Les 1 *28 September tot 4 Oktober
Om sin uit die geskiedenis te maak: Serubbábel
en Esra
Sabbatmiddag
Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Jeremia 25:11, 12; Daniël 9:1, 2; Esra 4:1–7; Jesaja 55:8, 9; Esra 7:1–28.
Geheueteks:
“ ‘So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die
God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in
Jerusalem wat in Juda is.’ ” (Esra 1:2).
Volgens wat in Jeremia geskryf staan, het God belowe dat sy volk na 70 jaar
se ballingskap in Babilonië, terug huis toe sou keer. Koning Kores was
God se instrument om hierdie terugkeer te laat gebeur. Deur God gesalf
(Jesaja 45:1), het Kores ongeveer in 538 v.C. ‘n dekreet uitgevaardig wat
God se volk toegelaat het om na hulle land terug te keer om die tempel te
gaan herbou. Dit was God (nie Kores nie) wat oor Jerusalem gespreek het: “‘Dit moet
gebou word,’ en die tempel, ‘moet gegrond word’” (Jesaja 44:28). God was die borg dat
Jerusalem herbou moes word, en Hy het die hart van Kores aangeraak om toestemming te
gee om die tempel te herbou.
Dit is ook altyd bemoedigend om te sien hoe God se volk positief op die Here se handelinge
gereageer het: “Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak, en die
priesters en die Leviete – elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis
van die Here wat in Jerusalem is, te bou.” (Esra 1:5). Hier sien ons ‘n voorbeeld van mense
wat positief op God se magtige en genadige handelinge reageer het. Ons beste optrede
ontstaan uit ‘n besef van wie God is en wat Hy gedoen het, en deur te weet hoe liefdevol
Hy namens sy volk intree.
*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 5 Oktober.
Sondag 29 September
Die eerste terugkeer van die bannelinge
Lees Jeremia 25:11, 12 en 29:10, en Daniël 9:1, 2. Wanneer het van die bannelinge die
eerste keer na Jerusalem teruggekeer? Watter profesie was hierdeur vervul?
Die Here het Kores beïndruk om die eerste terugkeer na Jerusalem toe te laat, om sodoende
Jeremía se 70-jaar profesie te vervul. Jeremia het geskryf dat die land van Juda vir 70 jaar
deur Babilon se toedoen verlate sou lê (dit het vanaf 606/605 v.C. tot 537/536 v.C. gebeur),
maar toe het God deure vir die gevangenes oopgemaak om terug te keer. Terwyl Daniël
die geskrifte van Jeremía bestudeer het, het hy besef dat die tyd vir die beloofde terugkeer
aangebreek het. In Daniël 9 lees ons dat Daniël geweldig ontsteld was omdat die 70 jaar
amper verby was sonder dat daar enige verandering in sig was, terwyl die nuwe Persiese
Ryk besig was om tot stand te kom. Hy het geween en na God uitgeroep, en vir genade vir
die vervulling van Sy beloftes gepleit. In dieselfde hoofstuk (Daniël 9:24–27), het God
Daniël verseker dat Hy oor alles waak en dat Hy ‘n plan vir die toekoms het met ‘n Verlosser
wat vir die mense se sondes sou sterf om hulle te verlos, hulle te regverdig, en so die doel
van die offerstelsel te vervul. Eintlik het God vir hom gesê, “Daniël, moenie besorgd wees
nie. Aangesien die ware Verlosser (Jesus) werklik gaan kom, sal Ek intussen ook vir jou
‘n verlosser stuur.” Kort hierna het God Kores, die koning van Persië, beïndruk om bevel
te gee dat die bannelinge vrygelaat moes word. God is altyd getrou om Sy beloftes na te
kom (sien hoe God ingegryp het om die welvaart van Sy volk in hulle tuisland te waarborg.)
Esra 1 vertel van Koning Kores se aankondiging om die Israelitiese nasie vry te laat om na
Jerusalem terug te keer, en om die huis van die Here te gaan bou. Die bevel was êrens tusen
539-537 v.C. gegee. Kores laat hulle nie net gaan nie, maar hy maak ook seker dat hulle
met geskenke en offergawes teruggaan wat ook die oorspronklike voorwerpe van die tempel
wat Nebukadnésar weggevoer het, ingesluit het. Hierdie gebeurtenis herinner ons aan die
uittog uit Egipte baie jare voor hierdie gebeurtenis, toe God ook die harte van die Egiptenare
beïndruk het om aan die Israeliete afskeidsgeskenke te gee. Hierdie eerste groep wat na
Juda toe teruggekeer het, het uit ongeveer 50,000 mense bestaan, wat hoogs waarskynlik
vroue en kinders van ander gebiede ingesluit het.
