God en sy verbond

Les 8 *16 tot 22 November
God en sy verbond

Sabbatmiddag

Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 10:1–29, Génesis 4:8–19, Hebreërs 13:20, Joshua 24, Nehemia 10:30–39,
Hebreërs 8:1–7.

Geheueteks:
“ ‘Maar op grond van dit alles sluit ons ‘n vaste verbond en beskryf dit; en op die verseëlde
stuk het ons owerstes, ons Leviete, ons priesters geteken.’ . . . ons wou die huis van onse
God nie laat verwaarloos nie” (Nehemía 9:38; 10:39).

Wat bedoel die Bybel wanneer daar na die “verbond” verwys word?
Die eenvoudigste verduideliking van die Bybelse verbond is dat dit
‘n wetlike verhoudingsooreenkoms tussen God en sy volk is. Dit
is God wat sê, “Jy is my volk, en Ek is jou God.” Behalwe hierdie
verbond kan ons ook die gebruik van geskrewe verbonde tussen
ander mense in die ou wêreld vind, dikwels tussen leiers en hulle ondergeskiktes. Hierdie
verbonde was gesluit omdat dit voordelig vir beide partye was. Die leier sou die mense
onder sy sorg neem, en die mense sou hom met eerbetoning dien. Maar God se verbond
was anders. God sou nie werklik daaruit iets ontvang nie, en tog het Hy belowe om daaraan
getrou te wees, selfs al was die mense nie getrou nie. Wanneer slegte dinge begin gebeur
het, het die seëninge en vervloekinge wat aan die verbond gekoppel was die Israeliete laat
besef dat hulle die verbond verbreek het.

Hierdie week gaan ons na die verbond kyk wat die Israeliete in Nehemía 10 met God
hernieu het, en ook die geskiedenis van die verbondsooreenkomste in die Bybel en die
belangrikheid daarvan oor die algemeen bespreek.

*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 23 November.

Sondag 17 November
Die betekenis van die verbond

Lees Nehemía 10:1–29 (en verfris jou geheue deur ook Nehemía 9:36–38 te lees). Wie
sluit die verbond, en hoekom het hulle dit gedoen?

Alhoewel net die leiers die dokument geteken het, toon die vers puntig dat “die res van die
volk … onder eed en met beswering hulleself verplig [het] om te wandel in die wet van God”
(Nehemía 10:28, 29). Wat van die verbond was so belangrik dat hulle almal begeer het om
‘n ooreenkoms met God aan te gaan? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons teruggaan
na die begin om die Bybelse begrip van die verbond te verstaan.

Die verbond was belangrik omdat dit deel van God se plan om met die sondige mensdom
te werk, gevorm het, en sy verlange om ‘n verhouding met sy volk te hê, gedemonstreer
het. Dit het ook die mens toegelaat om sy begeerte om toegewyd aan God te lewe, te
demonstreer. Die Bybelse skeppingsverhaal in Génesis 1 en 2 openbaar nie net die skepping
van die eerste mense nie, maar ook die verhouding tussen hulle en God, en ook met mekaar.
Maar, sonde het al daardie verhoudings verbreek. Sonde is die teenoorgestelde (die antitese)
van die skepping, wat die lewe met die dood vervang.

Adam se nageslag verdeel in twee rigtings toe Kain die kwaad (Génesis 4:8–19) en Set God
gekies het (Génesis 5:3–24). Kain se nageslag eindig met Lameg wat veelwywery begin
het (Génesis 4:17–19), en is die sewende geslag na Adam (Adam ingesluit). Geweld en
wraak aan die kant van Kain staan naas Set se getroue afstammelinge. Set se stamboom
word ook getel, maar die sewende in sy nageslag is Henog wat “met God gewandel” het
(Génesis 5:24), en God het hom hemel toe geneem.

Ongelukkig het die wêreld liewer die kwaad bo God verkies, en toe het daar ‘n tyd gekom
dat die stamboom van die getroues baie min was sodat daar baie gou geen nageslag sou
oorgebly het deur wie God Sy Woord sou kon vervul het om die beloofde Saad te stuur om
die mensdom te red nie. En toe het God met die vloed tussenbeide getree. Die vloed was
egter die teenoorgestelde van die skepping, ‘n verdere vernietiging van lewe, en tog het God
net wat die mensdom reeds geruïneer het, vernietig (Génesis 6:11–13).

Hoe het jy persoonlik die werklikheid van sonde se vernietigende krag ondervind?
Wat is die enigste mag teen sonde, en hoe kan ons dit benut?

