Les 10 *30 November tot 6 Desember
Aanbidding van die Here
Sabbatmiddag
Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 12:27–47; I Kronieke 25:6–8; I Johannes 1:7–9; Johannnes 1:29, 36; I
Korinthiërs 5:7; Hebreërs 9:1–11.
Geheueteks:
“En hulle het aangehef met lof en dank aan die Here, want Hy is goed, want sy
goedertierenheid oor Israel is vir ewig!” (Esra 3:11).
Hierdie week se geheueteks gee vir ons insig in die aanbiddingspraktyke
van die Hebreërs en hoe hulle God met oorgawe geloof het om hulle
dankbaarheid teenoor Hom te bewys. In 515 v.C. het hulle die toewyding
van die nuwe tempel gevier (Esra 6:15–18), en toe, ongeveer 60 jaar later,
het die volk met ‘n inwydingsplegtigheid die voltooiing van Jerusalem se
muur gevier (Nehemía 6:15–7:3; 12:27 en verder).
Na die geslagsregisters in Nehemía 11 en 12, skryf die outeur oor die tyd toe hulle die
inwyding van die stadsmuur gevier het. Dit was die volk se gewoonte om dinge aan
God toe te wy: die tempel, die stadsmuur, of selfs huise en publieke geboue. Sulke
toewydingsgeleenthede was deeglik beplan en het met sang, musiek, feesviering,
offerandes, vrolikheid, uitbundigheid en verpligte reinigingsgebruike vir die volk
saamgegaan. Dawid het die praktyk van offerandes gedurende toewydingsplegtighede
begin en gevestig, en daarna het die Israelitiese leiers sy voorbeeld gevolg. Salomo het
eerste daarmee voortgegaan toe hy die ark in die tempel ingebring het (I Konings 8:5).
Hierdie week gaan ons kyk hoe hulle die Here aanbid het gedurende daardie tyd, en wat
ons wat ook dieselfde Here dien, op onsself kan toepas.
*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 7 Desember.
Sondag 1 Desember
Hulle sing liedere van die Here
Lees Nehemía 12:27–29. Let op na sommige van die sleutelwoorde wat toon hoe hulle
aanbid het en lofbetuigings aan die Here gebring het. Hoe sou jy dit beskryf?
Die Israelitiese nasie het ‘n spesifieke groep Leviete as sangers en musikante vir die
tempelaanbiddingsdienste aangestel. God het hierdie praktyk gerig en intruksies vir die
aanbiddingsdiens gegee, want die aanbidding in die tempel moes baie mooi en professioneel
aangebied geword het. Koning Dawid het hierdie gewoonte nog meer as voorheen verfyn
en luisterryk gemaak. Daarom was die afstammelinge van Asaf wie Dawid as die leier
van die sangers aangestel het, nog steeds “die sangers, vir die werk in die huis van God”
(Nehemía 11:22).
Slaan I Kronieke 25:6–8 na. Wat leer ons hier oor hoe hoog aangeskrewe en belangrik
die musiek in hulle aanbidding en “gesang in die huis van die Here” was?
Die sangers was Leviete en daarom amptelik daarvoor in die tempel aangestel. Dit was dus
hulle werk om vir die tempeldienste musiek te voorsien waarvoor hulle betaling ontvang
het. Gedurende Koning Dawid se tyd het hy ‘n volwaardige akademie vir musiek tot stand
gebring waaroor hyself toesig gehou het. Dit het uit onderwysers en studente, oud en jonk,
bestaan, wat skofte in die tempel gewerk het om die musiek te voorsien. Sommige het
instrumente bespeel, en ander was sangers, met nog andere wat die instrumente versorg
het en ook na die klere vir die aanbiddingsdienste omgesien het. Wat was die doel vir so
‘n professionele organisasie? Dit was om talent en uitmuntende aanbidding te ontwikkel.
Uitmuntendheid moet altyd die doel vir aanbidding wees. Lofprysinge moet uit die hart
uit kom en op die beste manier voorgedra word sodat mense geestelik opgehef kan word.
Daar kan veronderstel word dat daardie musikante en sangers wat in die tempel gedien het
versigtig gekies was om leiding tydens die aanbiddingsdienste te neem.
Op watter manier het jy al die vreugde van aanbidding deur middel van musiek
ondervind? Hoe belangrik is dit vir jou?
Maandag 2 Desember
Reiniging
Nadat die Skrif oor die inwyding van die muur en daarna die aanstelling van die sangers
praat, word daar in die volgende vers, Nehemia 12:30, na die reiniging verwys. “En
die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en die volk en die poorte en die muur
gereinig”. Die Hebreeuse grondwoord vir “reiniging”, thr, beteken om skoon te wees, om
rein te wees, en dit word in baie kontekste in die Ou Testament gebruik wat die gedagte om
moreel rein en skoon voor God te wees, insluit.
“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met
mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. As ons sê
dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons
ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle
ongeregtigheid te reinig”(I Johannes 1:7–9). Wat leer hierdie vers ons oor 1) die mens
se natuur, 2) God se vergifnis, en 3) God se krag in ons lewens?
Die tempel en tempelaanbiddingsdienste was uiters belangrike komponente van die
godsdiens van antieke Israel. Maar dit was die middel tot die doel, nie die doel opsigself
nie. En daardie doel was natuurlik om die volk tot ‘n reddende verhouding met die God van
die Verbond, die Here Jesus Christus, te bring, en om Sy reinigende krag in hulle lewe te laat
ondervind. Die kennis van wat God vir ons gedoen het, waarvandaan die Here ons gered het,
is wat ons sal lei om Hom lief te hê en Hom te aanbid. Dit is een rede hoekom antieke Israel
oor en oor vertel het wat God in hulle verlede vir hulle gedoen het. Dit het hulle gehelp om
die goedheid en liefde van die Here te onthou, sodat hulle aanbiddingsondervinding met
vreugde en dankbaarheid deurdrenk sou word.
Die ondervinding van en dankbaarheid vir die vergifnis van ons sondes behoort vir ons
vandag erkentenis teenoor God te wek, en ‘n begrip van hoop en vreugde te verseker. Dan
is dit maklik om die Here te loof en dankbaarheid vir sy volmaakte karakter te betuig. En
watter groter openbaring van God se karakter kan ons ervaar as om Jesus op die kruis te sien
en die straf vir ons sondes te dra, sodat ons nie daardie straf self moet dra nie?
Afgesien van jou sondes in die verlede of hoe jou karakter tans daarna uitsien,
kan jy totale vergifnis by die kruis ontvang – nou, op hierdie oomblik. Hoekom
eien jy nie die vergifnis wat Jesus aan jou bied, nou vir jouself toe nie?
Dinsdag 3 Desember
Twee groot dankseggingskore
Lees Nehemía 12:31–42. Hoekom het musiek so ‘n belangrike rol in hierdie feesviering
gespeel?
‘n Deel van die aanbiddingsdiens in Nehemía se tyd was om twee dankseggingskore saam
te stel wat rondom Jerusalem moes loop en sing saam met instrumentale begeleiding. Hulle
het op dieselfde plek begin en dan in twee gedeel om elkeen in ‘n teenoorgestelde rigting
rondom die stadsmuur te beweeg. Een groep was deur Esra gelei, en Nehemía het agteraan
die ander groep gestap. Die twee kore het weer bymekaar by die Dalpoort aangesluit
waarvandaan hulle na die tempel beweeg het. Die priesters wat die trompette geblaas het,
het elkeen van hierdie optogte aangevul. In die tempel het die kore reg teenoormekaar
gestaan. Dit was ‘n buitengewone en goedgeorganiseerde optog en aanbiddingsdiens.
Om die vraag te beantwoord hoekom musiek so ‘n belangrike rol in die seëvieringe en die
aanbiddingsdiens gespeel het, moet ons daarna in die konteks van die tempel kyk. Die
musiek in die tempel was nie ‘n konsert waarna die mense gekom het om te geniet nie,
soos om na Beethoven se 4de Simfonie in ‘n konsertsaal te gaan luister nie. Terwyl die
musikante saam met instrumente gesing het, het die mense gekniel en gebid. Dit was deel
van hulle aanbidding. Die middelpunt van tempelaanbidding het oor offerandes gegaan,
wat eintlik ‘n onaangename ritueel was. Per slot van rekening, wat anders was daar gedoen
as om die kele van onskuldige diere oop te sny? Die pragtige musiek het, behalwe net om
die mense se gedagtes hemelwaarts te rig, gehelp om die aanbiddingsondervinding meer
aangenaam te maak.
Slaan in die Bybel gevalle na waar musiek ‘n belangrike rol in aanbidding gespeel het.
Dink veral na oor Exodus 15:1; II Kronieke 20:21, 22; en Openbaring 15:2–4.
Beide op die aarde en in die hemel vorm musiek deel van die aanbiddingsondervinding. Let
op in die verse hierbo dat die sang oor wat die Here vir sy volk gedoen het, gaan, wat ook
die oorwinning “oor die dier” insluit (per slot van rekening, hoe anders sou hulle oorwin
het?). Dit is lofprysinge aan God vir sy verlossingsdade.
Noem sommige van die dinge wat God vir jou gedoen het wat jou ‘n goeie rede
gee om lofliedere tot Hom te sing.
Woensdag 4 Desember
Offers as deel van aanbidding
Lees Nehemía 12:43. Wat was spesiaal omtrent die “groot offers” wat hulle as deel van
hulle aanbiddingsvieringe gebring het?
Offers was die mees noodsaaklike vorm van aanbidding gedurende die tyd van die tempel.
Daar was baie verskillende offers geoffer, òf om die belofte van vergifnis te bekom, òf
om die vreugde van samesyn en dankbaarheid aan God te betoon. Offers was die kern
van aanbidding omdat dit die aanbidders aan die ware God en wie Hy is, herinner het en
vooruitgewys het na die Beloofde Saad, die Messias, wat sy lewe vir hulle sou gee omdat
Hy die Lam van God is.
Lees Johannes 1:29, 36; I Korintiërs 5:7; en Openbaring 5:6, 12, 13. Wat leer hierdie
Skrifgedeeltes ons oor waarna die offers eintlik vooruitgewys het? As die antieke
Israeliete hulle so oor ‘n dooie plaasdier kon verheug, ‘n dood wat die openbaring van
die waarheid tot ‘n mate beperk het, hoeveel te meer het ons nie rede om ons daaroor
te verheug nie?
Let ook op hoe baie kere die gedagte van vreugde en vrolikheid net in Nehemía 12:43 alleen
voorkom. Met ander woorde, te midde van die eerbied en dalk ook vrees vir God wat die
volk tydens hulle aanbiddingsdiens ondervind het (per slot van rekening, die doodmaak van
‘n dier vir hulle sondes was ‘n ernstige saak), was daar ook vreugde en vrolikheid. Wanneer
ons tot God nader, moet dit met ontsag en eerbied wees, asook met vreugde. Psalm 95
demonstreer dat ware aanbidding beteken om te sing en te jubel tot eer van die Here, en om
musiek te maak tot verheerliking van God (Psalm 95:1), asook om voor die Here neer te
buk en te kniel (Psalm 95:6). Om daarna te streef om ‘n balans tussen vreugde en eerbied
te handhaaf, is uiters belangrik om sodoende ons Skepper te vereer, te prys en te aanbid.
Wanneer ons daaraan dink dat die Skepper van alles wat geskep is aan die kruis
gehang het (sien Johannes 1:1–3) en vir ons sondes gesterf het, watter emosie
beleef ons eerste? Watter rol behoort en kan vreugde in ons belewenis van die
kruisdood speel?
Donderdag 5 Desember
Die priesters and Leviete se aandeel in
aanbidding
Lees Nehemía 12:44–47. Hoekom was Juda bly “oor die priesters en die Leviete wat
in die diens gestaan het”? Hoekom was hulle belangrik?
Wat het die werk van die priesters (wat Leviete was) gesimboliseer? Sien Hebreërs
9:1–11.
“Die bemiddeling van Christus ten behoewe van die mens in die heiligdom daarbo, is net so
belangrik vir die verlossingsplan as wat Sy kruisdood was. Deur Sy dood het Hy daardie
werk begin wat Hy na Sy opstanding en hemelvaart in die hemel sou voleindig. Ons moet
in geloof agter die voorhangsel ingaan ‘waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het’
(Hebreërs 6:20).” — Ellen G. White, Die Groot Stryd, bl. 489. Weer sien ons dat alhoewel
die mense gedurende daardie tyd sekerlik nie die lig gehad het wat ons vandag het nie, hulle
genoeg verstaan het om te weet dat die werk in die tempel wat net deur die Leviete gedoen
kon word, so belangrik was. Hulle was opgewonde dat God se werk deur hulle gedoen kon
word.
Die volk het tyd met God deurgebring deur sy Woord te lees, deur gebed en aanbidding,
en deur hertoewyding aan Hom. Te midde van al hierdie dinge het hulle besef dat die
tempeldienste verwaarloos was en herstel moes word. Nou dat dit weer ingestel was, het
die volk oor die belangrike werk wat die Leviete namens hulle sou doen, gejuig. God het
die volk beïndruk dat die tempeldienste deel van Sy voorneme vir aanbidding was.
Ongelukkig word predikante, onderwysers van die Woord en musikante as vanselfsprekend
aanvaar. Selfs gedurende Nehemía se tyd was die onderhoud van die Leviete soms goed
en soms baie swak. Die Leviete was verplig om dikwels ander werk te gedoen het om in
die behoeftes van hulle gesinne te kon voorsien, want die volk het opgehou om tiendes en
offergawes te betaal. Sonder tiendes en offergawes is daar geen georganiseerde wêreldwye
kerk nie. Indien ons ons bedieninge wil laat voortgaan, moet ons toegewyd wees om ons
predikante deur geldelike bydrae asook deur ons verbale waardering te ondersteun. Die kerk
mag dalk nooit volmaak wees nie, maar dit behoort nie ons gawes aan God te ondermyn nie,
sodat sy werk rondom die wêreld kan voortgaan.
Vrydag 6 Desember
Vir verdere studie:
Lees Ellen G. White, “Opwassing in Christus,” bl. 67–75, in Skrede na Christus. “Die kruis
van Christus sal die onderwerp van hul wetenskap en lied deur die ewigheid heen wees. In
Christus die verheerlikte sal hulle Christus die gekruisigde sien. Nooit sal hulle vergeet
dat Hy, deur wie se krag die ontelbare wêrelde geskape en die groot ruimtes in stand gehou
word, die Geliefde van God, die Majesteit van die hemel, wat deur gerubs en serafs aanbid
word – Homself verneder het om die gevalle mens op te hef nie; dat Hy die skuld en die
skande van die sonde gedra het, die verberging van Sy Vader se aangesig verduur het, totdat
al die ellendes van ‘n verlore wêreld Sy hart gebreek en Sy lewe aan die kruis van Golgota
uitgepers het. Dat die skepsel van al die wêrelde, die beskikker van alle lotgevalle, Sy
heerlikheid afgelê en Homself verneder het om die mens lief te hê, sal gedurig die verbasing
en die aanbidding van die heelal uitlok. Wanneer die verlostes hulle Verlosser aanskou en
die heerlikheid van die Vader sien straal in Sy gelaat; wanneer hulle Sy Troon sien wat van
ewigheid tot ewigheid is en weet dat Sy koninkryk nooit tot ‘n einde sal kom nie, hef hulle
‘n verruklike lied aan “Waardig, waardig is die Lam wat geslag is en wat ons verlos het deur
Sy eie dierbare bloed!” — Ellen G. White, Die Groot Stryd, bl. 651, 652.
Vrae vir bespreking:
1. Gesels in die klas oor hoe om die regte balans tussen eerbied en blydskap in
aanbidding te vind. Of, oordenk die kopkrapper-vraag: Is eerbied en blydskap in
elk geval onverenigbaar?
2. Die Israeliete het die muur van Jerusalem onder Goddelike beskerming met die
toewydingseremonie geplaas en dus erken dat die doel van die muur nutteloos was
as God dit nie sou beskerm nie. Salomo het dit goed beskryf: “As die Here die huis
nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar
nie, tevergeefs waak die wagter” (Psalm 127:1). Wat behoort dit aan ons te sê oor
enige pogings wat ons vir Here aanwend?
3. Watter rol speel musiek in jou eie kerk se aanbiddingsondervinding?
4. Die Skrif is duidelik: Jesus is ons Hoëpriester in die heiligdom in die hemel.
Wat is Hy eintlik besig om vir ons daar te doen? Wat kan die priesters se
tempelbediening ons leer oor wat Jesus in die hemelse tempel doen?