Watter ander historiese profesieë was presies volgens die Woord vervul, en hoe
kan ons daaruit vertroosting kry dat God die toekoms ken en dat ons op Sy
beloftes aan ons, kan steun?
Maandag 30 September
Oorsig van konings en gebeurtenisse
Die eerste groep terugkerendes se taak was om die tempel van God te herbou. Ons sal later
die teenstand wat hulle met die bou van die tempel ondervind het, bespreek. Vir eers sal ons
die troonopvolging van die Persiese konings gedurende die tempel se uitgerekte konstruksie
en die herbouing van Jerusalem, bespreek. Dit is belangrik om die geskiedenis wat die
agtergrond van die verhale van Esra en Nehemía vorm, te ken, want dit gee dieper insig in
die boodskappe wat vir ons daarin opgesluit is.
Lees Esra 4:1–7. Wie was die verskillende konings wat hier genoem word gedurende
wie se regering daar teenstand teen die bou van die tempel ondervind was?
Hier volg die lys, in chronologiese volgorde, van Persiese konings wat met die boeke van
Esra en Nehemía verbind word. Dit begin met Kores wat die Persiese Ryk tot stand gebring
en Babilon verower het in 539 v.C.:
Kores II “die Grote” (559–530 v.C.)
Cambyses II (530–522 V.C.)
Darius I (522–486 V.C.)
Xerxes I (485–465 V.C.) (volgens die Boek Esther ook bekend as Ahasvéros.)
Artasásta (465–424 V.C.)
Terwyl ons hierdie boeke bestudeer, is dit baie belangrik om te weet dat die verskyning
van hierdie konings se name nie in chronologiese volgorde in Esra genoem word nie.
Byvoorbeeld, Esra 4:6-24 word voor hoofstuk 5 wat die verhaal van die teenstand teen die
bou van die tempel verder vertel, ingevoeg. Gevolglik het die skryf van die briewe wat na
Xerxes I (Ahasvéros) en Artasásta in Esra 4 verwys, na die gebeurtenisse in hoofstukke 5 en
6 wat na Darius I verwys, plaasgevind. Hierdie volgorde maak die lesers deurmekaar, en dit
mag die rede vir die verwarring wat mense oor die eeue heen met hierdie boeke ondervind
het, verklaar. Terwyl ons hierdie kwartaal deur hierdie boeke werk, sal dit ons help om
die boodskappe van Esra en Nehemía te verstaan as ons die volgorde van gebeurtenisse in
hierdie boeke beter verstaan.
Hoe dikwels het jy dinge in die Bybel gevind wat jou verwar het? Hoe kan ons
leer om God en sy Woord te vertrou, selfs wanneer ons dinge teëkom wat nie sin
maak nie? Hoekom is dit belangrik vir jou om dit te doen? (Sien Jesaja 55:8, 9.)
Dinsdag 1 Oktober
Die tweede terugkeer van die bannelinge
In Esra 7:1–10 en 8:1–14 sien ons hoe Koning Artasásta Esra toelaat om na Jerusalem
terug te keer (457 v.C.), en ook enigeen wat graag saam wou terugkeer. Daar is nie baie
oor die verhouding tussen die koning en Esra geskryf nie, en of Esra vir die koninklike hof
gewerk het nie. Esra 8 bevat ‘n lys van die hoofde van die families wat teruggekeer het en
begin met die priesters gevolg deur die koninklikes, en sluit dan af met die gewone Joodse
bevolking. Twaalf families word spesifiek genoem wat die indruk gee dat die leser hier aan
die twaalf stamme van Israel herinner moet word. Hierdie Skrifgedeelte noem ‘n lys van
ongeveer 1,500 mans, en as vroue en kinders bygetel word, kan dit ‘n totaal van ongeveer
5,000 tot 6,000 mense gee. Hierdie was ‘n baie kleiner groep as die eerste groep wat saam
met Serubbábel en Jésua teruggekeer het.
Lees Esra 7:1–10. Wat leer ons hier oor Esra?
Esra is ‘n skrifgeleerde van priesterlike afkoms. As priester is hy ‘n afstammeling van
Aäron, die broer van Moses, en wat ook die eerste priester van Israel as ‘n nasie was. As
gevolg van die verslae wat in Esra opgeteken staan, en ook Joodse tradisie, word Esra
se naam selfs vandag nog hooggeag. Of Esra as ‘n skrifgeleerde in die hof van Koning
Artasásta gedien het, is nie bekend nie; daarom, in hierdie beskrywing van Esra as ‘n
skrifgeleerde word daar òf na sy vorige verantwoordelikhede òf na sy vermoë wat hy begin
gebruik het na sy aankoms in Juda, verwys. Maar, Esra moes vir Artasásta in een of ander
persoonlike hoedanigheid gewerk het om deur die koning as die leier van die ekspedisie
gestuur te word. In Esra 7:6 and 10 word Esra as ‘n “vaardige” en toegewyde skrifgeleerde
en onderwyser beskryf. Die woord “vaardig” beteken letterlik “vinnig,” wat aandui dat
iemand vinnig van begrip is, en om inligting te verwerk. Esra het vinnig gedink – hy was
bekend vir sy kennis en skerpsinnigheid wat die wet van God betref. Daarbenewens is die
feit dat die koning Esra gekies het om die groep Israeliete na Juda te lei, ‘n bevestiging van
sy deursettings- en leierskapvermoëns.
Let daarna op dat Esra sy hart daarop gerig het om die “wet van die Here” te
ondersoek en te betrag (Esra 7:10). Hoe kan ons hierdie beginsel tans op onsself
toepas?
Woensdag 2 Oktober
Artasásta se opdrag
Lees Esra 7:11–28. Wat het die koning se opdrag ingesluit? Hoekom was hierdie
instruksies vir die volk van Israel so belangrik?
Artasásta se opdrag stem met Kores se eerste dekreet ooreen. Die koning het toegelaat
dat almal wat gewillig was, veral die van priesterlike afkoms, die reis na Jerusalem
moes meemaak. Alhoewel, volgens die Murashu historiese dokumente, het die oorgrote
meerderheid van die Jode uiteindelik in Persië agtergebly (soos gesien kan word in die
verhaal van Ester), en was daar diegene wat vir ‘n geleentheid gewag het om ‘n nuwe lewe
in die tuisland van hulle voorouers te gaan begin. Die koning het die meeste van sy bevele
aan die skatmeesters in die gebied anderkant die Eufraat, gerig. Die skatmeesters moes Esra
van wat hy ook al nodig sou hê om die stad en die “huis van die Here wat in Jerusalem is,
te versier”, voorsien (Esra 7:27). Ten laaste het die koning aan Esra opdrag gegee om toe
te sien dat die Wet van God asook die wet van die land reg onderhou moes word deur ‘n
geregtelike stelsel in plek te kry. Die orde en organisasie wat deur hierdie bevel tot stand
sou kom, is belangrike aspekte vir die behoud van enige gemeenskap. Bowendien het die
koning dit makliker vir Esra en die Israeliete gemaak om hulle tuisland te herbou.
Dui die koning se besorgdheid oor die herbou van die stad en die tempel aan dat hy in Esra
se God geglo het? Artasásta noem God die “God van Israel wie se woning in Jerusalem is”
(Esra 7:15). Die terminologie wat die koning gebruik het vir die God van Israel impliseer
dat hy die Here as net nog ‘n godheid wat tevrede gehou moes word deur geskenke, gesien
het. Hy wou nie hê dat hierdie plaaslike god vir hom en sy seuns kwaad moes word nie
(Esra 7:23). Boonop is dit belangrik dat ons oplet dat 457 v.C. ook die jaar was wat Egipte
in opstand teen die Persiese regering gekom het; dit is dus waarskynlik dat die inskiklike
handelinge van die koning daarop gemik was om die lojaliteit van die provinsie van Juda
te bekom. Ongelukkig, ten spyte van die wisselwerking tussen die koning en beide Esra en
Nehemía, het dit nie gemaak dat hy in hulle God begin glo het nie. Niks in die teksverse
dui daarop dat hy ‘n volgeling van God geword het nie, wat beteken dat die Here selfs
onbekeerde mense kan gebruik om Sy wil op aarde uit te voer.
Hoe kan ons, te midde van so baie pyn en lyding, leer om in God se Oppermag oor
die aarde soos hier gesien word, te glo?
Donderdag 3 Oktober
Die belangrikheid van opvoeding
Lees Esra 7:6 en 10. Wat leer hierdie teksverse ons oor hoe belangrik goeie
godsdienstige opvoeding is?
Esra se volkome toewyding aan God en sy besluit om te studeer en dit wat hy geleer het toe
te pas, en dan die mense om hom van God se Woord te leer (Esra 7:6, 10), het hom vir ‘n
groter bediening in Israel voorberei. Hierdie Bybelverse bevestig dat hy homself aan die
studie, toepassing en die onderrig van die wet van die Here toegewy het. Ellen G. White
se insig hier is belangrik: “As afstammeling van Aäron, het Esra priesterlike opleiding
ontvang; en daarby was hy ook bekend met die geskrifte van die towenaars, die astroloë
en die wyse manne van die Medo-Persiese koninkryk. Maar hy was nie tevrede met sy
geestelike toestand nie. Hy het verlang om ‘n volle oorgawe aan God te maak; hy het na
wysheid om die Goddelike wil uit te leef, verlang. En so het hy sy hart daarop gerig ‘om
die wet van die Here te ondersoek en te betrag …’ Ezra 7:10. Dit het hom daartoe gelei om
ywerig die geskiedenis van God se volk soos dit in die geskrifte van profete en konings
aangeteken is, te bestudeer. Hy het die historiese en poëtiese boeke van die Bybel nagevors
om uit te vind hoekom die Here toegelaat het dat Jerusalem vernietig word en sy volk as
gevangenes na ‘n heidense land te laat wegvoer het.” — Prophets and Kings, bl. 608, (vry
vertaal).
“Die pogings van Esra om ‘n belangstelling in die studie van die geskrifte te laat herleef,
was permanent deel van sy deeglike lewenslange werk om die Heilige Geskrifte te bewaar
en meer afskrifte te laat maak. Hy het al die afskrifte van die wet wat hy in die hande kon
kry, bymekaargemaak, dit laat oorskryf en dan versprei. Die suiwer Woord wat daardeur
vermenigvuldig was en in die hande van baie mense geplaas was, het kennis wat van
onberekenbare waarde was, versprei.” — Bladsy 609, (vry vertaal). Let op dat alhoewel
Esra met die weë van die heidene bekend was, hy gesien het dat hulle kennis nie korrek
was nie; daarom het hy die waarheid gaan soek by die oorsprong van waarheid, by die
Woord van God en die “die Wet van die Here.” Hy moes baie van dit wat hy by die
wêreldse universiteite geleer het, afgeleer het, omdat baie van dit wat aan hom geleer was,
ongetwyfeld verkeerd was. Per slot van rekening, hoeveel kon hy by “die geskrifte van die
towenaars en die sterrewiggelaars” baat gevind het?
Op watter maniere moet ons vandag baie van wat ons by die wêreld leer, afleer?
Vrydag 4 Oktober
Vir verdere studie:
Lees Ellen G. White, “Ezra, the Priest and Scribe,” bl. 607–617, in Prophets and Kings.
Dink na oor Esra se ywerigheid: “Esra het ‘n woordvoerder vir God geword, en die mense
rondom hom in die beginsels van die hemel opgevoed. Gedurende die laaste jare van sy
lewe, òf dit naby die koningshof van Medo-Persië òf by Jerusalem was, was sy hooftaak
om onderrig te gee. Terwyl hy aan andere die waarheid oorgedra het, het sy vermoë om
die werk te verrig, vermeerder. Hy het‘n godvrugtige en toegewyde man geword. Hy was
die Here se getuie aan die wêreld oor hoe die krag van Bybelse waarheid jou daaglikse
lewe kan veredel.” — Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 609, (vry vertaal). “In die
hervormingswerk wat nou voortgesit moet word, is daar ‘n behoefte vir mense wat, soos
Esra en Nehemía, sonde nie sal versag of verskoon nie, of huiwerig sal wees om die eer van
God te verdedig nie. Diegene wie met hierdie werk belas is, sal nie stilbly wanneer kwaad
gedoen word nie, nog minder sal hulle boosheid onder die dekmantel van liefde toesmeer.
Hulle sal onthou dat God nie ‘n aannemer van die persoon is nie, en dat strengheid teenoor
‘n paar, genade vir baie kan beteken. Hulle sal ook onthou dat die Gees van Christus altyd
onthul sal word in die een wat sonde bestraf.” — Bladsy 675, (vry vertaal).
Vrae vir bespreking:
1. Ja, die Here het baie wonderlike beloftes aan ons gegee. Maar terselfdertyd
dwing God Homself nie op ons af nie. Watter keuses mag ons dalk in ons lewens
maak wat die vervulling van Sy beloftes vir ons kan verhinder?
2. Lees die gebed in Daniël 9:1–23. Watter beginsels sien jy hier wat in jou eie
ondervinding persoonlik toegepas kan word? Dit wil sê, wat het Daniël gedoen,
wat was sy gesindheid, en waarvoor het hy gevra? Wat sien jy nog hier wat op ons
vandag van toepassing kan wees?
3. In Donderdag se les lees ons dat Ellen G. White skryf oor hoe die Woord van
God hoofsaak in die bediening van Esra was, en oor hoe ywerig hy gewerk het om
die Woord onder die mense te versprei. Wat is die belangrike en vanselfsprekende
les vir ons hier oor hoe God se Woord die hoofsaak in ons lewens en kerke vandag
moet wees?