Maandag 18 November
Verbonde wat God met sy volk gesluit het

Na die vloed het God weer begin, hierdie keer met Noag en die mense ná hom. Hy wou ook
met hulle ‘n verhouding gehad het, en met daardie verhouding het Hy ‘n verbond in gedagte
gehad. Die Bybel identifiseer sewe belangrike verbonde wat God met sy volk gesluit het:

1ste Verbond – Adam (Génesis 1–3)
2de Verbond – Noag (Génesis 6–9)
3de Verbond – Abraham (Génesis 12:1–3)
4de Verbond – Moses en die Israelitiese nasie (wat bekend staan as die Sinaïtiese of
Mosaïese Verbond (Exodus 19–24)
5de Verbond – Pínehas (Númeri 25:10–13)
6de Verbond – Dawid (II Samuel 7:5–16)
7de Verbond – Die nuwe verbond (Jeremia 31:31–34)

Lees die volgende teksverse. Wat bedoel hulle met die “ewige verbond”? (Génesis
9:16, 17:7, Jesaja 55:3, Hebreërs 13:20).

Die Bybel gebruik die term “ewige verbond” sestien keer. Dertien daarvan word spesifiek
op die verbonde met Abraham, Israel by Sinai, en Dawid toegepas. Elkeen van die verbonde
wat hierbo genoem word, dra die stempel van die “ewige verbond”, al was elkeen van hulle
uniek. Net soos die ewige evangelie vir die eerste keer in Génesis 3:15 aangekondig word,
en dan in toenemende mate dwarsdeur die Bybel geopenbaar word, so gebeur dit met die
ewige verbond. Elke opeenvolgende verbond verklaar en verdiep ons begrip van die ewige
verbond van liefde wat ten volle in die plan van verlossing openbaar word. Die nuwe en ou
verbonde, soos wat hulle dikwels van mekaar onderskei word, bevat dieselfde komponente.

1. Heiligmaking: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart” (Jeremia
31:33; vergelyk Hebreërs 8:10).
2. Versoening: “en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (Jeremia
31:33; Hebreërs 8:10).
3. Sending: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie, en sê:
‘Ken die Here’; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle” (Jeremia 31:34;
Hebreërs 8:11).
4. Regverdiging: “want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer
dink nie” (Jeremia 31:34; Hebreërs 8:12).

Dinsdag 19 November
Die struktuur van die verbond

Bybelkenners erken dat die verbonde in die Bybel ‘n kenmerkende struktuur het; dit kan
selfs in die ou Hetitiese verbonde gesien word. Dit wil sê, God het met die mense so
gekommunikeer dat hulle veral dit as deel van hulle kultuur, kon verstaan. Die verbonde
wat gedurende die tyd van antieke Israel algemeen was, het die volgende afdelings bevat: ‘n
aanhef (wie God is); ‘n voorwoord oor die geskiedenis (om die verhouding in die verlede te
definieer); bepalinge of wette; seëninge en vervloekinge; getuies en spesiale voorsiening
vir die bewys van die verbond. Dit is dus geen verrassing dat God iets gelyksoortig gebruik
het om met sy volk te kommunikeer nie. Hy het dit waarmee hulle vertroud was, gebruik.

Byvoorbeeld, die hele boek van Deuteronómium is in die vorm van ‘n verbond geskryf,
want Moses nooi God se volk uit om met hulle God ‘n verbondsverhouding te sluit. Dit
dui die verbond soos volg aan: (1) Aanhef (Deuteronómium 1:1–5); (2) Voorwoord oor
die geskiedenis (Deuteronómium 1:6–4:43); (3) Bepalinge of wette (Deuteronómium
4:44–26:19); (4) Seëninge en vervloekinge (Deuteronómium 27–30); (5) Getuies
(Deuteronómium 30:19); en laastens (6) Spesiale voorsiening (Deuteronómium 31:9–13).

Lees Josua 24. Hoe word die verbonds-struktuur ook in hierdie hoofstuk geopenbaar?

Dieselfde is ook waar met die hernuwing van die verbond wat Josua gesluit het. Eerstens
die aanhef waar Josua God voorstel as “So sê die Here, die God van Israel” (Josua 24:2).
Dan volg ‘n lang voorwoord oor die geskiedenis waar Joshua die volk herinner aan wat
God vir hulle in die verlede gedoen het (Josua 24:2–13). Na hierdie geskiedkundige
oorsig word die bepalinge en wette opgenoem (Josua 24:14, 15, 23), dan die seëninge en
vervloekinge (Joshua 24:19, 20), en dan word die getuies geïdentifiseer (Joshua 24:22, 27)
en die spesiale voorsiening verklaar (Joshua 24:25, 26). Ook in Nehemía was die basiese
vorm van ‘n verbond gebruik om met Israel te kommunikeer en om aan hulle nie net God se
leiding in hulle verlede te toon nie, maar ook wat van hulle verwag was om hulle deel van
die verbond te volbring het.

Lees Joshua 24:15. Watter beginsel vind ons hier wat ons op onsself vandag kan
toepas?

Woensdag 20 November
Plegtige beloftes

Lees Nehemía 10:30–39. Wat was die vier dinge wat die Israeliete beloof het om te
doen om hulle deel van die hernieude verbond na te kom?

Die volk het die volgende plegtig belowe:
1. Geen ondertrouery nie (geen huwelike met individue wat afgode dien en afgodediens tot
gevolg kon hê nie);
2. Getroue sabbatsonderhouding (geen steuringe toelaat wat besigheidstransaksies tot
gevolg kon hê nie);
3. Kwytskelding van skuld en die sabbatsjaarvereiste na te kom om sodoende na die armes
om te sien en hulle vry te stel;
4. Om die tempel en die tempeldienste finansieel te ondersteun met eerstelingvrugte,
eersgeborenes en tiendes, en sodoende die voortbestaan van ware aanbidding te verseker.
Die eerste drie beloftes het met verhoudings (huwelike en kwytskelding van skuld) en met
God (die Sabbat) te doen gehad, terwyl die laaste een (Nehemía 10:32–39) genoem word
om seker te maak die tempelregulasies word nagekom.

Die gemeenskap het ten doel gehad om te demonstreer dat hulle toegewyd aan die verbond
was en daarom praktiese maniere sou implementeer om hulle verhouding met God en met
andere op te bou. Selfs indien hulle nie altyd die verbond volmaak nagekom het nie, het
hulle verstaan dat die regte gewoontes en praktyke die toekoms sou beïnvloed. Indien die
Israelitiese nasie op die nou weg wou bly, moes hulle praktyke en gewoontes in plek kry
wat hulle sou help om te bereik wat hulle graag wou bereik. Indien hulle saam met God
wou wandel, sou sabbatsonderhouding en die versorging van die tempel belangrike stappe
in die regte rigting gewees het. Ongelukkig het hulle hul beloftes nie goed nagekom nie,
soos in die laaste hoofstukke van Nehemía gesien kan word. Maar, selfs al het almal dit nie
nagekom nie, was daar sommige of baie van hulle wat dit wel gedoen het. Met God se hulp
en deur op Hom te fokus, kan ons die regte gewoontes ontwikkel en op die regte pad bly.

“Deur die regte beoefening van u wil kan u hele lewe verander word. Deur u
wil aan Christus oor te gee, verbind u uself met ‘n mag wat sterker is as al die
owerhede en magte. U sal krag van omhoog ontvang om u standvastig te maak,
en dus sal u, deur ‘n gedurige oorgawe aan God, in staat gestel word om die nuwe
lewe te leef, ja die lewe van geloof.” — Ellen G. White, Skrede na Christus, bl. 48.
Wat hou jou terug om te ondervind wat hier geskrywe is?

Donderdag 21 November
Die tempel

Lees Nehemía 10:32–39 weer. Hoekom het die Israeliete die tempel se praktyke as
noodsaaklik beskou, soos “ons wou die huis van onse God nie laat verwaarloos nie”
(Nehemía 10:39) dit aandui? Hoekom was die tempel vir hulle geloof in die geheel, so
belangrik? (Sien ook Hebreërs 8:1–7.)

Die Israeliete het belowe om die tempel te versorg. Al was hulle ‘n klein groepie wat
finansieel deur die konings verdruk was, het hulle besluit dat dit nodig vir hulle was om
van die bietjie wat hulle gehad het, te gee, sodat die tempel kon floreer en nie net oorleef
nie. Daarom het hulle gekies om ‘n derde van ‘n sikkel vir die tempel elke jaar te gee,
in plaas daarvan om net te gee wanneer die volk getel moes word, soos die wet vereis
het. Die volk het dit nodig geag om dit wat ‘n vereiste was, te oortref. Boonop het hulle
die lot gewerp om die verantwoordelikheid aan spesifieke families toe te ken om hout te
lewer en vuur te maak, want hulle het besef dat as hulle nie georganiseerd sou wees nie,
die praktyk heeltemal sou verdwyn. Die eerstelinge van hulle grond en vrugtebome, die
eersgeborenes van hulle seuns en vee, en die tiendes en offergawes was dié gedeelte wat vir
die diensdoende priesters en Leviete gegee moes word om in hulle behoeftes te voorsien.
‘n Tiende van alles moes vir die Leviete gegee word. Ook die eersgeborenes was met geld
losgekoop en by die bedrag vir die Leviete bygevoeg. Maar, ‘n tiende van die Leviete se
tiende moes aan die priesters gegee word.

Die tempel was die hartklop van die volk van Israel. Omdat dit die kern van hulle geloof
was, was dit die grootste tragedie wat hulle te beurt kon val toe Nebukadnésar die tempel
afgebreek het en die heilige voorwerpe van die tempel weggedra het. Wanneer die tempel
behoorlik bestuur was, het dit aan die nasie ‘n energieke geestelike lewe gegee, omdat dit
hulle die allerbeste oplossing vir die sondeprobleem, die dood van ‘n lam, getoon het. Toe
Jesus op die kruis gesterf het, het Hy die oplossing voorsien (Romeine 5:5–10). Boonop
het die volk uit die jaarlikse diens van die Dag van Versoening geleer dat God ‘n plan het
om uiteindelik alle kwaad en sonde vir altyd uit te roei. Met ander woorde, die doel van die
tempel was om aan die mense die hele plan van verlossing uit te beeld. Die lesse wat ons
kry deur die tempeldienste te bestudeer, is ontsaglik en nodig, om aan ons ‘n groter beeld
van God se karakter te gee en om die plan van verlossing vir ons uit te lig.

“Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus
Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.”
(I Timótheüs 1:15). Waarop het Paulus gehoop, en hoe kan ons dit ook ons hoop
maak?

Vrydag 22 November
Vir verdere studie:

Lees Ellen G. White, “Toewyding,” bl. 43–48, in Skrede na Christus. “Die werk in die
aardse heiligdom het uit twee dele bestaan; die priesters het daeliks in die Heilige plek
gedien, terwyl die hoëpriester eenmaal per jaar in die Allerheiligste plek ‘n spesiale
werk van versoening vir die reiniging van die heiligdom gedoen het. Dag na dag het
die boetvaardige sondaar sy slagoffer na die ingang van die tabernakel gebring en deur
sy hande op die slagoffer se kop te plaas, het hy sy sondes bely, en het hy dus in beeld
sy sondes oorgedra van homself op die onskuldige slagoffer. Daarna is die dier geslag.
‘Sonder bloedvergieting,’ sê die apostel, is daar geen vergifnis nie. ‘want die siel van die
vleis is in die bloed.’ Levítikus 17:11. Die geskonde wet van God het die lewe van die
oortreder geëis. Die bloed wat die verbeurde lewe van die sondaar voorstel en wie se skuld
op die slagoffer oorgedra is, is deur die priester in die Heilige plek ingeneem en voor die
voorhangsel gesprinkel waaragter die ark was wat die wet bevat het wat deur die sondaar
oortree is. Deur hierdie seremonie is die sonde deur die bloed in beeld in die heiligdom
ingebring. In sekere gevalle is die bloed nie in die heiligdom ingebring nie; maar die vleis
is deur die priester geëet soos Moses die seuns van Aäron beveel het om te doen, ‘om die
ongeregtigheid van die vergadering te dra.’ Levítikus 10:17. Albei hierdie seremonies
was ‘n voorstelling van die sinnebeeldige oorplasing van die sonde van die sondaar na die
heiligdom.” — Ellen G. White, Die Groot Stryd, bl. 418.

Vrae vir bespreking:

1. Dink na oor beloftes wat jy gemaak het en nie nagekom het nie, al was jy hoe
opreg en gretig om dit te probeer hou. Wat het jy uit daardie ondervinding geleer
wat jou miskien kan help om nie weer ‘n soortgelyke fout te maak nie?

2. ‘n Verbond is ‘n wetlike bevestiging van ‘n verhouding. Ons het dit met God
verbreek, maar Hy bly altyd getrou om sy deel te doen, selfs al is ons nie getrou nie.
Hoe kan hierdie begrip van God se goedheid en getrouheid mense na ‘n intieme
verhouding met Hom trek en sodoende ons help om reg te lewe?

3. Dink daaraan hoeveel kere jy ontrou aan God was, en aan die beloftes wat ons
het onder die “nuwe verbond” (sien Lukas 22:20, Hebreërs 8:13, 9:15). Hoekom
is dit so belangrik om dan die plan van verlossing te verstaan, en die belofte van
vergifnis wat ons het deur die offerande van Jesus wie se bloed die “nuwe verbond”
vir ons verseël het?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *