Beproewinge, verdrukkinge, en naamlyste

Les 9 * 23 tot 29 November
Beproewinge, verdrukkinge, en naamlyste

Sabbatmiddag

Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Esra 1:9–11; Daniël 1:1, 2; Daniël 5; Deuteronómium 30:1–6; Esra 8:1–23; Nehemía
11:1, 2;12:1–26.

Geheueteks:
“het by hulle broers, die vername manne onder hulle, aangeslui, en hulle het onder eed en
met beswering hulleself verplig om te wandel in die wet van God, wat deur die diens van
Moses, die kneg van God, gegee is, en om te hou en te doen al die gebooie van die Here
onse Here, en sy verordeninge en sy insettinge;” (Nehemía 10:29).

Ons is geneig om geslagsregisters en lang inligtingslyste in die Bybel oor te
slaan. Maar die Here het dit in die Bybel vir ‘n rede ingesluit. Die Here
van die Bybel is die God wat die kleinste besonderhede belangrik ag. Hy
let op na die fynste dingetjies, en dit verseker ons dat ons nooit deur Hom
vergeet sal word nie. Hierdie paar voorbeelde van geslagsregisters verklaar
dat God alles oor ons families weet, en die lyste van verskillende dinge sê aan ons dat God
selfs omgee vir dit wat andere as “onbelangrik” mag beskou. Jesus het verklaar dat God
vir die mossies sorg en die hare op ons hoofde tel: “Word vyf mossies nie vir twee stuiwers
verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle
hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Lukas
12:6, 7). Die God wat oor hierdie besonderhede omgee, sorg ook vir ons, en Hy weet selfs
van al die dinge wat ons kwel. Daarom kan ons ten volle glo, vertroue beoefen, en met
volle sekerheid rustig wees, wetende dat die Here oor elke besonderheid van ons lewens
omgee. Terwyl dit ons troos, en tereg so, behoort dit ook aan ons te sê dat ons ook oor elke
gebied van ons eie lewe moet omgee.

*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 30 November.

Sondag 24 November
Die God van die geskiedenis

Lees Esra 1:9–11 en Daniël 1:1, 2. Hoe help die teksverse in Daniël ons om te verstaan
waarna Esra verwys?

Let daarna op hoe daar in Esra besonderhede gegee word terwyl in Daniël die groter
prentjie beskryf word. Maar saam toon hierdie verse aan ons dat die Here in beheer is. “Die
geskiedenis van die nasies praat met ons vandag. God het aan elke nasie en elke individu ‘n
plek in Sy groot plan toegewys. Manne en nasies word vandag deur die dieplood in die hand
van Hom wat nie kan fouteer nie, getoets. Almal besluit oor hulle eindbestemming deur
hulle eie keuses, terwyl God, deur sy Oppermag in beheer van alles is om sy doelstellings
tot stand te bring.” — Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 536, (vry vertaal).

Lees Daniël 5. Wat leer hierdie verse ons oor die oordeel wat oor Bélsasar gekom het?

Babilon het in Oktober 539 v.C. geval toe Kores, die koning van die Medo-Persiese Ryk,
die stad ingeneem het. Bélsasar, wat valslik op sy sukses, weelde en befaamdheid gesteun
het, was so arrogant dat hy ‘n uitspattige banket gereël het wat tot sy dood gelei het. Die
Goddelike hand het op die paleis se muur geskryf dat sy dae getel was en tot ‘n einde sou
kom. Alhoewel hy die lot van die magtige Koning Nebukadnésar en sy bekeringsverhaal
geken het, het Bélsasar nie sy les geleer nie. Dit is altyd tragies wanneer ons nie na God se
waarskuwings luister en nie sy instruksies volg nie.

Die profeet Daniël was al die tyd beskikbaar, maar hy was geïgnoreer. Wanneer ons van God
se heiligheid en sy teenwoordigheid in ons lewens vergeet, loop ons ‘n pad wat ingewikkeld
is en met probleme en tragedies besaai word, en wat uiteindelik tot ons dood kan lei.

Nadat hy die verhaal van Nebukadnésar herhaal het, het Daniël gesê, “Maar u,
Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet;” (Daniël
5:22). Hoe kan ons seker maak dat ons, in ons eie omstandighede, nie dieselfde tipe
fout maak wat Bélsasar begaan het nie? Hoe kan die werklikheid van die kruis ons
altyd voor God nederig hou?

