Les 12 *14 tot 20 Desember
Om slegte besluite te hanteer
Sabbatmiddag
Leesverwysings vir hierdie week se studie:
Nehemía 13:23–25; Deuteronómium 7:3, 4; II Korinthiërs 6:14; Esra 9, 10; I Korinthiërs
7:10–17.
Geheueteks:
“en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op
te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog.’ ”
(Esra 9:6).
Esra en Nehemía het leiers in gemeenskappe geword waar ondertrouery
met nie-Israeliete die norm geword het. Beide leiers was sterk daarteen
gekant, want hulle strewe was om die volk te lei om God persoonlik te
leer ken. Hulle was bewus van die negatiewe invloed wat ongelowiges
of afgodsaanbidders op die volk van Israel kon uitoefen, want hulle het
van die verskriklike gevolge wat dit op die volk van Israel deur die geskiedenis gehad
het, geweet. Die Kanaänitiese gelowe het deur Israel versprei totdat Baäl en Asjéra op
elke hoë heuwel aanbid was. Boonop was die invloed wat heidense huweliksmaats op
die Israelitiese gesinne gehad het, skadelik. Bíleam was seker van sy saak toe hy aan die
Moabiete die raad gegee het om hulle vroue na die Israeliete te stuur, want hy het geweet
dat die Israeliete hulle rug op God sou draai as hulle met hierdie vroue sou trou. Hy
was ongelukkig reg. Huweliksmaats beïnvloed nie net mekaar nie, maar hulle kinders se
geloof word ook daardeur geraak.
Hoe sou Esra en Nehemía Israel se ontertrouery hanteer? Sou hulle dit maar daar laat of
daarteen opstaan? Hierdie week gaan ons kyk hoe hierdie twee leiers hierdie vraagstuk
benader het.
*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 21 Desember.
Sondag 15 Desember
Nehemía se reaksie
Lees Nehemía 13:23–25. Wat gebeur hier, en hoe verstaan ons Nehemía se reaksie op
hierdie situasie?
Aangesien die kinders nie Aramees (die taal wat gedurende die ballingskap gepraat was)
of Hebreeus kon praat nie, kon hulle nie die leer van die Skrif verstaan nie. Dit was ‘n
groot probleem, want kennis van God se openbaring kon dus verdraai geword het en selfs
verdwyn het. Die skrifgeleerdes en priesters het meestal die Tora in Aramees bedien om
aan die volk die Woord duidelik te bring. Maar, aangesien die moeders wat van Ammon,
Asdod en Moab afkomstig was en oor die algemeen die primêre versorgers van die kinders
was, was dit nie ‘n verrassing dat die kinders nie die taal van hulle vaders kon praat nie. Die
taal wat ons praat beïnvloed die manier hoe ons oor konsepte dink, want ons gebruik die
woordeskat van daardie kultuur. Deur die Bybelse taal te verloor, sou beteken dat hulle hul
spesiale identiteit sou verloor het. Dus was dit vir Nehemía ondenkbaar dat gesinne voeling
met die Woord van God en gevolglik ook hulle verbintenis met die lewende God, die Here
van die Hebreërs, sou verloor het.
Bybelkenners dui aan dat die handelinge van Nehemía hoogs waarskynlik ‘n publieke
beskaming van die mense was wat deel van die voorgeskrewe strawwe van daardie tyd
was. Wanneer dit sê dat Nehemía met hulle getwis en hulle gevloek het, moet ons nie dink
dat Nehemía vuiltaal en kragterme gebruik het nie, maar liewer dat hy die vervloekinge
van die verbond oor hulle uitgespreek het. Deuteronómium 28 noem die vervloekinge
wat oor diegene sou kom wat die verbond verbreek het. Dit is baie moontlik dat Nehemía
woorde uit die Bybel gekies het om hulle tot die besef van hulle verkeerde handelinge en
die gevolge van hulle verkeerde keuses, te bring.
Boonop, wanneer die teksvers sê dat Nehemía “sommige van hulle geslaan en die hare
uitgetrek” het (Nehemía 13:25), moet ons in plaas van te aanvaar dat Nehemía woedend
was en met drif opgetree het, liewer kennis neem dat ‘n pakslae ‘n voorgeskrewe vorm
van publieke bestrawwing was. Hierdie soort optrede was net op “sommige” van hulle
toegepas, bedoelende die leiers wat hierdie verkeerde gewoontes veroorsaak en bevorder
het. Hierdie handelinge was die metodes van publieke beskaming. Nehemía wou seker
maak dat die volk die ernstigheid van hulle keuses moes verstaan en die gevolge wat daaruit
sou voortvloei.
Hoe behoort ons op te tree wanneer ons, volgens ons siening, verkeerde optrede in
die kerk waarneem?
Maandag 16 Desember
Nehemía se teregwysing
Lees Nehemía 13:26, 27. Wat toon hierdie verse aan ons oor hoe belangrik Bybelse
geskiedenis is om ons teen die gevare van afdwaling van die regte pad te waarsku?
Salomo het al hoe dieper in sonde verval deur die keuses wat hy gemaak het. Dit sou korrek
wees om te sê dat Salomo sy eie verval veroorsaak het deur sy verontagsaming van God se
opdragte aan die konings van Israel: “Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart
nie afwyk nie;” (Deuteronómium 17:17). Solomo se lewe word as ‘n negatiewe voorbeeld
gebruik: hy het nie net met meer as een vrou getrou nie, maar wat veelseggend is soos
Nehemía aandui, is dat hy vroue wat nie die ware God aanbid het nie, gekies het.
Hoekom was Nehemía korrek deur die volk te berispe omdat hulle met heidene
ondertrou het? Génesis 6:1–4; Génesis 24:3, 4; Génesis 28:1, 2; Deuteronómium 7:3,
4; en II Korinthiërs 6:14.
Die bevel om nie te ondertrou nie het nie oor nasionalisme gegaan nie, maar oor
afgodsaanbidding. Die mense in die Bybel het met nie-Israeliete getrou. Moses het met
Sippóra, ‘n Mídianitiese vrou, getrou; Boas het met Rut, ‘n Moabiet, getrou. Die probleem
met ondertrouery wat hier aangespreek word, het te doen om liewer nie met iemand te trou
wat anders as jy glo of glad nie glo nie. Die probleem was dat die mense in Esra en Nehemía
se tyd verkies het om liewer met ongelowiges te trou. Richard M. Davidson, in Flame of
Yahweh (Peabody, Mass.: Hendrickson Publishers, 2007), verklaar: “Die Edenplan se ideaal
vir huwelike . . . was ‘n aanvullende eenwording van twee maats wat dieselfde geestelike
geloof en ook ander belangrike waardes ingesluit het.” — Bladsy 316, (vry vertaal). Die
heidense vroue in hierdie verhaal het verkies om nie hulle afgodsaanbidding prys te gee nie.
Gevolglik was Nehemía meer hartseer as kwaad oor die keuses wat die volk gemaak het
omdat, volgens hom, dit ‘n gebrek aan algehele toewyding aan God getoon het.
Die Bybel gee aan ons formules vir praktyke wat ons in God sal anker en wat ontwerp is om
aan ons die hoogste geluk te verskaf. Terselfdertyd was die bevel om nie in dieselfde juk
met ongelowiges te trek nie bedoel om ons te help om gelukkiger te lewe en om wedersydse
toewyding aan God aan te moedig.
Watter beginsels kan ons uit vandag se boodskappe neem om ons te help om ons
en ons gesinne se geloof te beskerm?
Dinsdag 17 Desember
Esra reageer
Lees Esra 9. Hoe het Esra gereageer toe hy van die Israeliete se ondertrouery hoor?
Esra 9:1 en 2 sê dat die volk “hulle nie afgesonder” het nie. Soortgelyke woorde soos
“onderskeid, onderskei, skeiding en geskei” word ook in die volgende verse gebruik:
Levítikus 10:10; 11:47; Exodus 26:33; Génesis 1:4, 6, 7, 14, 18. Wat impliseer die
gebruik van die genoemde woorde met betrekking tot gelowiges wat met ongelowiges
trou?
Die volk het self met Esra oor die vraagstuk van ondertrouery gaan praat. Die terminologie
wat hulle gebruik het deur die verskillende nasies te noem wat in die gruwelikhede betrokke
was, het hulle kennis van die Tora aangedui, aangesien die lys van name uit die Bybel
geneem was. Dis interessant dat dit die owerstes was wat die nuus aan Esra oorgedra het,
want selfs die geestelike leiers van die volk, priesters en Leviete, was skuldig aan hierdie
oortreding.
“In hierdie studie oor die oorsake van die Babiloniese ballingskap, sien ons dat Esra geleer
het dat Israel se afval hoofsaaklik deur hulle vermenging met die heidense nasies veroorsaak
was. Hy het gesien dat as hulle God se bevel sou gehoorsaam het om hulle van die nasies
rondom hulle af te sonder, hulle baie hartseer en vernederende ondervindinge gespaar sou
gewees het. Toe hy nou hoor dat nieteenstaande die lesse uit die verlede, belangrike manne
gedurf het om die wette wat hulle teen afvalligheid beskerm het, te oortree, het dit hom
diep geraak. Hy het aan God se goedheid gedink wat aan Sy volk weer ‘n vastrapplek in
hulle geboorteland gegee het, en hy was met regmatige verontwaardiging en met droefheid
oor hulle ondankbaarheid vervul.” — Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 620, (vry
vertaal). Die woord “afsonder” word vir teenoorgestelde entiteite gebruik. Feit is, dit dui
op algehele teenoorgesteldes. Deur hierdie verklaring het die volk ‘n reedsbestaande begrip
en kennis van God se bevel om van valse godsdienste weg te bly, erken. Hulle het verstaan
dat niemand sou kon sê dat hy of sy met ‘n eggenoot van ‘n teenoorgestelde geloof sou kon
trou sonder dat dit nie hulle huweliksverhouding sou beïnvloed het of hoe hulle hul kinders
sou grootmaak nie. Hulle het die ernstigheid van die situasie besef.
Wat kan ons doen om ons geloof in ons huise en gesinne te versterk, selfs al het
ons verkeerde besluite in die verlede gemaak?
Woensdag 18 Desember
Esra tree op
Lees Esra 10. Hoe het Esra en die owerstes die vraagstuk van ondertrouery benader?
Die hele vergadering het besluit om die buitelandse vroue weg te stuur. Dis verbasend dat
selfs hulle wat met hierdie vroue getroud was tot hierdie plan ingestem het, behalwe vir
die vier manne wie se name in Esra 10:15 genoem word. Die Jode het belowe om hulle
eggenotes weg te stuur, en dit het drie maande geneem om hierdie plan uit te voer. Op die ou
end het 113 Joodse manne hulle vroue weggestuur (Esra 10:18–43). Interessantheidshalwe,
die laaste vers (Esra 10:44) verklaar dat sommige van hierdie gemengde huwelike reeds
kinders ingesluit het. Deur die moeders van gesinne met kinders weg te stuur, klink nie vir
ons rasioneel of reg nie. Maar, ons moet onthou dat hierdie ‘n unieke tyd was toe God met
die Joodse nasie oorbegin het, en, in ‘n sekere sin, hulle met Hom. Om God ten volle te
volg, vereis radikale maatreëls.
Die spesifieke woorde wat in Esra 10:11 en 19 gebruik word vir “sonder julle af” (badal)
en “wegstuur” (yatza’) word nêrens anders in die Skrif vir egskeiding gebruik nie. Esra sou
die terminologie vir egskeiding wat gereeld in gebruik was, geken het, maar hy het gekies
om dit nie hier te gebruik nie. Dit is dus duidelik dat Esra hierdie huwelike as ongeldig
geag het nadat dit ontdek was dat die wet van die Tora daardeur oortree was. Met ander
woorde, die huwelike was ongeldig verklaar omdat dit teen die wet was. Die proses wat
gevolg was, was die ontbinding van ongeldige huwelike. Maar, daar word nie gesê wat met
daardie vroue en kinders gebeur het nie, en watter uitwerking dit op die gemeenskap gehad
het nie. Volgens die gewoontes van daardie tyd sou die mans na die verplasing van hulle
vorige vroue en hulle kinders omgesien het. Die vroue het gewoonlik na hulle vaderhuise
teruggekeer.
Maar, na verloop van tyd, het sommige van die Joodse mans weer met ongelowiges in die
huwelik getree, en waarskynlik het sommige selfs na die vroue wat hulle weggestuur het,
teruggegaan. Die verbygaande aard van die oplossing kan aan die menslike natuur en ons
wisselvallige siklus van ons toewyding aan God, toegeskryf word. Selfs diegene van ons
wat onsself as toegewyde gelowiges sien, moet erken dat ons deur tye gaan wanneer ons
minder toegewyd aan God is, en wanneer ons verhouding met Hom as gebrekkig beskryf
sou kon word. Ongelukkig sukkel die mensdom om God eerste te plaas.
Hoe het jy jou tye van “minder toegewyd wees aan God” ondervind? Wat het jy
uit daardie ondervindinge geleer?
Donderdag 19 Desember
Die hedendaagse huwelik
Volgens die vraagstuk oor gemengde huwelike in Esra en Nehemía is dit duidelik dat God
die huwelik baie ernstig beskou, en dat ons dit ook moet doen. Ons behoort ‘n potensiële
huweliksmaat biddend te oorweeg, en God insluit in ons besluitneming. En ons behoort
te besluit om getrou aan God se beginsels te bly, want dit kan ons teen groot hartseer en
ongelukkigheid beskerm.
Slaan na hoe Paulus dieselfde vraagstuk hanteer het toe ‘n Christen ‘n ongelowige
eggenoot gehad het. Bestudeer I Korinthiërs 7:10–17 deeglik. Hoe behoort ons
huwelike met ongelowige huweliksmaats in ons tyd te benader?
Omdat ons nie ‘n uitvoerige bevel in die Bybel het oor hoe ons interkerklike ondertrouery
moet hanteer nie, sou dit baie onverstandig en teen die bedoeling van die teksvers se riglyne
wees om daarop aan te dring dat dit, volgens die geval in Esra, reg is om van ‘n ongelowige
eggenoot te skei, en daarom aanbeveel moet word. Die Esra-Nehemía situasie was ‘n
eenmalige gebeurtenis en volgens God se wil (Esra 10:11), want die toekoms van die hele
gemeenskap van Israel en hulle aanbidding was op die spel. Hulle was besig om hulle
identiteit as aanbidders van die lewende God, te verloor.
Ons weet dat die owerstes van die Joodse Elefantynse nedersetting in Egipte (van dieselfde
tydvak as Esra en Nehemía) gemengde huwelike toegelaat het, wat baie gou in ‘n gemengde
godsdiens tussen die aanbidding van Yahweh en die heidense godin, Anat, ontaard het.
Daarby was die Messiaanse afstamming ook in gevaar. Daarom kan hierdie eenmalige
gebeurtenis nie as ‘n voorskrif vir die beëindiging van huwelike tussen gelowiges en
ongelowiges, en die opbreek van gesinne, gebruik word nie. In plaas daarvan demonstreer
hierdie verslag die hoë waarde wat God op huwelike plaas waar altwee die persone aan
dieselfde geloof behoort. Satan is baie gelukkig wanneer ons met ‘n persoon getroud is
wat nie toewyding aan God aanmoedig nie, want hy weet dat indien altwee die eggenotes
dieselfde oortuigings het, hulle dan kragtiger sendingwerk vir God sal kan doen as wanneer
net een ‘n gelowige is.
Terwyl die Bybel baie duidelik raad gee om nie in dieselfde juk saam met ongelowiges
te trek nie (II Korinthiërs 6:14), vind ons ook skrifgedeeltes waar verlengde genade aan
diegene wat verskillende keuses gemaak het, toegestaan word. God gee krag en help hulle
wat met ongelowiges getroud is om getrou aan Hom en aan hulle eggenotes te bly. God
verlaat ons nie, al maak ons keuses wat teen sy wil is, en as ons vir hulp vra, sal Hy hulp
voorsien. Dit beteken nie dat ons net kan doen wat ons wil nie, en dan verwag dat God ons
in elk geval sal seën nie, maar liewer dat wanneer ons na Hom in nederigheid kom met ‘n
versoek, Hy ons altyd sal verhoor. Sonder God se genade sal daar geen hoop vir enigeen
van ons wees nie, want ons is almal sondaars.
Vrydag 20 Desember
Vir verdere studie:
Ellen G. White, “Reformation,” bl. 669-678, in Prophets and Kings. “Om ‘n Godgegewe
taak met ywer aan te pak, is deel van ware toewyding. Die mens behoort as God se werktuie
geleenthede aan te gryp om Sy wil te doen. Stiptelikheid en besliste optrede op die regte
tyd sal glorieryke seges behaal, terwyl uitstel en nalatigheid mislukking tot gevolg sal hê,
en God oneer sal aandoen. As die leiers geen ywer vir die saak van die waarheid toon nie,
as hulle onverskillig en doelloos is, sal die kerklede nalatig, traag en lief vir plesier wees;
maar as hulle met ‘n heilige doel gevul is om God en Hom alleen te dien, sal die kerklede
verenig, vol hoop en ywerig wees. “Die Woord van God is vol deurdringende en treffende
kontraste. Sonde en heiligheid word langs mekaar geplaas, sodat deur aanskouing ons die
een sal afkeur en die ander een sal aanvaar. Die bladsye wat die haat, valsheid en verraad
van Sanbállat en Tobía beskryf, vertel ook van die edelheid, toewyding en selfopoffering
van Esra en Nehemía. Dit hang van ons keuse af wie ons wil naboots. Die vreeslike
resultate wat die oortreding van God se bevele tot gevolg het, word teenoor die seëninge
wat volg op gehoorsaamheid, geplaas. Ons moet self besluit of ons die gevolge van die een
moet ly, of die seëninge van die ander moet geniet.” — Ellen G. White, Prophets and Kings,
bl. 676, (vry vertaal).
Vrae vir bespreking:
1. Terwyl ons hierdie verhale lees, word dit duidelik dat baie van die mense van
die begin af nie aan God toegewyd was nie, en dit is hoekom hulle heidense vroue
gekies het. Esra skryf hulle egter nie sommer net af nie, maar probeer om hulle te
bestraf en reg te help met die hoop dat dit verandering teweeg sal bring. Het die
verandering egter regtig plaasgevind? Deur hulle optrede te verander, het hulle
innerlike verander? Het hulle toewyding aan God waarlik gegroei? Watter bewys
het ons dat baie van hulle nie regtig verander het nie? Wat kan ons leer uit hulle
foute oor hoe belangrik ‘n hartsverandering werklik is?
2. Op watter maniere kan ons diegene in ons kerk help wat met probleme van
onverstandige keuses van huweliksmaats, worstel?
3. Alhoewel God se beginsels ewig en volmaak is, verskil kulture baie. Hoekom
moet ons hierdie verskille in gedagte hou wanneer ons probeer om God se beginsels
op ons eie lewens en situasies toe te pas?