Les 13 *21 tot 27 Desember
Leiers in Israel
Sabbatmiddag
Leesverwysings vir hierdie week se studie:
I Konings 12:1–16; Handelinge 15:7–11; Johannes 11:46–53; Nehemía 4:7–23; Esra
8:21–23, 31, 32.
Geheueteks:
“Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde
te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is.”
(Nehemía 8:13).
Beide Esra en Nehemía is voorbeelde van groot leiers wat aan God toegewyd
was en om die take waarvoor die Here hulle geroep het, uit te voer. Hulle
liefde vir God het ‘n begeerte in hulle laat ontstaan om getroue dienaars te
wees. Feit is, hulle getrouheid was deel van die kern van ons studie. Hierdie
week gaan ons na voorbeelde van leierskap in die Bybel kyk wat ook Esra
en Nehemía insluit. Hierdie lesse is verseker nie volledig nie, want daar is nog baie meer
wat bespreek kan word. Maar, die lesse wat gekies was, is noodsaaklik vir enige leier.
Jy mag miskien jouself nie as ‘n leier op hierdie stadium van jou lewe sien nie, maar ons
almal het ‘n invloed op sommige mense; daarom is die lesse op almal van toepassing.
In die middel van die verhaal van hierdie leiers, vind ons die Woord van God. Die Woord
het hulle denke en lewens verander en dit het ‘n volledige plan vir herlewing en hervorming
tot gevolg gehad. Hulle was alles aan God se Woord en sy voorskrifte wat hulle daarin
gevind het, verskuldig. Ons, maak nie saak wie ons is en watter rol ons vervul nie, moet
ook op dieselfde wyse die Woord van God die middelpunt van hoe ons as SewendedagAdventiste Christene lewe, maak.
*Bestudeer hierdie week se les as voorbereiding vir Sabbat, 28 Desember.
Sondag 22 Desember
Die invloed wat leiers het
Regdeur die Bybel vind ons voorbeelde van beide goeie en slegte leiers, en soms selfs ‘n
mengsel van altwee. Slegte leiers het soms goeie dinge gedoen, terwyl goeie leiers soms
slegte dinge gedoen het. Per slot van rekening, alle leiers is mense en is dus beide in staat
tot goed en kwaad, om beide reg en verkeerd te doen. Wie het nog nie hierdie werklikheid
in hulle eie lewens ondervind nie?
Die probleem is egter dat wanneer jy ‘n leier is, jy groot invloed uitoefen, òf goeie òf slegte
invloed. Dit is sleg genoeg om ‘n negatiewe invloed in jou eie huis of werkplek uit te oefen,
of waar jy ook al teenwoordig is. Maar wanneer jy in ‘n leierskap-posisie is, òf dit geestelik,
polities, of albei is, is jou invloed baie groter. Hoe uiters belangrik is dit dan, wat jou rol
ook al is, maar veral as jy ‘n leier is, dat jy die beginsels van die Skrif en wat dit ons leer,
weerspieël.
Slaan die volgende teksverse na. Watter tipe voorbeelde van leierskap vind ons hier?
Indien dit goed is, verduidelik hoekom dit goed is. Indien dit sleg is, verduidelik
hoekom dit sleg is.
Rehábeam (I Konings 12:1–16)
Petrus (Handelinge 15:7–11)
Josía (II Konings 23:1–10)
Debóra (Rigters 4:1–16)
Agab (I Konings 21:1–16)
Alhoewel ons net vlugtig hierna gekyk het, watter lesse kan ons uit hierdie verhale
oor goeie en slegte leierskap neem, en hoe kan ons wat ons hieruit geleer het op
onsself, watter rol ons ook al vervul, toepas?
Maandag 23 Desember
Hoe die Here die kwaad sien
Lees die volgende teksverse. Wat sê dit aan ons oor hierdie leiers en hoe hulle die
mense oor wie hulle geheers het, beïnvloed het?
I Konings 15:26, 34
II Konings 13:1–3
Johannes 11:46–53
Dit is ‘n ernstige gedagte vir baie van ons wat enige soort leierskap-posisie beklee, dat ons
leierskap moontlik mense òf geestelik kan opbou òf afbreek. In al die gevalle hierbo was
die resultaat uiters negatief. Om dit meer spesifiek te maak, ons karakter en ons toewyding
aan Christus maak ‘n verskil in diegene se lewens met wie ons omgaan. Geestelike leiers
beïnvloed andere en bring hulle òf nader aan God indien hulleself na Hom soek, òf nader
aan die kwaad indien hulle God nie soek nie.
In teenstelling met wat ons hierbo gesien het, is die feit dat Esra en Nehemía ‘n sterk
verhouding met God gehad het, onweerlegbaar. Die tye wat Esra en Nehemía gevas en
gebid het wat in hierdie boeke genoem word, is meer as wat die Bybel van enige ander groot
leiers meld. Die volk het gedurende hulle leierskap met God gewandel, selfs al het alles nie
altyd glad verloop nie. Die rigting waarin hulle beweeg het, was nader aan God. Aan die
ander kant, die feit dat daar diegene was wat nie deur Esra en Nehemía se invloede geraak of
verander was nie, bevestig dat net ons eie geloof uiteindelik die verskil in ons lewens maak.
Per slot van rekening, as ons na die mense kyk wat die kans gehad het om Jesus in die vlees
te sien, wat Hom hoor preek het en selfs sy wonderwerke beleef het, of daarvan gehoor het,
sien ons hoe hulle Hom tog op die ou einde verwerp het. Ja, ons het ‘n rol om te speel, en
ons invloed, in watter posisie ons ook al beklee, kan òf goed òf sleg wees. Maar op die ou
einde sal elke persoon self voor God antwoorde moet verskaf.
Dink na oor die mense in jou eie invloedsfeer. Op watter maniere kan jy jou
invloed verbeter?
Dinsdag 24 Desember
Durf en bemagtiging
Lees Nehemía 4:7–23. Op watter maniere het Nehemía getoon dat hy vol durf is? Wat
het hom so dapper gemaak?
Nehemía het teen die Jode se vyande wat probeer het om hulle te intimideer, opgestaan.
Hy het gereageer deur die inisiatief te neem om die volk slaggereed te maak. Hy het nie
gesê, “Ek laat dit aan u oor, o God”, nie. Hy het gesorg dat die volk ook hulle deel doen.
Hulle het hulleself met swaarde en ander wapens toegerus en terselfdertyd die muur gebou
het. Die Jode, onder die leierskap van Nehemía, het nie vreesagtig ineengekrimp nie, maar
liewer onbevrees hulle wapens gebruik om hulleself te beskerm. Nehemía het die volk
moed ingepraat, in hulle geglo, saam met hulle gewerk, en aan hulle die verantwoordelik
gegee om op te tree. Hy het hulle bemagtig om die werk te doen deur verantwoordelikhede
aan hulle te delegeer en toe te ken. Maar, Nehemía het nie aan die volk gesê wat hulle moet
doen en toe in sy kamer gaan wegkruip nie. Hy het langs hulle gestaan en hard gewerk om
die werk wat gedoen moes word, klaar te maak.
In die Bybel was daar tye toe God vir sy volk gesê het hulle moet stilstaan en kyk hoe Hy
namens hulle sal veg, en dan was daar ander tye toe God gesê het, “Berei voor, en Ek sal
aan julle die oorwinning gee.” Ons moet ons deel doen indien ons God se reddingswerk en
seëninge wil ondervind. “Nehemía se ferme toewyding aan die werk van God, en net so ook
sy ferme afhanklikheid van God, was die rede hoekom sy vyande nie daarin kon slaag om
hom te oorweldig nie. Die mens wat laks is, word ‘n maklike prooi van versoeking; maar
in die lewe van iemand wat ‘n edele doelwit het, ‘n boeiende plan van aksie, kry die kwaad
geen vatplek nie. Die geloof van die persoon wat aanhoudend groei, word nie swakker nie;
want hy erken die Oneindige Liefde in alles wat alles ten goede laat meewerk, vir hulle wat
na Sy voorneme geroep is. God se ware diensknegte werk met ‘n vasbeslotenheid wat nie
sal verswak nie, want hulle is gedurig van die troon van genade afhanklik.” — Ellen G.
White, Prophets and Kings, bl. 660, (vry vertaal).
Op die ou einde het Nehemía sy moed en durf uit sy begrip van die werklikheid van God
se krag, geput. En tog, soos wat ons gesien het, het sy kennis van God hom beweeg om
volgens sy geloof op tree.
Alhoewel die konteks verskil, hoe weerspieël die volgende teksvers dit wat ons
in Nehemía gesien het: “Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke.
Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.”
(Jakobus 2:18)?
Woensdag 25 Desember
Doelwit en passie
Wat leer die volgende verse ons oor die dryfkrag in die lewens van beide Esra en
Nehemía? (Nehemía 2:1–10, Esra 7:8–10).
In alles wat hulle gedoen het, het Esra en Nehemía gepoog om toe te sien dat God se wil
in die lewens van sy volk, uitgevoer word. Ja, die volk het verkeerd gedoen; ja, hulle was
daarvoor gestraf. Maar God wat getrou aan sy beloftes van herstel is, het die pad vir sy volk
oopgemaak om na die Beloofde Land terug te keer, en indien hulle getrou sou wees, om die
doelwitte wat Hy vir hulle in gedagte gehad het, te bereik. En die Here, in sy wysheid, het
twee baie toegewyde manne gekies, manne wat nogal aan Moses herinner, om ‘n vername
rol in hierdie herstellingsproses te speel, net soos Hy ook vir Moses in die vorige geslagte
vir ‘n spesiale taak gebruik het.
Groot leiers soos hierdie twee manne, het almal doelwitte. Hulle lewensdoele is die dryfkrag
vir elke handeling wat hulle uitvoer. Dit kan ook gesê word dat beide Esra en Nehemía ‘n
doelwit gehad het. Hulle het ‘n visie gehad van wat die volk van God moes bereik, en
daarom het hulle alles gedoen om die einddoel te bereik. Esra het dit gedoen deur die Skrif
te bestudeer en die volk daarvolgens te leer. Nehemía het die mense aangemoedig om te
doen wat reg is, en om God vreesloos te verteenwoordig. Beide manne wou ‘n herstelde
Jerusalem gesien het, maar nie net die geboue nie. Hulle wou ook ‘n geestelike herlewing
en hervorming in die lewens van die inwoners gesien het. Dit is hoekom hulle tereggewys,
berispe en soms beveel het dat ‘n sekere procedure gevolg moes word. Groot leiers glo
in iets groter as die gewone en die middelmatige. Esra en Nehemía het in ‘n liefdevolle,
magtige God geglo, ‘n God wat wonderwerke kon doen – en hulle wou hê dat almal ‘n
intieme verhouding met Hom moes hê.
Reeds in die eerste hoofstuk van Nehemía word die leser met Nehemía se toewyding aan
God se saak en ook sy besorgdheid oor die benarde toestand van sy mense, beïndruk. In
hoofstuk 1 ween hy toe hy hoor van die ontberinge van die Israeliete in Juda. Hy val op sy
knieë en belowe om te doen wat God hom sou vra om te doen. Dit kom voor of Nehemía
aangespoor was deur die gedagte om ‘n verskil in die wêreld teweeg te bring. Hy was ‘n
man van daad, veral vir God se saak. Dit was nie om die hoogste salaris te verdien of om ‘n
uitmuntende pos te beklee dat Nehemía gekies het om ‘n verskil te maak nie (alhoewel hy
beide in Persië gehad het), maar om na Juda te gaan na ‘n nie-so-voorspoedige nasie, met
teenstand om elke draai. Hy het in geloof opgetree, afgesien van die struikelblokke wat op
hom gewag het.
Donderdag 26 Desember
Nederigheid en volharding
Lees Esra 8:21–23, 31, 32. Sou jy Esra se besluit om nie met die koning te praat nie as
dwaas of dapper sien? Hoe het Esra en sy mense nederigheid getoon?
Later het Nehemía die koning se aanbod van beskermingsbegeleiding aanvaar. Maar Esra
het geglo dat God alleenlik tot Sy reg sou kom indien hy nie vir die koning om hulp sou
vra nie. Daarom, toe hulle Juda veilig bereik het, was die eer aan God alleen gegee. Dalk
steun ons in sekere situasies te veel op ander mense en laat dan nie toe dat God aan ons toon
hoe Hy ons kan help nie. Esra het gekies om God toe te laat om in hierdie situasie die werk
te doen, en toe aan die koning bewys dat hy inderdaad ‘n magtige God dien. Maar, Esra
het nie aanmatigend opgetree nie. Hy het die mense saamgeroep en hulle het oor hierdie
situasie gevas en gebid. Hulle het nie met hulle reis begin voordat hulle nie in alle erns tyd
saam met God deurgebring het nie. Hulle het hulleself voor God verneder en gevra dat Sy
beskerming as ‘n teken van sy mag gesien sou word, en God het hulle verhoor.
Lees Nehemía 5:14–19. Hoe het Nehemía nederigheid getoon?
Ware leiers moet gewillig wees om hulleself te verneder en om as dienaars op te tree.
Bekwame leiers het nie ‘n “titel” nodig om hooggeag te word nie. Nehemía was altyd
beskikbaar en vrygewig met sy dienslewering aan die mense. Hy het sy geloof in God
gedemonstreer, en sy ongelooflike toewyding aan God was ‘n voorbeeld vir die mense. Hy
het ‘n sterk persoonlikheid en ‘n onselfsugtige temperament gehad, en hy het homself nie
hoër as ander geag het nie. Hy het die hoogste pos in die Joodse nasie gedurende daardie
tyd beklee, en tog was hy ruimhartig. Op hierdie manier het hy die lewe en leer van Jesus
weerspieël wat ons leer dat die beste manier om te lei, is om ander te dien. Jesus het dit
gedoen, en daarom moet ons, afgesien van ons rang, dieselfde doen.
“En toe Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: ‘As iemand die eerste
wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.’” (Markus 9:35).
Wat leer Jesus se woorde ons hier oor wat dit beteken om ‘n ware leier volgens
God se siening, te wees?
Vrydag 27 Desember
Vir verdere studie:
Lees Ellen G. White, “Die Voorreg van Gebed,” bl. 93-104, in Skrede na Christus. “Die
werk van restourasie en hervorming deur die bannelinge wat onder die leierskap van
Serubbábel, Esra en Nehemía teruggekeer het, is ‘n uitbeelding van die werk van geestelike
herstel wat aan die einde van hierdie wêreld se geskiedenis moet plaasvind. Die oorblyfsel
van Israel was kragteloos en swak, blootgestel aan plunderaars, hulle vyande; maar God het
ten doel gehad om deur hulle ‘n kennis van Homself en van sy wet op die aarde te bewaar.
Hulle was die bewakers van ware aanbidding, die bewaarders van die heilige Godsprake.
‘n Verskeidenheid van ondervindinge het hulle te beurt geval terwyl hulle die tempel en die
muur van Jerusalem herbou het; sterk was die teenstand wat hulle moes verduur. Swaar
was die leiers se laste in hierdie werk; maar hierdie manne het met onwrikbare sekerheid
voorwaarts beweeg, met ‘n nederige gees en ‘n vaste vertroue op God, met geloof dat Hy sy
waarheid sou laat triomfeer. Soos Koning Hiskia het Nehemía ‘die Here aangehang sonder
om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou … En die Here was met hom;’ II Konings
18:6, 7.” — Ellen G. White, Prophets and Kings, bl. 677, (vry vertaal).
Vrae vir bespreking:
1. Waarom moet ons alles in ons vermoë, soos vir God, doen om ons leiers te
ondersteun?
2. Waarom is die diensknegleierskapstyl so moeilik, veeleisend en terselfdertyd
lonend? Waarom is dit so belangrik vir ‘n Christenleier om ook ‘n dienskneg te
wees?
3. In die begin en aan die einde van die boek, en ook tussenin, het Nehemía gebid.
Beide Esra en Nehemía was manne van gebed. Tel versigtig hoeveel keer die
woord “gebed” in die boeke van Esra en Nehemía genoem word. Hierdie leiers
het gedurigdeur gebid. Wat behoort dit aan ons oor ons eie gebedslewe te sê?
4. “Ja, hy het die Here aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie
onderhou wat die Here Moses beveel het.” (II Konings 18:6). Wat beteken “hy het
die Here aangehang”? Hoe doen ‘n mens dit? Wat het om die Here aan te hang,
met die hou van sy gebooie te doen?