Maandag 25 November
In hulle stede

Gaan deur die lyste in Esra 2 en Nehemía 7. Wat is jou waarneming?

Die herhaling van Esra 2 (die lys van die Babiloniese bannelinge wat saam met Serubbábel
en Jésua teruggekeer het), is doelbewus so in Nehemía gedoen. Soos reeds gesê is, hierdie
lyste mag vir ons oninteressant lyk, maar dit onthul ‘n belangrike punt, en dit is dat God
besorg is oor besonderhede wat vir ons nie belangrik voorkom nie.

Die mure van Jerusalem was nou klaargebou, en die Skrif beskryf met ‘n goeie rede dat
die eerste generasie terugkerendes, die Esra-Nehemía tydgenote, almal tot hierdie groot
prestasie bygedra het, selfs al was hulle sukses alleenlik van God afhanklik. Daardie geslag
het op dit wat die vorige geslag bereik het, voortgebou, al was die taak ingewikkeld en
gevul met hindernisse, en al het hulle nie die werk so vinnig voltooi as wat hulle graag sou
wou nie.

Esra en Nehemía se leierskap was hoog op prys gestel, maar die volk het ook hulle bydrae
gelewer. Elke groep het verskillende take op verskillende tye verrig, maar die resultaat was
indrukwekkend. Die begin (Esra 2) word aan die einde (Nehemía 7) gekoppel. Die tweede
tempel was nie net herbou nie, maar Jerusalem was ook opgeknap en goed gevestig.

Lees Nehemía 7:73. Wat leer dit ons oor hoe suksesvol hulle begeerte om God se wil
te doen, was?

“So het … die hele Israel in hulle stede gaan woon.” Die hele terugkeer en herbouing was
in baie opsigte buitengewoon. ‘n Volk wie se stad baie jare tevore verwoes was, wie se
tempel vernietig was en hulle grond geplunder was, het nou teruggekeer na dieselfde grond
en dieselfde stad en alles begin herbou, selfs die tempel ook. Dit moes vir hulle ook en al
die ander mense rondom hulle soos ‘n wonderwerk gevoel het. Maar dit was alles volgens
die wil en die beloftes van God gewees.

Wat in jou lewe lyk op hierdie oomblik hopeloos, maar nietemin vertrou jy op die
Here om jou deur te sien?

Dinsdag 26 November
Waar is al die priesters?

Soos ons gister gesien het, was daar geen twyfel dat dit ‘n verbasende vervulling van
profesie was wat die Jode uit Babilon teruggebring het nie. Maar soos dit met alles gaan
waarby die mens betrokke is, was daar maar probleme. En een van die groot probleme was
dat, ten spyte van al die wonderlike beloftes van herstel na die ballingskap, baie van die
Jode nie na die land van hulle voorvaders wou teruggekeer het nie. Dit wil sê, hulle het
verkies om in Babilon te bly. Hoekom so?

Lees Esra 8:1–15. Fokus spesifiek op vers 15. Wat was die groot besorgdheid hier, en
waarom was dit ‘n bekommernis vir iemand wat die nasie van Israel in hulle eertydse
vaderland wou hervestig?

Feit is, nie al die Jode in Babilon wat sommige Leviete ingesluit het, wou teruggekeer het
nie. Daar was verskeie redes daarvoor. Baie van hulle was in die nuwe land gebore en
grootgemaak, en dit was al wat hulle geken het. Baie wou dalk nie die lang en onbetwisbare
gevaarlike reis terug na ‘n land aanpak wat hulle in die eerste plek nog nooit geken het nie.
Maar ons weet dat hulle tog uiteindelik genoeg Leviete saamgeneem het om in die tempel te
dien (sien Donderdag se les), ten spyte van die uitdagings wat op hulle gewag het.

“Teen hierdie tyd was die Jode wat in die land van ballingskap gewoon het, al vir amper ‘n
eeu en ‘n half daar. Uitgrawings van Nippur het verskeie dokumente opgelewer wat toon
dat baie ryk Jode in daardie omgewing van Mesopotamië gedurende die heerskappy van
Artasásta I, gewoon het. Daarom was dit ‘n moeilike taak vir Esra en sy mede-leiers om so
baie van hulle te oortuig om terug te keer. Hierdie terugkerende koloniste was net ‘n harde
baanbrekerslewe in hulle ou vaderland te wagte, met baie minder geriewe as wat hulle in
Babilon gehad het. Met hierdie oorwegings in gedagte was dit verrassend dat Esra daarin
geslaag het om amper 2,000 families te oortuig om by hulle broers in hulle ou vaderland aan
te sluit.” — The SDA Bible Commentary, vol. 3, bl. 376, (vry vertaal).

“Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge
14:22). Wat sê dit aan ons oor die werklikheid van beproewinge en ontberinge
wat op diegene wag wat die Here graag getrou wil dien?

Woensdag 27 November
Vernedering voor God

Lees Deuteronómium 30:1–6. Watter belofte was hier aan die Hebreeuse volk gegee?
Wat beteken hierdie belofte wat een van baie soortgelyke beloftes is, vir manne soos
Esra en Nehemía?

Esra en Nehemía het die profesieë geken. Hulle het geweet dat God die volk wat in
ballingskap was, sou laat terugkeer. Ons het in Nehemía 9 gesien dat hulle hul geskiedenis
en die redes vir hulle probleme, verstaan het. Terselfdertyd het hulle ook God se
goedgunstigheid en voorsiening ten spyte van hulle sondes, geken. Daarom het hulle op die
Here vertrou dat die terugkeer uit ballingskap suksesvol sou wees. Maar, daardie beloftes
het nie beteken dat hulle nie uitdagings op die pad sou teëkom nie. Sover het ons hierdie
kwartaal na die beproewinge en verdrukkinge wat oor hulle pad gekom het, selfs te midde
van God se beloftes, gekyk.

Lees Esra 8:16–23. Wat was die uitdaging hier, en hoe het hulle daarop gereageer?

Ten spyte van die beloftes het Esra geweet hoe gevaarlik die reis sou wees. Daarom was die
vas en vernedering voor God ‘n manier om te toon net hoe hulle van die Here afhanklik was
om sukses te kon behaal. Met so baie gevare wat op hulle gewag het, het die gedagte om
vir die koning vir hulp en beskerming teen hierdie tyd te vra, ten minste by Esra posgevat.
Maar uiteindelik het hy gekies om dit nie te doen nie, in teenstelling met Nehemía (Nehemía
2:9) wat onder geleide, beskerming geniet het. Esra het waarskynlik gevoel dat indien hy
sou vra, hy oneerbiedig teenoor die Here sou wees, want hy het reeds vir die koning gesê,
“Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor
almal wat Hom verlaat” (Esra 8:22). In hierdie geval het alles vir hulle goed uitgewerk,
want hy het later geskryf (Esra 8:31) dat die Here hulle beskerm het, en dat hulle hul
bestemming veilig bereik het.

Natuurlik moet ons op God vir alles vertrou. Terselfdertyd ook, wat van die tye
wat ons wel vir hulp vra by hulle wat nie van ons geloof is nie? Hoekom is dit in
baie gevalle nie verkeerd nie, maar dalk selfs gepas?

Donderdag 28 November
In die heilige stad

Lees Nehemía 11:1, 2. Waaroor gaan hierdie Skrifgedeelte? Hoekom moes hulle die
lot werp om te sien wie in Jerusalem en wie in die ander stede moes gaan bly het?

Wat leer ons in Nehemía 11? Dit was nodig om nuwe inwoners vir Jerusalem te kry uit
die nuwelinge wat, ná hulle ballingskap, teruggekeer het. Blykbaar was dit makliker om
in die platteland as in die stad te woon. Die volk het hulle eie grond besit wat hulle van
hulle voorvaders geërf het. Om daarvan af te sien en in Jerusalem te gaan woon het, was
‘n opoffering, en baie van hulle kon te reg ontwortel gevoel het indien hulle dit sou moes
doen. Die lewe het nou nuwe uitdagings gehad, en die stadslewe was anders as om in die
platteland te leef. Om na ‘n nuwe, onbekende omgewing te trek, is altyd moeilik. Hoe
uitdagend is dit nie om na ‘n nuwe stad of land te trek waar die evangelie versprei moet
word nie? Uitreiking na die stede vereis ‘n gewilligheid om nuwe avonture te onderneem,
en verdrukkinge te hanteer. “Ons werkers reik nie uit soos hulle behoort te doen nie. Ons
leiers besef nie hoeveel werk gedoen moet word nie. Wanneer ek aan die stede dink waar
daar so min gedoen is, waar daar so baie duisende is wat oor die spoedige koms van die
Verlosser gewaarsku moet word, kry ek ‘n intense begeerte om manne en vroue te sien
wat deur die krag van die Heilige Gees, gevul met Christus se liefde vir siele wat vergaan,
die werk sal aanpak.” — Ellen G. White, Testimonies for the Church, vol. 7. bl. 40, (vry
vertaal).

Hoekom word die lang lys van priesters en Leviete in Nehemía 12:1-26 genoem?
Wat is die verband tussen die priesters en Leviete, en die toewyding van die muur
van Jerusalem wat in die tweede deel van dieselfde hoofstuk beskryf word (Nehemía
12:27–47)?

God wil hê dat dinge reg gedoen moet word. Getroue en toegewyde mense word eerste
benodig voordat groot dinge aangepak kan word. Hierdie priesterlike families het Nehemía
gehelp om die mure te herbou sodat hulle die lewende God in veiligheid, sonder inmenging,
in die tempel kon aanbid. Mure was belangrik vir sekuriteit, maar sonder die toegewyde
priesters sou daar ‘n bedreiging vir ware aanbidding gewees het. Daarom moes al die
mense deur middel van hulle verskillende ampspligte, ‘n rol gespeel het.

Vrydag 29 November
Vir verdere studie:

Lees Ellen G. White, “Die Toets van Dissipelskap,” bl. 57-65, in Skrede na Christus. “Daar
is diegene wat kennis gemaak het met die vergewende liefde van Christus en wat regtig
begeer om kinders van God te word, maar hulle besef dat hulle karakters onvolmaak is;
hulle lewe is vol foute en hulle twyfel daaraan of hulle harte deur die Heilige Gees herskep
is. Aan diesulkes wil ek graag sê: Moenie in wanhoop opgee nie. Dikwels sal ons aan die
voete van Jesus moet neerval en ween oor ons foute en tekortkominge, maar ons moenie
moed opgee nie. Al kry die vyand soms die oorhand, het God ons nie verwerp of verlaat nie.
Nee, Christus is aan die regterhand van God waar Hy vir ons intree … Hy verlang om julle
tot Hom terug te bring en om Sy eie reinheid en heiligheid in julle te sien. As julle julself
maar net aan Hom wil oorgee, sal Hy ‘wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit voleindig
tot op die dag van Jesus Christus’. Bid vuriger en laat u geloof kragtiger wees. Laat ons,
namate ons ons eie kragte wantrou, steeds meer op die krag van ons Verlosser steun, en dan
sal ons stof tot dankbaarheid hê in Hom wat ons genees.” — Ellen G. White, Skrede na
Christus, bl. 64.

Vrae vir bespreking:

1.Dink na oor Daniël 2 en hoe Daniël, duisende jare gelede, so akkuraat die opkoms
en val van koninkryke kon voorspel het, en selfs die verdeeldheid van die moderne
Europa (baie akkuraat) kon uitgebeeld het. Hoe kan ons leer om deur hierdie
profesie bemoedig te word wat so kragtig, selfs te midde van die chaos van die
wêreld, toon dat God van alles weet wat gebeur, en dit selfs voorspel het?

2. God weet alles oor ons. Dit troos ons en gee aan ons sekuriteit en die versekering
dat ons in sy sorg is. “Maar nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou
Formeerder, o Israel: ‘Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou
by die naam geroep; jy is myne!’” (Jesaja 43:1). Hoe kan jy andere van God se
teenwoordigheid en sorg verseker wanneer hulle emosionele, verhoudings-, sosiale
of finansiële krisisse ondervind?

3. Dink weer na oor die probleem in Woensdag se les oor Esra wat nie die koning
vir hulp wou vra nie omdat hy bang was dat sy woorde oor God se beskerming in
twyfel getrek sou word. Ons weet byvoorbeeld dat God mense gesond kan maak.
Beteken dit dan dat ons nie in Hom glo wanneer ons ‘n mediese dokter gaan sien
nie? Bespreek hierdie vraag in die klas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *