‘n kerk saam met die politieke magte wat aan bewind is, moet werk, wie
hulle ook al mag wees? Terselfdertyd, wanneer ons dit doen, hoekom moet die
kerk baie versigtig wees?

4. Lees Nehemía se gebed (Nehemía 1:1–11) in die klas. Wat kan jy daaruit neem
wat jou kan help om jou verhouding met God te verdiep? Wat leer dit ons oor
volle oorgawe, belydenis en die toe-eiening van God se beloftes?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *