‘n Afvallige volk

Share with:
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Les 11 *7 tot 13 Desember
‘n Afvallige volk

Sabbatmiddag

Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 13:1–9; Deuteronómium 23:3–6; Nehemía 13:10–14; Númeri 18:21–24;
Nehemía 13:15–22; Johannes 5:5–16.

Geheueteks:
“Verder het ek aan die Leviete gesê dat hulle hul moes reinig en kom as poortwagters om
die sabbatdag te heilig. Dink ook hierom aan my, my God, en ontferm U oor my na die
grootheid van u goedertierenheid.” (Nehemía 13:22).

Intussen, tussen hoofstukke 12 en 13, het Nehemía na Babilon teruggekeer. Alhoewel
ons nie weet hoe lank hy weg was nie, het hy toe hy teruggekom het (waarskynlik
ongeveer 430–425 v.C.) gevind dat die volk afvallig geword het. Alhoewel
hulle met God ‘n verbond aangegaan het oor: eerstens, om nie te ondertrou met
afgodedienaars nie; tweedens, om die Sabbat versigtig te hou; en, derdens, om die
tempel en sy personeel deur die bring van tiendes en offergawes te versorg (Nehemía 10)
— het hulle aldrie hierdie beloftes nie nagekom nie.

Met Nehemía se terugkoms het hy gevind dat hulle baie laks in hulle toewyding aan God
was. Die volk het opgehou om tiendes en offergawes te betaal, die tempelkamers vir
ander doeleindes begin gebruik, opgehou om die Sabbat behoorlik te hou, en selfs weer
met die nasies rondom hulle ondertrou. Die ergste van alles was dat dit die leierskap was
wat hy in plek gelos het wat daartoe bygedra het dat die Israeliete se verhouding met God
agteruitgegaan het. Dit is glad nie verbasend dat Nehemía platgeslaan was toe hy ontdek
het hoeveel dinge verander het nie. Maar, in plaas daarvan om dit te aanvaar, het hy weer
volgens die aard van sy karakter, tot eer van God opgetree.

*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 14 Desember.

Sondag 8 Desember
Onrein leierskap in die tempel

Nehemía 13 begin met ‘n besorgdheid oor Ammonitiese en Moabitiese buitelanders
(afgodedienaars) in hulle midde (Nehemía 13:1–3). Hierdie verse praat nie van individue
van ander nasies of rasse wat God gedien het en wat weggejaag moes word nie, maar eerder
van diegene wat ‘n ander geloof aangehang het en daarom weggestuur moes word – nie
bekeerlinge nie, maar afgodedienaars. (Sien ook Deuteronómium 23:3–6.)

Lees Nehemía 13:1–9. Wie was Éljasib en Tobía? Hoekom was dit wat hulle gedoen
het, onaanvaarbaar? Lees Nehemía 2:10, 19; 3:1; 12:10, 22; 13:28.

Beide Éljasib en Tobía is bekende figure in die boek van Nehemía. Éljasib was die
hoëpriester van die volk, en hy was ook in beheer van die tempel. Tobía word as die
Ammonitiese vyand van Nehemía genoem wat laasgenoemde se werk in Jerusalem heftig
teengestaan het. Die verbintenis tussen Éljasib en Tobía het met ‘n huweliksverbintenis te
doen gehad.

Selfs al het die huweliksinligting nie behoue gebly nie, weet ons dat Tobía ‘n Joodse naam
(wat “die Here is goed” beteken), en hoogs waarskynlik ‘n Joodse agtergrond gehad het.
Daar word geglo dat sy vrou se familie, die nasate van Arag wat nie almal genoem word nie,
verwant was aan Éljasib se familie. Boonop het Sanbállat die Horoniet, Nehemía se ander
teenstander, ‘n dogter gehad wat met Éljasib se kleinseun getroud was. Daarom moes die
gekonkel rondom Nehemía hewig gewees het omdat die beamptes met die hoogste range
van mekaar familie was en teen Nehemía se leierskap saamgespan het. Gedurende die
goewerneur se afwesigheid het die hoëpriester aan Tobía twee kamers in die tempel wat vir
die bewaring van die tiendes, gawes en offergawes bestem was, gegee. Aan Tobía was daar
permanente verblyf in die tempel gegee wat ‘n manier was om hom as een van die leiers van
die land te erken. Die vyande van Nehemía het uiteindelik bereik wat hulle nog altyd wou
bereik: Om Nehemía met hulleself te vervang. Gelukkig was Nehemía nie van plan om te
sit en kyk en niks daaraan te doen nie.

Laat God se volk regdeur die heilsgeskiedenis – of dit die Jode in antieke Israel of
die Christene gedurende die Nuwe Testamentiese tyd en daarna was – so maklik
toe om hulleself te laat verlei? Hoe kan ons hulle foute voorkom?

Maandag 9 Desember
Die Leviete vlug na hulle grond

Lees Nehemía 13:10–14. Wat wil Nehemía hier regstel?

Die sangers, poortwagters en ander tempelbediendes was gedwing om op hulle eie grond
te gaan werk om hulle gesinne te kon onderhou, want die werk van God het geen bydraes
ontvang nie. Die hele tiende-en-offergawestelsel wat so deeglik in plek gestel was, het
tot niet gegaan. Nehemía moes van vooraf begin. Sy handeling om alles uit die kamer
buitentoe te gooi, toon sy desperaatheid. “Die tempel was nie net ontheilig nie, maar die
offergawes was wanbestee. Dit het die mense se vrygewigheid ontmoedig. Hulle het hulle
ywer en vurigheid verloor en was huiwerig om hulle tiendes te betaal. Die skatkamer van
die Here se huis was kariglik voorsien; baie van die sangers en ander personeel van die
tempel het die werk van God verlaat om elders te gaan werk omdat hulle onvoldoende
onderhoud ontvang het.” — Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 670, (vry vertaal).

Dit is interessant om te sien dat almal in Juda saamgekom het om wat vernietig was,
weer op te bou. Die volk het Nehemía se kant teen Tobía en Éljasib gekies, want hulle
moes besef het dat Nehemía alles in sy vermoë gedoen het om die volk te bevoordeel.
Boonop het Nehemía die opsigters van die tempelgronde se poste aan manne toevertrou
wat hy gedink het getrou en geloofwaardig sou wees. Hulle moes die tiendes en offergawes
insamel, seker maak dat die gawes behoorlik gebêre word, en dat dit toepaslik verdeel moes
word onder diegene vir wie dit bestem was. Met ander woorde, Nehemía het die korrupte
leierskapsisteem kortom ontwortel.

Alhoewel Nehemía getroue manne as administrateurs van die tempel aangestel het, het
die korrupte Hoëpriester Éljasib, nie sy pos verloor nie, want hy was in die pos aangestel
omdat hy ‘n afstammeling van Aäron was. Sy werk in die tempel mag dalk deur Nehemía
se maatreëls om sommige van die hoëpriester se pligte aan andere toe te vertrou, ingekort
gewees het, maar hy was nog steeds die hoëpriester.

Nehemía het gebid, “Dink hierom aan my, my God, en delg tog my liefdediens nie
uit wat ek aan die huis van my God en aan die instellinge daarvan bewys het nie”
(Nehemía 13:14). Wat was so menslik omtrent hierdie gebed?

Dinsdag 10 Desember
Tiendes en offergawes

Nehemía se hervorming van die tempeldienste het ook die toepassing van die betaling van
tiendes en offergawes ingesluit.

Lees Númeri 18:21–24; Maleági 3:10; Matthéüs 23:23; I Korinthiërs 9:7–14; II
Korinthiërs 9:6–8; en Hebreërs 7:1, 2. Wat leer hierdie verse ons oor die belangrikheid
van die betaling van tiendes en offergawes, nie net gedurende die tempeldienstetydperk
nie, maar ook vir ons in die tyd waarin ons leef?

Sonder die ontvangs van tiendes en offergawes kon die tempel nie funksioneer nie.
Toe tiendebetaling opgehou het, het die dienste in die tempel ook opgehou, en die hele
aanbiddingsisteem op die gevaarlys geplaas. Omdat die tempelpersoneel ander werk gaan
soek het om in die behoeftes van hulle gesinne te voorsien, kon hulle nie op die tempeldienste
fokus nie. Gevolglik het die volk God al hoe minder aanbid.

“Die tiendestelsel is prysenswaardig in sy eenvoud. Die regverdigheid daarvan blyk uit
sy proporsionele vereistes vir ryk en vir arm. In verhouding tot die eiendom wat God aan
ons toevertrou het, moet ons ‘n tiende aan Hom terugbesorg. “Wanneer God ‘n tiende van
ons vereis (Maleági 3:10), vra Hy ons nie om dankbaarheid of vrygewigheid nie. Hoewel
dankbaarheid deel moet uitmaak van alles wat ons aan God gee, gee ons ‘n tiende omdat
God dit beveel. Die tiende behoort aan die Here, en Hy verwag dat ons dit aan Hom sal
teruggee” — Sewendedag-Adventiste Glo . . . (2de uitgawe) (Boise, Idaho: Pacific Press ®
Publishing Association, 2005), bl. 287-288.

Net soos met die Israelitiese tempel, sal ons kerk ook ten gronde gaan sonder die
ondersteuning van die lede se tiendes en offergawes. Ons kerkdienste sal nie funksioneer
sonder dat mense betaal word om voltyds kwaliteit-bediening, -beplanning en –bestuur aan
die kerk van God te lewer nie. Die waarde van die aanbidding van God sal ook verminder.
Wat nog meer belangrik is, is dat sonder tiendes en offergawes die verspreiding van die
evangelieboodskap nie sal bestaan nie. Bowendien, ons gee tiendes omdat God die stelel in
Sy Woord bevestig het. Daar is tye wanneer God nie nodig het om te verduidelik waarom
Hy iets ingestel het nie. Hy verwag van ons om te glo dat Hy in beheer is. Ons moet uitvind
en kennis verkry oor hoe die stelsel werk, maar dit dan in Sy hande oorgee.

Waarom is tiendebetaling so belangrik vir ons eie geestelike lewe, en ‘n maatstaf
vir ons eie vertroue in God?

Woensdag 11 Desember
Die trap van die parskuipe op die Sabbat

Lees Nehemía 13:15, 16. Watter geskilpunt spreek Nehemía hier aan?

Dit is nie maklik om vir God op te staan wanneer jy in die minderheid is nie. Omdat God
gesê het dat die Sabbat ‘n heilige dag moes wees waarop niemand enige werk moes doen
nie, het Nehemía onderneem om seker te maak dat hierdie gebod in Jerusalem nagekom
moes word. Hy het, sonder om te twyfel, gevoel dat hy ‘n morele verpligting het om hierdie
standpunt in te neem en om daarvolgens op te tree.

Die Sabbat was as die kroon van die skeppingsweek ingestel omdat dit ‘n spesiale dag is
waarop die mens tyd met God moet deurbring om sodoende te herstel en herskep te word
op maniere wat nie kan plaasvind terwyl hulle hul beroepe beoefen en met ander alledaagse
sake besig is nie. Daar was al gesê dat “die Sabbat Israel meer onderhou het as wat Israel
die Sabbat onderhou het.” Die punt is dat die sewendedag-Sabbat nog altyd ‘n kragtige
middel was, en nog steeds is, om diegene wat deur God se genade daarna streef om dit te
onderhou, se geloof te versterk, en om ook die fisiese en geestelike voordele wat dit bied,
te geniet.

Lees Nehemía 13:17–22. Wat het Nehemía gedoen om die “koop- en verkoopgewoonte”
op die Sabbat stop te sit?

Weens sy amp as goewerneur van Juda, het Nehemía gevoel dat hy moes toesien dat die
reëls nagekom word. Omdat die reëls op die wet van God gegrond was, was hy die bewaker
van die wet wat natuurlik ook die Sabbat ingesluit het. Indien die edeles die korrupsie van
die Hoëpriester sou teëgestaan het, sou Nehemía homself nie in hierdie situasie bevind
het nie. Maar, die heersers en edeles het dalk vir Nehemía kwalik geneem omdat hy hulle
beveel het om aan die armes terug te gee wat hulle toegekom het; daarom het hulle blykbaar
nie die veranderinge wat Éljasib en Tobía teweeggebring gebring het, teëgestaan nie.

Nehemía het eers die edeles aangespreek en toe beveel dat die deure van die poorte
gesluit moes word, en ook van sy eie mense aangesê om die poorte te bewaak. Toe die
markbedrywighede doodeenvoudig buite die stad voortgesit was, het hy selfs meer drastiese
maatreëls ingestel en gedreig dat hy hulle die volgende Sabbat hardhandig sou verwyder.
Nehemía moes iemand gewees het wat die woord by die daad gevoeg het, want die
handelaars het onmiddellik opgehou en weggebly.

Donderdag 12 Desember
Het julle vaders nie so gehandel nie?

Nehemía se ywer vir die sabbatdag is bewonderingswaardig. Hy was so vurig om die Sabbat
reg te onderhou dat hy selfs die handelaars van ander nasies belowe het dat hy “die hand
aan [hulle sou] slaan”. Met ander woorde, hy sou persoonlik tussenbeide getree het as hy
hulle in die stad of by die deure van die poorte op die sabbatdag sou vind. As goewerneur
was hy amptelik verantwoordelik vir die nakoming van hierdie gebod. “Nehemía het hulle
vreesloos berispe omdat hulle hul pligte verwaarloos het. ‘Watter verkeerde ding is dit wat
julle doen, dat julle die sabbatdag ontheilig?’ was sy ernstige bevel. ‘Het julle vaders nie so
gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja,
julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die Sabbat te ontheilig!’ Hy het toe beveel
dat ‘sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die Sabbat donker was,’ die deure gesluit
moes word en nie oopgemaak moes word tot ná die Sabbat nie; en omdat hy sy eie dienaars
meer vertrou het as die wat die magistrate van Jerusalem sou aanstel, het hy sy eie mense by
die poorte se deur aangestel om seker te maak dat sy bevele uitgevoer sou word.” — Ellen
G. White, Prophets and Kings, bl. 671-672, (vry vertaal). Nehemía se waarskuwing oor
sabbatsontheiliging saam met ander waarskuwings oor die skending daarvan, het blykbaar
deur die eeue heen selfs tot en met Jesus se leeftyd, weergalm. Ons weet dit, want die
Evangelies beskrywe herhaaldelik hoe Jesus met die godsdienstige leiers oor geoorloofde
sabbatsonderhouding gesukkel het.

Lees Matthéüs 12:1–8, Markus 3:1–6, Lukas 6:6–11, en Johannes 5:5–16. Wat was
die geskilpunt hier, en hoe help ‘n begrip van antieke Israel se geskiedenis ons om te
verstaan waarom hierdie strydpunt ontstaan het?

In hulle misleide ywer, om seker te maak dat die Sabbat nie “onheilig” word nie, was hierdie
godsdienstige leiers so fanaties dat hulle Jesus, die “Here óók van die Sabbat” (Lukas 6:5),
daarvan beskuldig het dat hy die sabbatsgebod geskend het. Praat daarvan om ‘n goeie
ding uit verband te ruk! Die ironie is dat terwyl baie van hierdie manne hulle besorgdheid
oor die wet uitgespreek het, hulle “die swaarste van die wet” vergeet het: “die reg en die
barmhartigheid en die trou” (Matthéüs 23:23).

Hoe kan ons individueel en as ‘n kerk versigtig wees om dieselfde fout te maak
wat hierdie manne gemaak het nie, of dit met die Sabbat of met iets anders is wat
volgens ons vir dit wat ons glo, belangrik is?

Vrydag 13 Desember
Vir verdere studie:

Ellen G. White, “Vreugde in die Here,” bl. 115–126, in Skrede na Christus. “Terwyl hy God
se opdragte en waarskuwings voor hulle gestel het, en die skrikbarende oordele wat in die
verlede oor Israel weens hulle sondes gekom het, het hierdie Jode se gewetes hulle begin
pla, en het ‘n hervormingswerk begin wat God se dreigende gramskap afgeweer het en Sy
goedkeuring en seën teweeggebring het. Daar was sommige wat in die diens van die tempel
was wat gepleit het om hulle heidense vroue te behou omdat hulle nie kans gesien het om
van hulle te skei nie. Maar geen toegewings was gemaak nie; geen respek was vir rang of
posisie betoon nie. Wie ook al van die priesters of leiers geweier het om hulle verbintenisse
met die afgodedienaars te verbreek, was onmiddellik uit die diens van die Here verwyder.
‘n Kleinseun van die hoëpriester wat met ‘n dogter van die berugte Sanbállat getroud was,
was nie net uit sy pos verwyder nie, maar was onmiddellik uit Israel verban. ‘Dink aan
hulle, my God,’ het Nehemía gebid, ‘oor die bevlekking van die priesterskap en van die
verbond met die priesterskap en met die Leviete.’” — Ellen G. White, Prophets and Kings,
bl. 673-674, (vry vertaal).

Vrae vir bespreking:

1. Lees die aanhaling uit Ellen G. White hierbo. Deel jou gedagtes met die klas
oor wat Nehemía gedoen het, hoe hy geen uitsonderings gemaak het nie, selfs
teenoor hulle wie blykbaar hulle vrouens waarlik liefgehad het en nie van hulle
wou skei nie. Dink jy Nehemía was te reguit, te onbuigsaam, en dat hy maar ‘n
paar uitsonderings kon gemaak het? Hoekom of hoekom nie? Hoe kan die kerk
met liefde en begrip op hierdie gebied optree en terselfdertyd konsekwent wees om
nie God se standaarde te verlaag nie?

2. Alhoewel ons weet dat dit nie wetties is om die sewende dag as Sabbat te vier
nie – net soos dit nie wetties is om nie te begeer nie, nie te steel nie, of nie leuens
te vertel nie — hoe kan ons versigtig wees om nie sabbatsonderhouding (of
gehoorsaamheid aan enigeen van die ander gebooie) so te verander dat dit wetties
word nie? Hoekom is dit dat deur die kruis en dit wat Christus vir ons op die kruis
gedoen het gedurig voor oë te hou, die kragtigste beskerming teen die valstrik van
wettiesheid is?

3. Terselfdertyd, hoe kan ons onsself teen die gevare van geleidelike kompromieë
aangaan, beskerm, soos waarmee Nehemía te doen gehad het?